Hoe om geld oor die naweek te spaar

Vrydag, Junie 17th, 2016

Tinus Vollgraaff

 

 

Heimlik leef ons almal vir naweke. Die dae waarop ons op baie vlakke onbevange kan voel en nie oor werk hoef te bekommer nie.

Alhoewel dit die dae van vryheid in ons sewe-dag sleursiklus is, is dit ook dae van bandeloosheid wanneer dit by geld kom. Want terwyl werk ons daarvan weerhou om tussen Maandag en Vrydag klakkeloos te spandeer, gee Saterdae en Sondae ons genoeg tyd om deur winkels te snuffel, meer sosiale en onstpanningsdinge te doen en geld uit te gee wat ons nie regtig het nie.

Alhoewel dit feitlik onmoontlik is om alle naweekspandering te elimineer, is daar ʼn paar wenke oor hoe om daarop te besnoei en in die proses geld te spaar:

 

Stel ʼn naweekbegroting op

Dis lastig om ʼn begroting op te stel, maar as jy ernstig is om te bespaar is dit ʼn noodsaaklike taak. Persoonlike finansiële blogger David Carlson raai ons aan om die kontantmetode te probeer om te begroot. “Stel jou begroting op vir elke naweek, maar gebruik net kontant. As die kontant opraak, kan jy in daardie naweek nie nog spandeer op vermaak of restaurante nie.

“Om jou begroting in kontant te hê skep ʼn fisiese buffer teen besteding. Dit word baie meer werklik as ʼn syfer op ʼn werkblad of ʼn syfer in jou kop.”

 

Onthaal tuis

Een van die duurste dinge oor die naweek is om uit te gaan. Kos en drankies kos ʼn fortuin, bedieningsgeld by stadions en klubs is giftig, en dan is daar die rit daarheen met brandstof wat al hoe duurder word.

So wat doen jy as jy nie die rugby in die stadion of ʼn fliek in die teater kan gaan kyk nie? Natuurlik onthaal jy tuis. Maya Kachroo-Levine, redaksionele assistent by die finansiële webwerf The Financial Diet, stel voor dat jy gasheer speel vir ʼn laat-ontbyt aan huis. “En laat almal iets bring. Dit kan op kort kennisgewing wees want al wat jy hoef te doen is om ʼn vinnige e-pos of groepteks uit te stuur om te sê jy is die gasheer, sal een tot drie disse maak en die alkohol voorsien, en dan almal te vra om iets saam te bring.”

Carlson bied ook wyse raad aan in dié verband: Gaan slegs een aand oor die naweek uit. “Om hierdie klein veranderinkie te maak kan jou potensieel ʼn aansienlike bedrag spaar. As jy elke naweek op Vrydag en Saterdag moet uitgaan, maak klein veranderinkies om minder te spandeer. Bestel goedkoper kos en drankies in restaurante. Moenie koeldrank en versnaperings by die fliek koop nie.”

 

Ontspan gratis (of amper gratis)

“Benut gratis ontspanning. Gaan parkie toe of kyk in die koerant vir gratis gebeurlikhede wat in die stad aangebied word. Gebruik die buitelug, dis gratis!” skryf Erik Folgate, bydraer tot die persoonlike finansies webwerf Money Crashers.

Jy kan die plaaslike biblioteek besoek, gaan draf of saam met jou vriende sokker speel op jou naaste sportveld of net tuis flieks kyk. Die geleenthede is eindeloos!

 

Beplan jou besteding

Jy kan nie vir altyd inkopiesentrums, restaurante en winkels op Saterdae en Sondae vermy nie en jy hoef ook nie. Die geheim is om nie soontoe te gaan sonder ʼn doel of ʼn plan nie. Folgate beveel aan dat jy begin deur jou kredietkaart uit jou beursie te haal voordat jy die huis verlaat. Dit sal ʼn limiet op jou besteding plaas en jou nie later met skuld opsaal nie.

Daarbenewens, sê hy, behoort ons nie inkopies te gaan doen sonder ʼn lysie nie of om met die oë te koop nie. “Ons eindig altyd op deur goed vir die huis te koop wat ons nie nodig het nie of klere waarvoor ons nie begroot het nie.”

 

Bronne:

Breaux, A. n.d. “How to save money: 6 tips for planning a spending-free weekend. http://www.apartmenttherapy.com/how-to-save-money-6-tips-for-planning-a-spendingfree-weekend-208630.

Carlson, D. 2016. “How to save money on weekends”. http://www.feex.com/blog/how-to-save-money-on-the-weekend/.

Folgate, D. “Avoid spending too much money on the weekend”. http://www.moneycrashers.com/avoid-spending-too-much-money-on-the-weekend/.

 

Kachroo-Levine, M. 2015. “9 specific ways to save money this weekend”. http://thefinancialdiet.com/9-specific-ways-to-save-money-this-weekend/

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170