Eiendom: Kan ek my satellietskottel saamneem?

Maandag, Maart 14th, 2016

Mnr. Koper is opgewonde oor die woonstel wat hy by Mnr. Verkoper koop, soveel te meer omdat die woonstel saam met ’n geïnstalleerde DSTV-satellietskottel kom waaraan hy net sy dekodeerder hoef te koppel. Mnr. Verkoper beplan egter nié om sy satellietskottel agter te laat nie. Maar kan Mnr. Verkoper net sy skottel saamvat, of is Mnr Koper geregtig daarop dat die skottel agterbly?

Uit die bogenoemde is dit duidelik dat die partye nie op dieselfde bladsye is wat betref die satellietskottel nie. Die koper glo die skottel vorm deel van die eiendom en moet agterbly, terwyl die verkoper dink die skottel is ’n roerende item wat hy saam met hom kan neem. Omdat die eienaarskap van die satellietskottel nie spesifiek in die koopkontrak aangespreek word nie, is dit nou ’n kwessie van interpretasie oor watter party ’n reg tot die skottel het.

’n Aanhegting is ’n roerende item wat deel word van onroerende eiendom op grond van sy aanhegting. Ons howe het beslis dat die beginsels wat toegepas moet word in die bepaling van of ’n voorwerp ’n aanhegting is al dan nie, is die volgende:

 

• Is die aard van die relevante voorwerp dat dit deel van die onroerende eiendom vorm?

• Is dit fisies daaraan vasgeheg?

• Is dit bedoeling dat die voorwerp permanent aan die eiendom moet behoort?

 

In hierdie geval, kan Mnr. Verkoper redeneer dat selfs al is die satellietskottel fisies aan die onroerende eiendom geheg, die aard daarvan steeds nie sodanig is dat dit deel vorm van die onroerende eiendom nie, en dat die bedoeling nooit was dat dit permanent op die eiendom sou bly nie. Mnr. Verkoper sou ook kon aanvoer dat die satallietskottel slegs aan die eiendom geheg was as ’n bykomstigheid tot die dekodeerder wat gebruik word om na die DSTV-kanale te kyk, en dus nouer verwant is aan die dekodeerder as aan die onroerende eiendom – en dus nie ’n aanhegting is nie.

Mnr. Koper kan egter op sy beurt beweer dat Mnr. Verkoper hom mislei het deur vir hom die eiendom te wys mét die satellietskottel by en sonder enige spesifieke aanduiding dat hy die skottel gaan verwyder. Dit het dus die indruk geskep dat Mnr. Verkoper die skottel insluit by die woonstel, wat die woonstel meer aanloklik gemaak het en wat ’n vals of misleidende voorstelling van die eiendom was. Mnr. Koper sou ook kon aanvoer dat aangesien die skottel vasgebout was aan die eiendom dit deel geword het van die onroerende eiendom en dus ’n aanhegting was wat moes gebly het.

Duidelik het beide partye meer as genoeg gronde om hul saak te verdedig met moontlike meriete aan beide kante. Die vraag word dan, hoe vermy ’n mens hierdie soort onenigheid tussen koper en verkoper?

’n Satellietskottel kan taamlik maklik verwyder word en word daarom gesien as ’n bykomstigheid tot die draagbare dekodeerder wat beweegbaar van aard is. ’n Satellietskottel kwalifiseer nie as ’n integrale aanhegting tot die onroerende eiendom nie, aangesien dit verwyder kan word en ook funksioneel op ’n ander plek kan wees – en dus nie beskou word as ’n aanhegting wat nie verwyder kan word nie.

In teenstelling word iets soos die sleutel van ’n deur, selfs al is dit duidelik ’n roerende item, weens die gebruik daarvan ’n permanente aanhegting omdat ’n huis se deur nie gesluit of oopgesluit kan word sonder ’n sleutel nie. Die sleutel verloor gevolglik sy onafhanklikheid en word deel van die deur, en kan nie meer afsonderlik onderskei word nie. Die verwydering van ’n sleutel sal dus nie regverdigbaar wees nie.

‘n Satellietskottel kan daarom deur ‘n verkoper verwyder word omdat dit steeds funksioneel op ‘n ander plek kan wees, tensy sodanige verwydering kontraktueel verbied word. Aangesien ons regstelsel nie spesifiek voorskryf of ‘n skottel verwyder kan word en of dit moet agterbly nadat die eiendom verkoop is nie, is dit belangrik dat die partye kontraktueel bepaal wat met die skottel moet gebeur om latere twis te vermy.

Die partye moet dus die volgende stappe neem in die opstel van enige koopkontrak:

 

• As die verkoper die satellietskottel wil verwyder en nie agterlaat op die eiendom nie, moet die verkoper dit duidelik openbaar aan beide die eiendomsagent en die verkoper om enige wanindruk te vermy.

• Die koopkontrak moet spesifiek uiteensit dat die skottel uitgesluit is uit die koopkontrak.

• Die partye moet enige ander spesifieke aanhegtings of toebehore aanspreek en bepaal of die bedoeling is dat dit agterbly of verwyder word.

 

Waar nodig moet die hulp van ‘n eiendomsagent of eiendomspesialis ingeroep word voor enige koopkontrak geteken word om die hantering van aanhegtings soos satellietskottels reg te omskryf en reguleer, en so latere twis te vermy.

 

Bron: BDP Prokureurs

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170