Druk neem toe op eerstekopers en meenthuismark

Vrydag, Julie 29th, 2016

Eugene Brink

 

In die huidige ekonomiese klimaat kies voornemende eiendomkopers – veral dié wat die eerste keer koop – natuurlikerwys kleiner en goedkoper eiendomme.

Dit is hoekom deeltiteleiendomme en woonstelle in die na-resessietydperk so gewild geword het dat deeltiteleiendomme in Mei 2016 byna 30% van alle eiendomtransaksies uitgemaak het. Selfs in die deeltitelsektor wil dit egter voorkom asof die voorkeur klein eerder as groot eiendomme is.

“Die kleinste grootte deeltitelsegment, naamlik die ‘minder as 2 slaapkamers’-segment, het steeds in die tweede kwartaal van 2016 ‘n baie sterk dubbelsyferprysinflasie van 13,7% getoon,” sê John Loos, eiendomstrateeg by FNB.

“Ver agter was die tweeslaapkamersubsegment met 7%-groei, terwyl die grootste ‘3 slaapkamers en meer’-kategorie met ‘n gemiddelde prysgroei van 5,1% die stadigste was. Al 3 hierdie subsegmente het verlangsamende prysgroei getoon.”

Loos sê dat hoewel die vraag en prysgroei steeds sterk is in die deeltitelmark, dit in die laaste tyd ’n spoedhobbel getref het. “In die tweede kwartaal van 2015 het FNB se Deeltitelhuisprysindeks ‘n effense verlangsaming in jaar-op-jaar-groei tot 6,3% ondervind teenoor die vorige kwartaal se 7%. In vergelyking hiermee het FNB se Voltitelhuisprysindeks ’n effens hoër jaar-op-jaar-styging van 7,38% aangeteken.”

Hy skryf hierdie neiging toe aan eerstekopers wat toenemend onder druk kom. “Eerstekeerkoop het in die jongste tyd beduidend afgeneem van ‘n geraamde hoogtepunt van 28% van totale huisaankope in die tweede kwartaal van 2014 tot 21% van totale huisaankope in die tweede kwartaal van 2016.

“Hoewel dit steeds ‘n betreklik goeie persentasie is, is eerstekopers oor die algemeen meer kredietafhanklik en dus rentekoerssensitief as herhalende huiskopers en ons glo dat stygende rentekoerse sedert begin 2014 die rede was vir die matige afkoeling onder eerstekopers.”

 

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170