Inge Strydom
Diegene wat privaat mediese sorg kan bekostig, moet hulself staal. Mediesefonds-premies gaan aanhou om jou sak te ruk. Dit is ook nog nie duidelik of die beoogde goedkoper mediesefonds-opsie ’n werkbare alternatief bied nie.
Luidens ʼn onlangse verslag wat deur die Raad op Mediese Skemas (RMS) vrygestel is, is mediese fondse se ledetalle aan die taan. Een van die redes hiervoor is mediese fondse se voortdurende stryd om jonger lede te werf. Daarmee saam is die mediese onkostes van ouer mense, wat meer dikwels as jonger mense eis, hoër as dié van jonger mense. Die aantal eisers van mediese fondse groei dus vinniger as die fondse, wat verklaar waarom mediesefonds-premies sedert 2002 met meer as die inflasiekoers gestyg het. Die RMS meen egter dit is ʼn wêreldwye tendens.
Dr. Elsabe Kruger, woordvoerder van die RMS, sê daar is hoofsaaklik twee redes waarom jonger mense oor die algemeen nie aan ʼn mediese fonds behoort nie. “Eerstens is jongmense se gesondheid oor die algemeen goed en sien hulle nie die nut daarin om aan ʼn mediese fonds te behoort nie. Tweedens sukkel jonger mense, wat gewoonlik kleiner salarisse verdien, om die premies van ʼn mediese fonds by te bring,” verduidelik Kruger.
Kruger verduidelik dat die beoogde laekoste-opsies vir diegene wat nie ʼn mediese fonds kan bekostig nie, ʼn werkbare oplossing bied. “Dit sal egter beteken dat mediese fondse van sekere minimum vereistes vrygestel moet word. Die RMS is tans besig om die laekoste-opsie te bestudeer en het reeds ’n eerste skrywe in dié verband aan mediesefonds-maatskappye gestuur,” sê Kruger. “Ons meen jonger mense sal beslis die laekoste-opsie gunstig oorweeg,” verduidelik Kruger.
Indien die laekoste-opsie geïmplementeer word, sal dit beteken dat ʼn volwassene vir so min as R200 per maand mediese dekking, waarvan die besonderhede nog nie duidelik is nie, kan geniet. Die onus sal egter op mediese fondse rus om aansoek om vrystelling van minimum vereistes te doen en die laekoste-opsie aan hul lede beskikbaar te stel.