Ekstra inkomste: ’n Paar lekker idees

Woensdag, Augustus 10th, 2016

Marli Naidoo

 

Om elke maand finansieel deur te kom word al moeiliker. Dit voel asof die maande langer word en die geld minder. Dit word noodsaaklik om aan maniere te dink om ʼn paar ekstra rande van die huis af te verdien.

Volgens dr. Phil McGraw moet ons met ons talente woeker. Wat kan jy doen? Moenie dink dat jy nie genoeg ondervinding het nie; doen wat jy kan op die vlak wat jy kan. Jy kan altyd later meer leer en beter toegerus word namate jy jou inkomste beter aanvul. Hier is ʼn paar idees:

Huur jouself uit as die droë bestuurder. Jy sorg dan dat mense, na ʼn aandjie uit, veilig by die huis kom. Hulle betaal jou dan vir jou dienste. Mens werk in ʼn paar. Jou “vennoot” laai jou by die lokaal af, volg julle dan huis toe aangesien jy die kliënt se kar sal bestuur, en laai jou dan weer daar op sodra die kliënt veilig tuis besorg is.

Gebruik jou vryskutvaardighede. Het jy ondervinding in web-ontwerp, grafiese ontwerp, proeflees, skryf, tik of boekhou? Skep ʼn aanlynprofiel op webtuistes wat werk voorsien aan mense wat hulle vryskutdienste beskikbaar stel.

Almal moet eet. Besoek kantore en fabrieke oor middag-ete en voorsien vars toebroodjies met interessante vulsels.

Kan jy hare sny of selfs net mooi versorg? Daar is baie mense wat nie by ʼn haarkapper kan uitkom nie, en selfs sukkel om hulle eie hare te was en droog te blaas. Jy kan selfs weekliks ʼn draai maak by die ouetehuis om die bejaarde inwoners te help, en sodoende ʼn ekstra geldjie verdien. Jy kan ook die wat nie self by die winkel kan kom nie aanry en later weer by die huis besorg.

Reël partytjies. Baie ma’s het vandag net nie die tyd om kinderpartytjies te reël nie. Bied die diens in jou omgewing aan. Sorg dat jy alles doen; die ma, haar kind en die gaste moet net opdaag en hulleself geniet.

Kry toestemming om Saterdagoggend voor ʼn besige winkelsentrum worsrolletjies te verkoop. Braai jou boerewors vars sodat die heerlike geure die lug kan vul, en dit sal sommer vinnig die hongeres lok.

Lewer borde kookkos by kliënte se huise af. Hulle sal gesond kan eet sonder dat hulle na werk nog moet kos kook.

Jy kan In klankateljee by jou huis inrig waar jy opnames doen vir sangers en sanggroepe.

Herstel en verkoop meubels.

Is jy goed met naaldwerk? Daar is altyd ʼn aanvraag vir mense om aandrokke en trourokke te maak, of herstelwerk te doen.

Huur ʼn ekstra kamer in jou huis uit.

Bied poppespelvertonings by kinderpartytjies aan. Jy kan jou eie poppekas bou en marionette of handpoppe maak.

ʼn Mobiele dieresalon kan goed werk mits jy van diere hou. Jy kan verskillende dienste lewer soos hare sny, naelversorging, bad en selfs spesiale pels- en velversorging.

Indien jy goed kan tik, sal daar altyd werk wees wat gedoen te word. Baie mense of besighede is op soek na iemand wat manuskripte en dokumente vir hulle kan tik.

Gee aanlynklasse. As jy ʼn aanleg vir Wiskunde of Engels het, kan jy moontlik deeltyds klas gee in die rigting wat jy verkies.

Bied jou dienste aan nuwe mammas wanneer hulle swanger is. Na die geboorte voel party mammas onhandig en onseker. Wees daar wanneer hulle baba huis toe bring. Wys hulle hoe om baba te bad, aan te trek, en maak hulle touwys met algemene versorging.

Lewer pizza of pakkies af. Word ’n kelner.

Dra jou sport- of ander vaardighede oor. As jy goed gevaar het met ’n sportsoort of enige opleiding as afrigter het, is daar dalk kinders of selfs ouer mense wat by jou wil leer.

Pas kinders of bejaardes op.

Verkoop produkte . Daar is heelwat maatskappye wat steeds persoonlike verkopers het.

Hierdie is maar ʼn paar idees. Wees kreatief en moenie bang wees om buite die boks te dink nie. Probeer uitvind of daar iets in jou omgewing is wat mense nodig het wat jy kan voorsien.

 

 

 

 

Bronne

 

Stadler, H. 2016. “Maak só vir ekstra inkomste in stamperige 2016”. Netwerk24, http://www.netwerk24.com/Sake/Geldsake/maak-so-vir-ekstra-inkomste-in-stamperige-2016-20160111

Mieliestronk. “Word jou eie baas vir net R200 (of so ietsie meer)”. http://www.mieliestronk.com/eiebaass.html

Peterjasie. 2016. “Werk van die huis af”. Peterjasie, http://peterjasie.co.za/tuiswerk.html

 

  • Mariska

    As jy nou items het wat handgemaak is.. Hekel. ,brei ens wa kan mens dit aanlyn verkoop.

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152