Sanette de Jager
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (hierna genoem die “SAPD”) het op 21 Augustus 2015 nuwe riglyne vrygestel ten opsigte van die hantering van laat hernuwings van vuurwapenlisensies. Hierdie riglyne is in die meeste gebiede glad nie bekend gemaak aan die publiek nie. Die gewone vuurwapeneienaar is onder die indruk dat hy sy lisensie slegs moet hernu enige tyd voor die vervaldatum. Dit is die algemene norm. Vuurwapeneienaars moet egter let op die volgende:
Ingevolge artikel 24 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000), moet vuurwapenlisensies ten minste 90 dae voor die vervaldatum van sodanige lisensie hernu word. Die hernuwingsaansoek moet by die aangewese vuurwapenbeampte van die plaaslike SAPD ingedien word. Indien ’n vuurwapeneienaar nie sy lisensie hernu ten minste 90 dae voor die vervaldatum nie, word daardie vuurwapen behandel volgens artikel 28 van die wet.
Artikel 28 van die wet bepaal dat vuurwapenlisensies wat nie ten minste 90 dae voor die vervaldatum van die lisensie hernu word nie, outomaties verval. Die artikel bepaal verder dat die vuurwapeneienaar kennis moet ontvang dat hy binne 30 dae redes moet aanvoer waarom sodanige lisensie nie gekanselleer moet word nie.
Indien die bogenoemde redes van die hand gewys word, word die vuurwapeneienaar 60 dae gegun om op ’n wettige manier van sy vuurwapen ontslae te raak. Indien dit nie gebeur nie, sal die vuurwapen verbeurd verklaar word.
Hierdie nuwe riglyne geld slegs vir lisensiehouers wie se lisensies uitgereik is onder die nuwe vuurwapenwet, naamlik Wet 60 van 2000. Hierdie prosedures geld dus slegs vir lisensiehouers met die sogenaamde “wit” lisensies en nie vir dié met die ou “groen” lisensies nie.
Maak dus seker van die vervaldatum van jou lisensie. Maak ook seker dat jy jou lisensie betyds volgens die nuwe riglyne van die SAPD hernu. Raadpleeg u naaste SAPD-stasie se aangewese vuurwapenbeampte vir alle navrae.