Het jy regtig ’n finansiële plan?

Woensdag, Oktober 28th, 2015

Neal Frankle

 

Jy dink dalk jy het ’n finansiële plan, maar inderwaarheid het jy dalk nie. En glo dit as jy wil, presies die teenoorgestelde kan ook waar wees. Jy dink dalk jy het nie ’n finansiële plan nie, terwyl jy wel een het. Om te kan weet of jy ’n finansiële plan het of nie, moet ons duidelikheid oor ons terme kry.

Wat is ’n finansiële plan?

Om ’n finansiële plan te kan hê, moet jy die volgende twee vrae beantwoord:

 

– Sal jou geld opraak?

– Indien jy daardie gevaar loop, wat moet jy nou anders doen om die kans dat dit kan gebeur kleiner te maak?

 

As jy weet wat die antwoorde op hierdie twee vrae is, het jy dalk ’n finansiële plan. Jy moet egter ook verstaan dat om regtig die antwoorde op hierdie twee vrae te ken, jy ook die volgende moet weet:

 

1. Hoeveel verdien jy nou?

2. Met hoeveel sal jou inkomste in komende jare groei?

3. Wat sal jou inkomste wees wanneer jy aftree? Wat is die bron van daardie inkomste?

4. Wat is jou gemiddelde lewenskoste per maand tans?

5. Wat gaan dit jou in die toekoms kos om te leef?

6. Hoeveel het jy al bymekaargemaak? Hoe is dit belê? Wat is die opbrengs daarop?

7. Wat sal jou beleggings in die toekoms werd wees?

8. Hoeveel inkomste sal jou beleggings in die toekoms genereer?

 

Natuurlik kan mens nie elkeen van hierdie vrae met absolute sekerheid beantwoord nie. Mens grond jou plan op redelike aannames oor inflasie, rentekoerse, opbrengste en lewenskoste. Dit is die beste wat enigiemand kan doen.

As jy nie die antwoorde op die eerste twee vrae ken nie of as jy die antwoorde geken het sonder om die daarvolgende agt vrae te beantwoord, het jy nie ’n finansiële plan nie en het jy een nodig. Om nie ’n finansiële plan te hê nie is soos om ’n skip in die mis te stuur. Vroeër of later gaan jy strand. Jy het jou lewe lank te hard gewerk om met jou toekoms te dobbel.

 

Die uitsondering

Ek het so ‘n ruk gelede met ’n gawe man gepraat. Hy wou ’n plan opstel maar ek het vir hom gesê om nie sy geld of tyd te mors nie. Hoekom? Omdat ek, nadat ek vir 10 minute met hom gepraat het, geweet het dat hy niks kon doen om ’n plan te laat werk nie. Hy is tot oor sy ore in die skuld, hy is nie gewillig om sy leefstyl te verander nie, hy kan nie méér geld verdien nie, en hy is in sy middel 60’s en het dus beperkte tyd om ’n wesenlike verskil te maak. Ek is jammer. Dit gebeur selde op hierdie wyse maar as jy nie gewillig is om stappe (soms drastiese stappe) te doen nie, is ’n plan dalk nutteloos vir jou. Jy moet eerlik wees daaroor.

As hierdie persoon ’n finansiële plan gehad het, sou ek die volgende vir hom gesê het:

 

– Hoekom en hoe om uit die skuld los te kom.

– Hy kan nie bekostig om af te tree nie.

– As hy ophou werk, sal sy geld opraak.

 

Daar was niks anders wat hy kon doen behalwe om sy lewenstandaard drasties in te kort nie. Ek het dit geweet sonder om ’n plan op te stel, en hy het dit ook geweet. ’n Plan sou hom nie nader aan sy doelwit bring nie. Dit is nie ’n towerpil nie.

My advies aan hierdie man was om alles moontlik te doen om uit die skuld te kom en dan kan ons dit oorweeg om ’n finasiënle plan vir hom op te stel. Ek het geweet dat as hy daardie skuld kan afskud, ’n plan nuttig kan wees maar dat, tot tyd en wyl dit gebeur, alles vergeefs is.

Van die laaste 50 mense wat ek ontmoet het, val net twee in hierdie kategorie. Om ’n finansiële plan op te stel, sal vir hulle niks nuuts inhou nie en sal hulle nie help om ’n beter toekoms te skep nie. Die goeie nuus is egter dat dit vir 96% nuttig sal wees en, in baie gevalle, ’n ommekeer teweeg sal bring. Heel goeie kanse, as jy my vra.

Het jy ’n finansiële plan of is jy een van daardie mense vir wie ’n plan nutteloos is? Hoe weet jy dit?

 

 

Bron: www.wealthpilgrim.com

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152