Gebruik jou huislening as ʼn effektiewe spaarinstrument

Woensdag, Januarie 18th, 2017

Eerder as om die risiko te loop om vanjaar dieper in die skuld te raak deur geld te leen, moet mense met huislenings dit oorweeg om hul verbandfasiliteit as ʼn spaarinstrument te gebruik.

Deur die terugbetalings op ʼn huisleningfasiliteit tot hoër as die vereiste minimum te verhoog, word finansiële buigsaamheid vir huiseienaars geskep om onverwagte finansiële slaggate te omseil.

“Die meeste mense onderskat die krag van hul huislenings as ʼn baie gesofistikeerde geldbestuursinstrument. As dit met dissipline bestuur word, kan dit jou die finansiële buigsaamheid gee om die moeilike tye waarmee die lewe jou kan teister, die hoof te bied,” sê Tommy Nel, krediethoof by FNB Huislenings.

ʼn Huislening is betreklik goedkoop omdat dit ʼn gesekureerde lening is; dit beteken die lening word beskerm deur die huis as ʼn bate te gebruik.

“Verbruikers wend hulle dikwels tot persoonlike lenings en ongesekureerde krediet om onvoorsiene uitgawes te finansier of wanneer hulle kontantvloeidruk begin ervaar,” sê Nel. “Maar, gegewe die risikofaktore wat met hierdie tipes lenings gepaard gaan, is die rentekoerse op ongesekureerde krediet heelwat hoër as die rentekoerse op jou verband, wat dit nie die beste keuse maak as jy kyk na maniere om geld te leen nie.”

Om jou huislening as ʼn effektiewe spaarinstrument te gebruik, sal jy vooruitbetalings in jou rekening moet doen.

“Vooruitbetaling beteken in wese dat jy bykomende kontant in jou huisleningrekening moet sit,” sê Nel. “Hierdie bykomende kontant werk vir jou deur die uitstaande bedrag waarop jy rente betaal kleiner te maak. As jy konsekwent meer as die minimum terugbetaal, word die balans op die lening baie gouer kleiner, wat ʼn tweeledige voordeel het deurdat jy jou lening gouer kan afbetaal of in die toekoms toegang tot vooruitbetalings het, indien jy dit nodig het.”

Met ʼn normale 20-jaar-huislening sal dit jou R9 159 per maand kos as jy die minimum paaiemente teen prima plus 9,25% betaal.

“As jy jou terugbetalings met 10% tot R10 075 verhoog, sal jy die lening vier jaar voor die tyd afbetaal in 189 maande, wat jou ook toegang tot fondse van net minder as R70 000 sal gee binne vyf jaar nadat jy met hierdie bykomende betalings begin het. Jou totale besparing aan rente met hierdie opsie sal 25% wees,” sê Nel.

Dis vanselfsprekend dat hoe meer jy op jou verband afbetaal, hoe groter die voordele. ʼn Verhoging van die verbandterugbetalings met 30% tot R11 907 sal jou ʼn besparing van byna R600 000 op die totale rentebetalings gee en jou verband sal byna nege jaar vroeër as die 20-jaar-termyn afbetaal word.

“Om meer as die minimum vereiste paaiement te betaal, behoort verbruikers se eerste mikpunt te wees as daar gekyk word na maniere om finansieel buigsaam te wees. As jy nou begin, sal jy baie gou surpluskontant in jou rekening hê om te gebruik in plaas daarvan om korttermynlenings aan te gaan,” sê Nel.

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150