Een belastingkoers vandag, môre ʼn ander?

Maandag, November 21st, 2016

Louis Botha en Heinrich Louw

 

Sedert die eerste weergawe van die Draft Taxation Laws Amendment Bill, 2016 (First Draft TLAB) en die verduidelikende memorandum daarby (memorandum) op 8 Julie 2016 vrygestel is, het die voorgestelde wysigings ten opsigte van trusts en werknemeraandeelskemas die meeste aandag geniet.

Nog ʼn beoogde wysiging met potensieel verreikende gevolge wat egter sedert die vrystelling van die First Draft TLAB min aandag geniet het, is een wat daartoe kan lei dat ʼn belastingbetaler vandag belasting teen een koers kan betaal en môre teen ʼn ander koers, wanneer die minister van finansies (minister) dit ook al beveel.

 

Die voorgestelde wysiging

 

Ingevolge die First Draft TLAB word voorgestel dat die minister die mag moet hê om die belastingkoerse wat ingevolge verskeie stukke wetgewing van toepassing is, te wysig deur bloot die wysiging in die jaarlikse begrotingsrede aan te kondig. Voorts sal hierdie gewysigde koers in werking tree op die datum wat die minister in die begrotingsrede aankondig en vir ʼn tydperk van 12 maande van daardie datum af van toepassing wees, tensy die parlement versuim om binne daardie 12-maande-tydperk wetgewing goed te keur wat uitvoering gee aan die aankondiging.

 

’n Soortgelyke wysiging van die Wet op Hereregte (Wet 40 van 1949) is reeds aangebring maar dit word nou voorgestel met betrekking tot die volgende stukke wetgewing:

  • Wet op Inkomstebelasting (Wet 58 van 1962)
  • Wet op Boedelbelasting (Wet 45 van 1955)
  • Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde (Wet 89 van 1991; BTW-wet)
  • Wet op Heffing vir Vaardigheidsontwikkeling (Wet 9 van 19999; HVO-wet)
  • Wet op Belasting op Oordrag van Sekuriteite (Wet 25 van 2007)
  • Wet op bydraes tot Werkloosheidsversekering (Wet 4 van 2002; BWV-wet)
  • Wet op Tantieme op Mineraal- en Petroleumhulpbronne (Wet 28 van 2008)

 

Kwessies te berde gebring en Nasionale Tesourie se reaksie

 

ʼn Ooglopende tekortkoming van die voorstel in die First Draft TLAB wat opgehaal is tydens die openbare verhore, soos uitgelig in die konsepreaksiedokument van Nasionale Tesourie en SAID (reaksiedokument), is dat die bepaling neerkom op ʼn delegering deur die parlement van sy wetgewende mag aan die minister. Ingevolge a77 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Grondwet) moet ʼn geldwetsontwerp deur die parlement goedgekeur word. Die probleem is in die reaksiedokument erken en daar is aangedui dat die voorgestelde bepalings gewysig sou word om hulle in ooreenstemming met die Grondwet te bring. Die bewoording van die belastingbepalings (charging provisions) is gewysig en die bepalings van die tweede weergawe van die Draft Taxation Laws Amendment Bill  (2016) bepaal dat die koersveranderings wat deur die minister aangekondig word van die aangekondigde datum af toegepas mag word onderworpe daaraan dat die parlement die tersaaklike wetgewing binne 12 maande na die aangekondigde inwerkingtredingsdatum aanvaar.

 

Kommentaar

 

Die implementering van die voorgestelde wysigings aan bogenoemde wetgewing in sy huidige vorm kan lei tot ʼn aantal praktiese probleme vir belastingbetalers. ʼn Wysiging van die BTW-koers ingevolge a7 van die BTW-wet is een voorbeeld wat die probleme wat kan ontstaan, illustreer.

 

Ingevolge a27 van die BTW-wet moet BTW-ondernemers na gelang van die kategorie waarin hulle val elke maand, elke ses maande of elke twaalf maande BTW-opgawes indien. Ingevolge a28 moet ʼn BTW-ondernemer sy BTW-opgawe indien binne 25 dae na die einde van die betrokke tydperk. Tans bepaal a7 van die BTW-wet uitdruklik dat BTW-ondernemers BTW in rekening moet bring teen 14% van die waarde van die lewering. Indien die minister op 28 Februarie 2017 (ʼn hipotetiese datum) in die begrotingsrede sou aankondig dat die BTW-koers met ingang van 1 April 2017 tot 15% verhoog word, sal die parlement wetgewing te dien effekte binne 12 maande na 28 Februarie 2017 moet deurvoer. Indien die wetgewing nie ooreenkomstig a77 van die Grondwet deurgevoer word nie, sal BTW-ondernemers teoreties geregtig wees op terugbetalings op grond daarvan dat hulle gedurende hierdie tydperk BTW teen die koers van 14% in plaas van 15% behoort te gehef het. Daar is in die onlangse tyd wyd verslag gedoen oor die uitdagings waarvoor belastingsbetalers te staan kom om terugbetalings uit SARS te kry. Soortgelyke probleme kan ontstaan indien die koerse ooreenkomstig die HVO-wet en die BWV-wet gewysig word en die nodige wetgewing word nie betyds deurgevoer nie, gesien die feit dat betalings ingevolge hierdie wetgewing maandeliks deur werkgewers gemaak moet word.

 

Voorts kan die terugwerkende toepassing van die wetgewing ook oop wees vir ʼn grondwetlike uitdaging. Ooreenkomstig a77(3) van die Grondwet moet alle geldwetsontwerpe oorweeg word ooreenkomstig die prosedure wat in a75 van die Grondwet vasgestel is en ʼn wet van die parlement moet voorsiening maak vir ʼn prosedure om geldwetsontwerpe in die parlement te wysig. Die Wet op die Wysigingsprosedure van Geldwetsontwerpe en Verwante Sake (Wet 9 van 2009; Geldwetsontwerpwet) is in hierde verband deur die parlement aangeneem. Artikel 11 van die Geldwetsontwerpwet bepaal dat ʼn inkomstewetsontwerp, synde een wat onder andere belastingkoerse wysig, na die Nasionale Raad van Provinsies verwys moet word soos in a75 van die Grondwet gestipuleer word. Nóg a75 nóg a77 van die Grondwet nóg die bepalings van die Geldwetsontwerpwet maak voorsiening vir die implementering van wetgewing voordat die proses ingevolge hierdie artikels gevolg is. Die gevolge van nievoldoening aan die grondwetlike bepalings in verband met die uitvaardiging van wetgewing kan verreikend wees en kan selfs daartoe lei dat die hele wetgewing ongeldig verklaar word soos in die geval van Tongoane and Others v Minister for Agriculture and Land Affairs and Others 2010 (8) BCLR 741 (CC), waar die Wet op Kommunale Grondregte (Wet 11 van 2004) deur die Konstitusionele Hof ongeldig verklaar is omdat die verkeerde prosedure by die uitvaardiging van die wetgewing gevolg is.

 

Bron: Cliffe Dekker Hofmeyr

 

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170