Hier’s al die antwoorde op basiese geldvrae

Dinsdag, Oktober 11th, 2016

Wat is die verskil tussen ’n pensioenfonds, voorsorgfonds (provident fund) en uittreeannuïteit?

’n Pensioenfonds, voorsorgfonds en uittreeannuïteit (UA) is al drie spaarmediums vir aftrede en word deur die Wet op Pensioenfondse (Wet 24 van 1956) gereguleer. Iemand kan slegs deur sy of haar werkgewer aan ’n pensioenfonds of voorsorgfonds behoort. ’n Pensioenfondslid se bydraes is belastingaftrekbaar (sekere limiete is van toepassing) en het belastingimplikasies by aftrede. ’n Lid mag ’n maksimum van een derde van sy of haar pensioenfonds by aftrede onttrek en die res moet herbelê word vir ’n maandelikse inkomste. ’n Voorsorgfonds se bydraes is nie belastingaftrekbaar nie, maar by aftrede geld die eenderde-reël nie.

’n UA word gesien as ’n persoonlike pensioenfonds en is gewild onder persone wat geen pensioenfonds by die werk het nie, of wat bykomend tot hul pensioen- of voorsorgfonds wil spaar. Die belastingaftrekking van ’n UA se bydraes is ook iets wat baie voordelig benut kan word. ’n Lid van ’n UA kan slegs ná die ouderdom van 55 tot die geld toegang kry, wat verskil van die eersgenoemde fondse, waaruit ’n lid ’n belasbare onttrekking kan maak as hy of sy van werk verander.

*Baie ander aspekte speel ook ’n rol.

 

Waar is die beste plek om my geld te belê?

Hierdie vraag se antwoord sal vir elke individu verskil omdat elke individu se behoeftes anders is. Die beleggingswêreld bied ’n groot verskeidenheid beleggingsopsies en bateklasse, wat sommige mense verwarrend kan vind. Bateklasse, soos aandele (plaaslik en buitelands), staatseffekte, geldmarkinstrumente en eiendom, genereer op verskillende maniere opbrengste vir die belegger en gaan met verskillende risiko’s gepaard. Dit is dus baie belangrik om mooi te verstaan hoe elke belegging gestruktureer is, waar die geld belê word, watter gelde en/of kommissie daarvoor betaal word, watter opbrengste verwag kan word en, natuurlik, wat die risiko’s is. Die beleggingswêreld is interessant en kan maklik verstaan word as die nodige vrae gevra word.

 

Wat is die belangrikste aspek van my persoonlike finansiële beplanning?

Jou begroting.

 

Hoe gereeld moet ek my finansiële situasie ondersoek?

Jy moet ten minste een keer per jaar ’n omvattende finansiële analise deur ’n finansiële deskundige laat doen. Vind uit of jou risikodekking (lewensversekering en dies meer) nog voldoende is om jou behoeftes en risiko’s te dek, of jou belegging nog in die regte fondse belê is volgens jou behoefte, en of veranderinge in jou persoonlike lewe plaasgevind het wat moontlik ’n uitwerking op jou finansiële situasie kan hê.

 

Hoekom het ’n mens lewensdekking nodig?

Die antwoord op hierdie vraag sal van persoon tot persoon verskil. Jy moet vir jouself die vraag vra: “As ek more tot sterwe kom, watter finansiële implikasies sal dit hê vir die mense wat ek agterlaat?” Die antwoord hierop kan wees om:

  • jou skuld af te betaal;
  • vir jou gade ’n inkomste te los sodat sy of hy die uitgawes kan dek waarvoor jy verantwoordelik was;
  • te betaal vir jou kinders se onderrig; of
  • likiditeit in jou boedel te skep.

 

My grootste risiko is as ek nooit weer kan werk nie. Wat kan ek doen om my teen hierdie risiko te beskerm?

Die eenvoudigste manier om jou teen hierdie risiko te beskerm, is om ongeskiktheidsdekking deur ’n groot versekeraar uit te neem. Die onderskeie versekeraars se produkte verskil ietwat van mekaar en dit is belangrik om presies te weet waarvoor jy ’n geldige eis sal hê en waarvoor nie. Oorhoofs kry mens enkelbedrag-ongeskiktheidsdekking wat ’n eenmalige bedrag sal uitbetaal as jy ongeskik verklaar word, en ’n maandelikse ongeskiktheidsvoordeel wat vir jou ’n inkomste sal betaal vir die duur van jou ongeskiktheid. Dit is baie belangrik om die fyn skrif van hierdie tipes voordele te verstaan en om seker te maak die versekeraar het ’n goeie reputasie met betrekking tot die betaling van eise.

 

Die poliskontrakte vir my lewens- en ongeskiktheidsdekking is baie lank en ingewikkeld. Waarna moet ek spesifiek kyk?

  • Die premiepatroon, met ander woorde, hoe vinnig jou premie sal opgaan en of dit aan iets spesifiek (byvoorbeeld, mediesefonds-eise, inflasie of oefenpatrone) gekoppel is.
  • Of jy jaarliks sekere vereistes moet nakom om jou voordele te behou.
  • Watter, indien enige, uitsluitings of voorwaardes aan die polis gekoppel is.
  • Of onderskywing tydens die eisestadium plaasvind, met ander woorde, moet jy vir mediese toetse gaan en mediese vrae beantwoord sodra jy eis, of is dit by die aanvang van die polis gedoen?
  • Of jou voordele los van mekaar is, met ander woorde, sal jy sekere voordele verloor as jy ’n eis ten opsigte van ander voordele instel?

 

Bron: Solidariteit Finansiële Dienste

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170