Finansiële stres ‘n realiteit in 2016, maar nie ’n ramp

Donderdag, Oktober 20th, 2016

Eugene Brink

 

 

Hoewel stygende rentekoerse druk plaas op Suid-Afrikaanse huishoudings, het die geleidelike en matige aard daarvan groot finansiële stres voorkom. Die taai ekonomiese tye het ons groter dissipline geleer deur ons te dwing om skuld en uitgawes aan luukses in toom te hou.

Hoewel voorspel is dat 2016 ʼn jaar met hoë vlakke van finansiële stres sou wees, was dit toe nie die annus horibilis wat almal verwag het nie en dit was beslis nie veel erger as 2015 nie. Sulke bekommernisse (oor finansiële stres) is nie heeltemal ongeregverdig nie gegewe die geleidelike rentekoersstygings sedert vroeg 2014 en die stagnasie in ekonomiese groei sedert ongeveer 2012. Sommige persepsies van die huidige finansiëlestres-situasie was egter dalk erger as die werklikheid,” sê John Loos, eiendomstrateeg by FNB.

Hy sê die FNB-eiendomsagentoorsig het laat in 2015 begin om ʼn matige styging te toon in die persentasie huisverkopers wat verkoop, vermoedelik ten einde af te skaal as gevolg van finansiële druk. “Hierdie persentasie het van ʼn laagtepunt van 11% van totale verkopers in die derde kwartaal van 2015 tot 14% in die laaste kwartaal gestyg, en was in die tweede kwartaal van 2016 weer op 14%. Hierdie opwaartse beweging was egter van korte duur volgens die derde kwartaal van 2016 se oorsig, waarvolgens die raming na 12% gedaal het.

“Vir sommige mense kan hierdie persentasies hoog lyk, maar dit blyk dat daar altyd ʼn redelike mate van drukverwante proaktiewe afskaling is, en hierdie onlangse ramings is baie laag in vergelyking met die hoogtepunt van 34% wat gedurende die ‘finansiële krisis’ in die 2de kwartaal van 2009 bereik is.”

Volgens Loos het iets soortgelyk in die huurmark gebeur. “Tenant Profile Network stel data saam van die persentasie huurders wat ʼn ‘goeie naam’ by hul verhuurders het. Dwarsdeur 2015 en nog vroeg in 2016 het hierdie persentasie matig begin daal, wat dui op stygende finansiële druk onder die huurbevolking.

“Hierdie persentasie het van ʼn veeljarige hoogtepunt van 86% in die derde kwartaal van 2014 verswak tot 82,2% in die eerste kwartaal in 2016, met die daling van 85% in die laaste kwartaal van 2015 tot 82,2% in die eerste kwartaal van hierdie jaar besonder opmerklik.

“Hierdie persentasie weerspieël steeds ʼn betreklik stewige finansiële situasie onder huurders in vergelyking met die daling na ʼn lae 71% in 2009, ongeveer in die tyd van die finansiële krisis.”

Die verhouding van skuld tot besteebare inkomste in die huishoudelike sektor het ook aanhou daal tot in 2016 en het van ʼn absolute hoogtepunt van 87,8% in die eerste kwartaal van 2008 gedaal na 75,1% teen die tweede kwartaal van 2016. “Hierdie vlak bly hoog, maar is op die regte pad afwaarts,” sê Loos.

Loos sê dat, ten spyte van talle uitdagings soos ekonomiese stagnasie en swak verbruikervertroue, is die oorsaak van al hierdie dinge die Reserwebank se verhoging van rentekoerse met net 2 persentasiepunte sedert vroeg 2014. “Teen ʼn prima koers van 10,5% is rentekoerse steeds betreklik laag volgens Suid-Afrikaanse standaarde. Die SARB se trapsgewyse benadering tot rentekoersverhogings, die mees geleidelike koersverhogingsiklus in menseheugenis, is hier die sleutel. Dit het veroorsaak dat ekonomiese groei geleidelik wegkwyn in teenstelling met die kort skerp resessie van 2009,” sê Loos.

Hy sê dit het huishoudings tyd gegee om hul besteding- en leengewoontes aan te pas en in ooreenstemming te bring met die nuwe realiteite.

 

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170