Ek is nie ‘n stap-soldaatjie nie…

Maandag, Desember 8th, 2014

Geskryf deur: Inge Strydom

 

Ek het hierdie week weereens iets wonderliks besef: Ons het ʼn wonderlike God.
Ek gaan elke weeksdag gewoonlik direk na werk gimnasium toe. Ek het egter besluit om Dinsdagmiddag nie gimnasium toe te gaan nie, aangesien ek moeg was na ʼn lang dag se werk.
ʼn Blok van die huis af, merk ek ʼn middeljarige man en vrou langs die pad op wie se motor sonder brandstof gaan staan het. Hulle albei het langs die motor gaan staan, met ʼn leë kannetjie, al waggende vir iemand om tot hul redding te kom. ʼn Mens kan nie hul armsalige klere en die plooie van swaarkry om hul oë miskyk nie.
Ek gee as ʼn reël nie eintlik vir bedelaars geld nie aangesien die kans goed is dat hulle die geld vir drank of dwelms gaan gebruik. Ek skenk eerder geld aan ʼn liefdadigheidsorganisasie; sodoende weet ek die kans is skraler dat die geld vermors gaan word. Deesdae kan ʼn mens ook nie meer stilhou om iemand te help wat langs die pad ʼn probleem het nie aangesien dit net sowel ʼn lokval kan wees en mens van jou motor, of nog erger – jou lewe geroof kan word.
Die paartjie is beslis ʼn hartseer prentjie. Hulle staan daar, hulpeloos langs die pad met ʼn kannetjie terwyl die blink, luukse karre ongeërgd verby hulle jaag. Die man, wat veronderstel is om die trotse voorsiener te wees, is gedwing om sy trots in sy sak te steek ten einde homself en sy gesin uit hul verknorsing te bevry.
Soos al die ander mense, ry ek eers verby en maak asof ek dit nie raakgesien het nie. ʼn Paar honderd meter verder sien ek egter in my geestesoog die moedelose, wanhopige paartjie wat sonder ʼn sent in hul sakke, hulpeloos langs die pad staan.
Iets binne my sê vir my dat ek moet omdraai en hierdie mense moet help. Wat as die Here my gestuur het om hierdie mense te help en ek ignoreer dit eenvoudig? Wat as ek sowaar hulle enigste redding is?
Ek ry stadig oor die klipperige sand en hou so paar meter van die paartjie af stil. Die man sien my raak, en kom nader gestap. “Goeie middag meneer, ek sien julle het brandstof nodig. Kan ek julle help?” vra ek. “Ja, asseblief maar ons het nie enige geld nie. Ons kom nou juis van ʼn werksonderhoud af. Ek moet my vrou en kleintjie by die huis kry,” sê die man terwyl hy skamerig sy kop sak.
Ek bied aan om die kannetjie vol brandstof te gaan maak by die naaste vulstasie, wat toevallig net om die draai is. Die man bedank my met groot waardering in sy sagte, blou oë. Aan sy linkerhand sien ek sy trouring blink in die laatmiddag-son. Ek besef weereens dat hierdie man, soos baie ander daarbuite, vir sy vrou en kind se welstand verantwoordelik is maar nie finansieel in staat is nie.
Na ʼn paar minute neem ek die vol kannetjie brandstof vir die gestrande paartjie. Hulle staan nogsteeds langs die motor, alleen. Niemand het intussen stilgehou en gevra of hulle hulp nodig het nie. “Baie dankie, nou kan ons darem huis toe gaan,” sê die man toe hy die kannetjie by my neem. Ek knik en groet die man.

Op pad huis toe voel ek skielik ʼn gevoel van dankbaarheid oor my spoel. ʼn Gevoel van dankbaarheid omdat ek instaat was om die man en vrou te help, maar ook ʼn gevoel van dankbaarheid omdat die Here my gekies het om tot iemand anders se redding te kom.
Die hele ervaring het my ʼn waardevolle lewensles geleer: Die Here bring mense en gebeurtenisse oor ons pad met ʼn spesifieke doel in oog. Elke klein gebeurtenis in ons lewens is ʼn legkaartsukkie wat uiteindelik deel uitmaak van ʼn groter prentjie. Legkaartstukke maak nie op hul eie sin nie en is nie noodwendig mooi prente op hul eie nie, maar wanneer ʼn mens dit saamvoeg vorm dit die pragtigste prente. Eers wanneer dit klaar is, verstaan ons waarom elke legkaartsuk so kosbaar is.
Mag die Here elkeen van julle as legkaartstuk in sy pragtige prent gebruik en mag elke gebeurtenis of persoon wat oor jou pad kom, bydra tot ʼn pragtige prent van jou lewe.

 

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152