Met die beplanning van julle troudag gebeur dit dikwels dat die praktiese besonderhede van julle lewe na die huwelik agterweë gelaat word. Die finansiële toekoms wat julle deel, is egter net so belangrik, indien nie méér nie. Hier is ‘n paar finansiële foute wat julle as pasgetroudes moet vermy:
Om nie oor geld te praat nie. Geldpraatjies kan vir baie paartjies ‘n ongemaklike ervaring wees. Maar diegene wat dit sonder huiwering konfronteer, sal beter daaraan toe wees. Maak seker jy verstaan jou maat se finansiële doelwitte en bestedingsgewoontes. Alhoewel julle verskillende idees mag hê, kan hierdie gesprek julle help om ‘n benadering tot geldbestuur te ontwikkel wat vir julle albei kan werk.
Nie ‘n plan vir jou/julle rekeninge te hê nie. Daar is geen regte manier om jou rekeninge te bestuur nie. Paartjies kan kies om uitsluitlik gesamentlike rekeninge, ‘n gesamentlike rekening sowel as afsonderlike rekeninge vir spaar en/of persoonlike besteding te hê, of om sake heeltemal verdeeld te hou. Bespreek elkeen se voorkeure en besluit op iets waarmee julle albei gemaklik voel.
Nie ‘n begroting op te stel nie. ‘n Fout wat baie paartjies maak, is om nie vroeg in die huwelik al ‘n begroting op te stel nie. Beoordeel julle finansies as ‘n paar en bepaal dan hoe julle julle geld elke maand gaan spandeer. Is daar sekere uitgawes waarop julle moet besnoei en ander waarvoor julle moet spaar? Om oor hierdie dinge ooreen te kom, ‘n begroting op te stel en daarby te hou, sal nie net voordelig wees vir die gesondheid van julle bankrekeninge nie maar ook vir julle verhouding.
Versuim om ‘n noodfonds op te bou. Die lewe is vol verrassings en sommige hiervan kan onaangenaam en duur wees. As jy ‘n noodfonds het, sal dit jou help om moeilike finansiële situasies te vermy wanneer iets onverwags opduik. Dit is belangrik dat julle saam besluit hoe dié geld opsy gesit moet word.
Nie ‘n langtermyn finansiële plan te ontwikkel nie. Dis noodsaaklik dat julle ‘n langtermyn finansiële plan in plek het voor julle troudag. Dit moet doelwitte insluit vir aftrede, huiseienaarskap en die begin van ‘n gesin (as dit binne julle beplanningsraamwerk val). Bespreek vooraf julle finansiële doelwitte, die tydlyn, julle begroting asook ander probleme wat julle in die gesig mag staar.
Nie ‘n vasgestelde kostedrempel vir groot uitgawes te hê nie. Alhoewel nie alle aankope ‘n gesprek vereis nie, is dit belangrik in die geval van die duurder uitgawes wat die gesinsbegroting kan beïnvloed. Bepaal saam wat die kostedrempel is. Vir enige uitgawes bo dié koste, moet julle saamstem oor die nodigheid daarvan of nie.
Vir jou maat te jok. Daar word dikwels gegrap oor vroue (en mans) wat nuwe aankope vir hulle huweliksmaats wegsteek, maar dit kan tot ernstige finansiële probleme in ‘n verhouding lei. Maak seker dat julle albei eerlik is wat finansies betref en dat julle heeltemal openlik is oor elkeen se huidige finansiële situasie.
Om julle finansies te kombineer voordat julle getroud is. Die meeste wette is bedoel om egpare te beskerm. As julle net saamwoon, kan julle probleme ondervind wanneer die verhouding skipbreuk lei indien julle saam ‘n huis gekoop het of saam skuld aangegaan het. Wag tot na die troue voordat julle finansies ten volle kombineer. Gebruik eerder ‘n huishoudelike begroting waar julle albei bydra tot gedeelde uitgawes.
Om die huweliksonthaal of wittebrood met ’n kredietkaart te finansier. Betaal kontant vir die onthaal en wittebrood. Dit mag beteken dat julle sal moet besnoei op sommige van die dinge wat julle vir julle troudag beplan. Dit sal egter die moeite werd wees aangesien die afbetaling daarvan nie maande of selfs jare na julle huweliksdag nog soos ’n swaard oor julle koppe sal hang nie. Soek vooraf vir winskopies. Só behoort julle troudag steeds pragtig te wees terwyl dit binne julle begroting val.
Om die waarskuwingstekens te ignoreer. Hou kwessies soos oorbesteding, onwilligheid om oor finansies te praat, of ‘n swak kredietpunt dop. Hou egter ook in gedagte dat mense foute maak, en as jou maat daaraan gewerk het om finansiële misstappe van die verlede op te los, moet jy dit nie teen hom/haar hou nie.
Om skuld te ignoreer. Die beste tyd om klaar te speel met skuld, is voordat julle kinders of die ekstra finansiële spanning van ‘n huislening het. Julle sal waarskynlik meer besteebare inkomste in die vroeë jare van julle huwelik hê. Maak dan van die geleentheid gebruik om julle skuld af te betaal. Sodra julle skuldvry is, kan julle enige beskikbare fondse begin gebruik om aan julle volgende finansiële doelwit (soos om ‘n huis te koop) te begin werk. Skuld wat vroeg in die huwelik geïgnoreer word, maak die verwesenliking van drome soveel moeiliker.
Vergeet om jou begunstigdes by te werk. Noudat jy die knoop amptelik deurgehaak het, sal jy waarskynlik jou maat identifiseer as die persoon wat die voordele van jou testament, lewensversekeringspolis en finansiële rekeninge sal ontvang. Moenie die fout maak om te wag totdat daar ‘n noodgeval is voordat jy dit hanteer nie.