Familietrust of testamentêre trust?

Maandag, September 19th, 2016

Sanette Viljoen

 

 

In die geval van ’n testamentêre trust, word die trust gestig by die afsterwe van die erflater en die trust word opgerig volgens die bepalings van die testament. ’n Familietrust word weer gestig terwyl die oprigter nog lewe.

 

Familietrust

Die familietrust vorm deel van die oprigter se boedelbeplanning. Die oprigter is gewoonlik ’n trustee van die trust en ook soms ’n begunstigde. Die familietrust hou min risiko’s in vir die oprigter, trustees en begunstigdes. Die rede hiervoor is dat die trustbates nie deel vorm van die laasgenoemdes se boedels nie en daarom kan skuldeisers nie beslag lê op een se bates as die ander een geldelike probleme sou ondervind nie.

Uit ’n boedelbelastingoogpunt is die bates nie deel van die oprigter, die begunstigdes of die trustees se bestorwe boedels nie en is dus nie vatbaar vir boedelbelasting nie. Inkomstebelasting kan ook effektief bespaar word deur inkomste van die trust na die verskillende begunstigdes te kanaliseer, soos byvoorbeeld die oprigter se kinders en gade, wat waarskynlik teen ’n laer koers belas word en waardeur inkomstebelasting bespaar sal word.

Die familietrust kan ook voorsiening maak vir die minderjarige kinders. Die trust kan spesifiseer hoe en wanneer erfporsies aan die minderjariges uitbetaal moet word en sodoende ook verhoed dat dit in die voogdyfonds van die Meester beland.

Die familietrust het egter groot koste-implikasies wat in ag geneem moet word. Die koste van registrasie moet oorweeg word. Verder moet daar gekyk word na die koste van oordrag van al die oprigter se bates na die trust. Hierdie koste kan duisende rande beloop en moet opgeweeg word teen die voordele van hierdie tipe trust.

 

Testamentêre trust

’n Testamentêre trust word gestig in ’n testament. Hierdie tipe trust word opgerig met die oog op die oprigter se minderjarige kinders. Boedelbeplanning speel dus ’n kleiner rol in hierdie tipe trust.

Die hoofdoel van ’n testamentêre trust is om te sorg dat die oprigter se minderjarige kinders verseker is van noodsaaklike dinge soos skoolfonds, sakgeld, klere, universiteitsfondse, ens.

Die oprigter gee aan die trustees van die trust spesifieke opdragte oor hoe om die fondse in die trust te beheer en te bestee sodat dit in die beste belang van sy minderjarige kinders is. Die oprigter spesifiseer ook wanneer die erfporsies uitbetaal moet word, bv. op die ouderdom van 18 jaar. Die trustees van die trust moet die fondse na goeddunke belê en bestuur.

Die bogenoemde twee tipes trusts het elk sy eie doel en voordele. Besluit egter mooi watter een van die twee beter by jou omstandighede pas.

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170