Eerstekoper van eiendom? Merk dan hierdie lys af

Dinsdag, September 6th, 2016

Om ’n nuwe huis te koop, is een van die grootste finansiële beleggings wat julle ooit sal maak en julle het ongetwyfeld baie vrae oor die proses.

 

Is julle reg om julle eerste huis te koop?

Voordat julle jul daarvoor reg maak om julle droomhuis te koop, is dit belangrik om seker te maak dat julle gereed is vir so ’n groot, voortdurende finansiële verpligting – met ander woorde, is julle inkomste stabiel en voldoende om ’n eerstekeer-verband te dra?

As julle seker is van julle werk en ’n gereelde maandelikse salaris verdien, sal julle ’n redelik goeie idee hê van of julle kan bekostig om ’n huis te koop of nie. As julle egter vir julself werk, kan julle inkomste onvoorspelbaar wees, wat dit moeiliker maak om vir seker te weet of julle in ’n posisie is om te koop.

Dis ook belangrik om rekening te hou met die koste en gelde wat met die koop van julle nuwe huis gepaard gaan. Julle sal moet spaargeld hê vir ’n deposito op die huis en julle sal ook moet dink aan trekkoste, huiseienaarsversekering en erfbelasting op julle eiendom. Om seker te maak dat julle kan bekostig om te koop, is dit noodsaaklik om al julle maandelikse uitgawes te bereken EN dié wat met die koop van julle eerste huis gepaard gaan. As ’n algemene reël behoort julle verbandterugbetalings saam met erfbelasting en eiendomversekering hoogstens 25% tot 30% van julle bruto inkomste uit te maak.

Trouens, ’n verantwoordelike uitlener sal nie ’n lening goedkeur wat meer as 30% van julle gesamentlike bruto maandelikse inkomste beloop nie. Dit is ook ’n goeie idee om te probeer om enige ander skuld wat julle het (soos ’n persoonlike lening of kredietkaartskuld) af te betaal voordat julle om ’n huiskoopverband aansoek doen.

 

Belangrike faktore wat oorweeg moet word by huiskoop

Een van die mees kritieke faktore wat julle sal moet oorweeg wanneer julle julle eerste huis koop, is die soort huis wat julle nodig het. Terwyl julle eerste huis dalk nie die herehuis van jul drome is nie, is dit belangrik om seker te maak dat dit in al julle huidige en mediumtermyn-behoeftes voorsien. Byvoorbeeld, ’n eenslaapkamerwoonstel by die see is dalk ’n idilliese plekkie vir ’n pasgetroude paartjie, maar is dit ’n praktiese plek om kinders in groot te maak?

Wanneer mens ’n eiendom koop, is dit van die uiterste belang om julle individuele behuisingsbehoeftes asook dié van julle gesin ─ of toekomstige gesin! ─  in ag te neem. Is die huis sentraal geleë, of ten minste binne ’n redelike afstand van julle werkplek, kruidenierswinkels, dokters, skole en apteke? En, die belangrikste, is die area relatief veilig? Hoewel julle dalk “meer huis” vir julle geld in ’n minder gewenste deel van jou stad of dorp kan kry, is dit dalk  nie ’n geskikte area vir kinders om in te bly en speel nie. Die waarde sal dalk ook nie styg soos in ’n meer gesogte area nie.

As julle eers besluit het in watter area julle graag wil bly en ’n idee het van die tipe huis wat julle wil koop, is julle reg om te begin huis soek. Hoewel dit na bewering ’n lang proses is om ’n huis te kry, moet julle nie verbaas wees as julle binne weke julle ideale huis kry nie.

As julle die huis kry wat reg is vir julle, is dit ’n goeie idee om dit op te raap en die drang om rond te soek na ’n winskopie te weerstaan. As julle ’n eiendom kry teen die regte prys en wat perfek is vir julle, koop dit.

 

Nuttige wenke vir eerstekeer-huiskopers

  • Neem ’n digitale kamera saam as julle gaan huis soek. Foto’s sal julle help om spesifieke besonderhede te onthou van elke huis wat julle sien ─ wat baie sal help as julle tot ses huise op een dag besigtig.
  • Skryf die hoofpunte van elke huis neer terwyl julle dit inspekteer. Teken veral die grootte, spesiale kenmerke, ontwerp en ander faktore aan wat julle besluit kan beïnvloed.
  • Neem kennis van die area en sy omstreke. Is die huis naby alle geriewe of is dit afgesonder? Sal julle gelukkig wees as julle in daardie bepaalde omgewing bly?
  • As julle jul opsies minder gemaak het, vra om die huise waarvan julle die meeste hou weer te sien. Dit sal help om julle opsies verder uit te dun.

 

 

Bron: SA Home Loans

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170