Huispryse: ‘Huidige vlakke steeds baie hoog’

Woensdag, Maart 2nd, 2016

Eugene Brink

 

 

Daar word voorspel dat huispryse in 2016 beduidend stadiger as in 2015 sal groei.

John Loos, eiendomstrateeg by ENB, se projeksie is ‘n groeikoers van 4,8% vir 2016, heelwat stadiger as die 6% wat gedurende ‘n dooierige 2015 aangeteken is.

Hy sê hierdie tendens hang saam met die verdere verlangsaming van reële ekonomiese groei – van byna 1,5% in 2015 tot 0,5% hierdie jaar. “Bedrukte uitvoerkommoditeitsmarkte tesame met ‘n ernstige droogte en stygende rentekoerse verklaar hierdie voorspelling van stadiger groei.”

Die ENB-huisprysindeks vir Februarie 2016 het met 6,5% op ‘n jaargrondslag gestyg. Dit is feitlik onverander van die voorafgaande twee maande se hersiene koerse en effens laer as 2015 se hoogtepunt van 6,9%, wat in Oktober behaal is. “Met die maand-op-maand gemiddelde prysgroeikoers wat beduidend stadiger geword het, verwag ons egter dat die jaar-op-jaar-groeikoers binnekort weer sal begin verlangsaam,” sê Loos.

Hy sê wanneer daar vir vpi(verbruikersprysindeks)-inflasie aangepas word, het die huisprysgroeikoers in reële terme in Januarie tot 0,2% verlangsaam vanaf ‘n hersiene 1,3% in Desember, waar die verlangsaming veroorsaak is deur ‘n styging in vpi-inflasie van 5,2% in Desember tot 6,2% in Januarie (die vpi-data vir Februarie is nog nie beskikbaar nie).

Vergeleke met die maand-op-maand gemiddelde huisprysinflasiekoers het die groeimomentum in Februarie voortgeduur, waar die koers op ‘n seisoensaangepaste basis tot 0,23% verlangsaam het vanaf ‘n vroeëre 0,25% en dit is nou beduidend stadiger as die hoogtepunt van 0,92% in September. “Dit behoort binnekort oor te gaan in stadiger jaar-op-jaar-prysstygings,” sê hy.

Hy voeg by dat daar geprojekteer word dat vpi-inflasie van ’n gemiddelde van 4,6% in 2015 tot ‘n gemiddelde van 6,1% in 2016 gaan styg as gevolg van die tans swakker rand en hoër voedselprysinflasie na gelang die impak van die droogte gevoel word. “Die SARB sal na verwagting voortgaan om rentekoerse stadig te verhoog, met ‘n primakoershoogtepunt van 11,25% in die eerste helfte van 2017. Baie sal egter van die rand se lotgevalle en sy potensiële inflasionêre impak afhang.”

Daar is egter ‘n bietjie goeie nuus. “As daar gekyk word na die langertermyn-reëlehuisprystendense, is die gemiddelde reële prys tans 69,6% hoër as die vlak van Januarie 2001, omtrent 15 jaar gelede. Ons beskou dus steeds die huidige reële prysvlakke as baie hoog.”

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161