Deur Reon Janse van Rensburg
Swart Vrydag word die afgelope paar jaar gekenmerk deur verbruikers wat inderhaas, sonder om te dink na die naaste groothandelaar jaag om tydens Swart Vrydag aankope te maak waar daar onder andere luukse en verskeie ander items teen beter of sogenaamde winskopies aangebied word. Vorige jare het klante in lang rye gestaan, soms selfs tot aan die agterkant van die winkel, om te verseker dat hulle nie 'n winskopie mis nie. Dit was die goeie ou dae waar sosiale afstand jou nie verder weg laat staan het en waar jy sonder die nodigheid van ’n masker om jou teen 'n pandemie te beskerm inkopies kon doen.
Vanjaar is egter anders en soos die meeste dinge is daar nuwe tendense en maniere van dinge doen. Nes ons geleer het om aan te pas, het winkelgroepe ook hul bemarking en verkoopsmetodes verander om by die pandemie aan te pas. Voorbeelde hiervan is dat winkelgroepe nie net meer slegs spesiale aanbiedinge vir Swart Vrydag aanbied nie, maar talle winkelgroepe het die Swart Vrydag na Swart November verleng. Volgens Matthew Leighton, die woordvoerder van die plaaslike aanlyn winkel, OneDayOnly, word daar verwag dat veral aanlyn verkope vanjaar sal toeneem omdat die pandemie steeds 'n rol in die daaglikse lewens van verbruikers speel.
Volgens BankServAfrica het Suid-Afrikaners reeds R3 miljard in 2018 aan hierdie enkele inkopiedag spandeer. Dit was 15,92% meer as wat daar in 2017 spandeer is. In 2019 is alle verwagtinge oortref nadat Suid-Afrikaners die bedrag wat hulle in 2018 spandeer verdubbel het en daar word R6 miljard op Swart Vrydag aan inkopies spandeer.
Navorsing wat deur TransUnion gedoen is het beweer dat verbruikers meer geneig is om lenings aan te gaan en dat hulle ook hul bestedingsperke gedurende Swart Vrydag verhoog. Navorsing toon ook dat nuwe rekeninge wat gedurende die Swart Vrydag-week in 2018 geopen is, in vergelyking met dieselfde week 'n maand tevore, is daar 'n toename van 37% in nuwe rekeninge deur TransUnion gesien en 'n styging van 21% in die totale kredietlimiete vir nuwe kredietkaarte, klere- en kleinhandelrekeninge.
Volgens Lee Naik, die uitvoerende hoof van TransUnion Afrika, kan die grootste groei aan die hoeveelheid geld wat deur verbruikers op Swart Vrydag spandeer word, toegeskryf word aan hoë-risiko lenings.
In 2020 lyk sake heelwat erger omdat die ekonomiese gevolge van die pandemie reeds 2,2 miljoen Suid-Afrikaners sonder werk gelaat het. 42% van die land is tydens die tweede kwartaal werkloos gelaat in vergelyking met die 39,7% van die eerste kwartaal.
Om hul dalende inkomste aan te vul, maak Suid-Afrikaanse verbruikers ook toenemend meer skuld en diegene wat in 'n benoude finansiële posisie is spandeer gemiddeld R6 van elke R10 wat hulle verdien om skuld terug te betaal.
In 'n bevolking van byna 60 miljoen mense, is daar slegs 14,1 miljoen mense wat tydens die tweede kwartaal 'n werk gehad het wat 'n inkomste genereer om kos op die tafel te sit.
Volgens Benay Sager, die bedryfshoof van DebtBusters, 'n maatskappy wat in skuldbestuur spesialiseer, is die gemiddelde onversekerde skuld vir verbruikers 41% hoër as in 2016. Hy het ook genoem dat diegene wat meer as R20 000 per maand verdien, 58% meer onversekerde skuld as vier jaar gelede het.
Ekonome waarsku dat die ergste werksverliese steeds op pad is en dat ten spyte van die ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie en die uitwerking wat dit op die Suid-Afrikaanse ekonomie het, is die land nie verby die ergste nie.
Dit sal dus 'n wyse besluit wees om inkopies op vanjaar se Swart Vrydag te vermy en beter wees vir elke verbruiker om hulle beursies in hulle sakke te hou en om eerder vir die toekoms te beplan waar die geld wat jy vandag op onnodige luukshede spandeer eerder vir 2021 gespaar moet word.
Bronne:
https://www.netwerk24.com/Sake/Ekonomie/werkloosheid-skiet-op-tot-42-20200929
Oops! We could not locate your form.