Ek sou kon doen met ʼn miljoen ─ om weg te gee

Maandag, Desember 5th, 2016

Annatjie Bouwer

 

 

“Ek sou kon doen met ’n miljoen – as ek dit kan weggee.” Dis twyfelagtig dat jy iemand dit al hoor sê het, maar ons almal het al gehoor dis beter om te gee as om te ontvang. Navorsing het dit ook bewys, so lees verder en doen die eksperiment om dit self te toets.

Daar word beweer dat loterywenners nie juis gelukkiger is as vantevore nie en dat miljardêrs nie veel gelukkiger is as ander mense nie. Die paradoks van geld is dat, alhoewel dit ons welvaart vergroot wanneer ons meer verdien, ons gelukkiger is as ons dit weggee vir iemand anders eerder as om dit op onsself te spandeer. Solank jy net die “iemand anders” kan wees, dink jy?

As jy meer geluk wil ervaar, moenie daarop fokus om meer geld te verdien en meer goed te koop nie. Wees vrygewig. Daar is een manier waarop geld meer geluk kan bring: deur dit weg te gee of op ander te spandeer. Dit is nou volgens dr. Steve Taylor, ’n senior lektor in sielkunde by Leeds Beckett Universiteit. Martha Roberts, ’n Britse gesondheidskrywer, stem hiermee saam en sê verder dat dit beter is om ervarings te koop, soos vakansies eerder as besittings.

Elizabeth Dunn, sielkundeprofessor by die Universiteit van Colombia, het ’n eenvoudige eksperiment uitgevoer. Sy het kontant aan studente op die kampus gegee met instruksies dat die een groep dit op hulleself moes spandeer, terwyl die ander groep dit op iemand anders moes uitgee. Sy het gevind dat dié wat geld op iemand anders spandeer het, gelukkiger was as dié wat vir hulleself iets gekoop het. Dunn het hierdie eksperiment in ander lande herhaal en gevind dat selfs in lande so verskillend soos Kanada, Suid-Afrika en Uganda, dit mense gelukkiger maak om te gee. Dit was ook waar wanneer mense hulle eie geld weggegee het, selfs wanneer hulle self relatief arm was.

Dunn sê dat dit nie noodwendig gaan oor hoeveel jy gee nie, maar eerder oor die impak van wat jy gee. Volgens Dunn sal dit jou gelukkig maak om te sien watter verskil jou geld in iemand anders se lewe maak, al het jy nie ’n groot bedrag gegee nie.

Roberts stel voor dat ’n mens die volgende eksperiment probeer om hierdie teorieë te toets:

Week 1: Koop vir jouself iets, sonder ’n spesifieke rede. Skryf neer hoe dit jou laat voel: sleg (0); tevrede (5) of baie gelukkig (10).

Week 2: Identifiseer iemand en bederf hom of haar elke week met iets vir die volgende drie weke. Dit moet verkieslik ’n ervaring wees, soos byvoorbeeld ’n kaartjie na ’n konsert of ’n spa-geskenkbewys, eerder as ’n fisiese geskenk. Gebruik dieselfde puntestelsel as in week 1 en skryf neer hoe gelukkig dit jou laat voel.

Taylor stel voor dat om jou welstand te verbeter, jy nie geld in jou bankrekening moet opgaar nie, maar ook nie goed moet koop wat jy nie nodig het nie. Solank jy gesorg het dat jou basiese materiële behoeftes vervul is, kan jy vrygewig en onbaatsugtig wees. Gee dus meer geld aan mense wat dit nodig het en gee meer van jou tyd as vrywilliger. Jy kan “gee” deur beter op te tree teenoor die mense rondom jou. Taylor beveel aan dat ons die verbruikersboodskap van “geluk beteken gebruik”, waarmee ons oorval word deur die media, moet ignoreer. Dit kom neer op ’n leefstyl van vrygewigheid en waarborg geluk.

Die Amerikaanse Indiaan, Ohiyesa, het die volgende van die Sioux-mense gesê: “Ons glo dat ’n liefde vir aardse besittings ’n swakheid is wat oorkom moet word. Materiële dinge is aanloklik, maar as ons dit sy gang laat gaan, gaan dit mettertyd ons spirituele balans versteur. Daarom leer ons kinders vroegtydig hoe goed dit is om vrygewig te wees. Hulle word geleer om dít wat vir hulle die kosbaarste is, weg te gee sodat hulle die vreugde van gee kan ervaar.”

Taylor stel die vraag: hoekom doen ons dan soveel moeite om rykdom en besittings te versamel? En sy antwoord: dit word vergelyk met ’n man wat aanhoudend aan ’n deur klop, al word daar vir hom gesê dat daar niemand tuis is nie. “Maar hy is daar binne!”, skree hy en storm die huis binne om self na die mense te soek. Hy storm weer uit, maar keer minute later terug en begin weer klop. Om geluk in materiële sukses te soek, is net so irrasioneel soos hierdie man.

 

Bronne

Andrew Blackman, 2014, “Can money buy you happiness”, The Wall Street Journal, http://www.wsj.com/articles/can-money-buy-happiness-heres-what-science-has-to-say-1415569538.

Martha Roberts, 2014, “Discover the gift of giving”, Psychologies, https://psychologies.co.uk/self/life-lab-experiment-mind-3.html.

Steve Taylor, 2015, “Happiness comes from giving, not buying or having”, Lifelabs.com, https://lifelabs.psychologies.co.uk/users/1198-dr-steve-taylor/posts/1079-happiness-comes-from-giving-not-buying-or-having.

 

Ander Artikels

Belangrike belastingwenke vir 2017
Karen van der Berg     Daar is een ding wat jaar na jaar vas bly staan: Belasting moet betaal en bewyse daarvan moet ingedien word. Vir die meeste mense veroorsaak dit ʼn groot kopseer en slapelose nagte. Dit is egter nie nodig nie, sê Coba Boshoff, ʼn belastingkonsultant van die Paarl. “Daar is sekere […]
Die 2 soorte verkeersboetes
Sanette Viljoen       Dit is belangrik om te verstaan dat daar twee tipes verkeersboetes bestaan en ook om te weet wat is elkeen se risiko.   Artikel 341-boete Hierdie boete word uitgereik wanneer dit nie duidelik is wie die bestuurder van die motor is nie. Voorbeelde van hierdie boetes is ‘n parkeerkaartjie of […]
Deeltitel: Geiser-instandhouding en aanspreeklikheid vir koste
Anton Kelly   Daar is iets onvermydelik in verband met die koste van geiser-instandhouding en –vervanging: die betrokke eienaar is aanspreeklik vir alles waarvoor die regspersoon se versekering nie betaal nie! Dit help as mens die bepalings verstaan wat hierdie “geen wegkruipplek”-situasie skep. In die meeste moderne residensiële skemas is die geiser in die eenheid […]
1 2 3 139