Geldpersoonlikheid: Die profiel van ‘n verkwister

Donderdag, Maart 24th, 2016

Tinus Volgraaff

 

 

Die maklik en lekker om geld uit te gee, maar dit kan jou in allerhande moeilikheid laat beland en jou van groter belonings uitsluit.

As jy ‘n onweerstaanbare drang het om jou geld op allerhande snuisterye te verkwis in plaas daarvan om dit te spaar, het jy waarskynlik die persoonlikheid van ‘n verkwister.

 

Hoe is verkwisters nou eintlik?

 

Wat is die gewoontes en eienskappe van hierdie sogenaamde “verkwisters”? Die persoonlikefinansies-blogskrywers Scott en Bethany Palmer verduidelik hierdie verskynsel. Volgens hulle leef verkwisters vir die oomblik en is gefokus op wat nou gebeur. Hulle is gewillig om nou hul geld uit te gee as hulle van iets hou en vir hulle gaan alles daaroor om goeie herinneringe te skep vir vandag. Dit gaan gepaard met swak selfbeheersing en ‘n onvermoë om hulle in te dink in wat hul situasie vorentoe gaan wees.

In die tweede plek hou verkwisters daarvan om goed vir ander mense te koop. Hulle kry baie bevrediging daaruit om geskenke te gee, uit te help en ander mense te trakteer.

Derdens is dit vir hulle opwindend om te koop. En die prys maak nie saak nie, die lekkerte van die koop is al wat tel.

“Hoewel ek lesse uit oorbesteding geleer het, jare lank aan groot skuld terugbetaal het en nou stelsels geskep het om eers myself te betaal en ‘n persentasie van my inkomste te belê, wil ek, as ek geld kry, dit steeds instinktief uitgee en nie spaar nie. Ek moet veg teen die drang om te spandeer,” sê David Weliver, stigter en redakteur van die finansiëleadvies-webblad Money Under 30 en selferkende verkwister.

Hy beskryf ook die tipiese karaktereienskappe van verkwisters. “Hulle koop nou en vra later ‘kan ek dit bekostig?’ Hulle gebruik krediet en stel beplanning vir die toekoms uit. Dit skep vir hulle probleme met spaar, selfs al probeer hulle. Hulle voel ook gereeld skuldig of depressief oor oorbesteding.”

Die Palmers sê daar is verskeie uitdagings in verband met ‘n verkwisterpersoonlikheid, soos byvoorbeeld om onprakties te wees. “’n Verkwister loop sonder ‘n lysie en sonder limiete by ‘n winkel in. Hy doen nie navorsing om ‘n goeie transaksie te vind nie. En hulle onderskei ook nie tussen wil hê en behoefte nie.

“Al daardie impulsiewe kopery beteken dat verkwisters nie aankope saam met hul lewensmaats deurdink nie – en nog minder bespreek. ‘n Verkwister kan ‘n streng begroting opstel en goeie voornemens hê om daarby te hou, maar hulle doen dit selde.

“’n Verkwister kan nietemin ‘n gawe maat wees want hy of sy sal nooit toelaat dat finansies in die pad staan van voluit lewe nie.”

 

Hoe om die drang om uit te gee te temper

 

Ongelukkig vir verkwisters is die versoeking om geld uit te gee altyd daar om hul impulse te voed. Daar is onlangs bekend gemaak dat Suid-Afrika die sesde meeste winkelsentrums ter wêreld het. Advertensies, koop met die oë en die behoefte om andere te beïndruk is in Suid-Afrika net so alomteenwoordig as op enige ander plek in die wêreld. Selfbeheersing is dus verkwisters se redding.

Finansiële skrywer Suzanne Kearns gee ‘n paar wenke om hierdie bestedingsgewoontes in toom te hou.

Heel eerste raai sy mense af om kredietkaarte en ander vorms van krediet te gebruik. Deur kontant te gebruik, dwing jy jouself om te kyk na hoeveel jy uitgee. Tweedens, trek self geld uit jou bankrekening sodat jy kan sien hoe jou balans krimp. Betaal ook na gelang jy koop. Moenie ‘n rekening by ‘n restourant hê of alles vooruit betaal as jy ‘n romantiese naweek beplan nie. Deur vir alles te betaal soos dit nodig word, kan jy sien hoe geld net “wegraak”.

Stop ook net ‘n oomblik en vra jou af of jy ‘n bepaalde item nodig het of dit bloot wil hê. Sy beveel ook aan dat jy moet praat oor jou spaardoelwitte, soos om ter wille van verantwoordbaarheid vir jou vriende en familie daarvan te vertel. En dan, laastens, beloon jouself as jy hierdie doelwitte behaal. Dit sal ook die sogenaamde “spaarsaamheidsvermoeienis” uitskakel wat so dikwels suinige mense oorval en tot nog meer uitbundige kopery lei.

 

Bronne:

 

David Weliver, 2015, “How to save when you were born to spend”, Money Under 30, http://www.moneyunder30.com/how-to-save-when-you-were-born-to-spend.

 

Scott en Bethany Palmer, 2015, “Your money personality: Spender”, The Money Couple, http://themoneycouple.com/the-spender/.

 

Suzanne Kearns, 2015, “The Psychology of Money – How Saving and Spending Habits are Programmed in Your Brain”, Money Crashers, http://www.moneycrashers.com/psychology-of-money-saving-spending-habits/.

 

 

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170