Dís hoe beurtkrag jou kragrekening opstoot

Donderdag, Augustus 27th, 2015

Eugene Brink

 

Het jy gedink beurtkrag spaar jou geld omdat jy mos nie krag tydens daardie periodes verbruik nie?

 

Dink weer, want daardie ure se beurtkrag – en die gevolglike heraansluiting van die krag – kos jou in der waarheid meer as wanneer die krag bloot aan sou bly.

 

Charmaine Kupfer, bestuurder van Genlet Properties, wat deeltitelkomplekse op die Wes-Rand bestuur, sê verbruikers verstaan nie aldag hoe hul krag bereken word en wat hul verbruik en kostes beïnvloed nie. “Verbruikers se kragrekening bestaan uit twee komponente, naamlik die vaste komponent en die eenhede wat verbruik word. ’n Verbruiker van krag kan gedefinieer word as ’n private indiwidu of ’n deeltitelkompleks met verskeie wooneenhede, maar wat slegs een sentrale kragmeter het wat deur die munisipaliteit gelees word.”

 

Sy sê die vaste komponent op die rekening fluktueer na gelang van die maksimum aanvraag. “Maksimum aanvraag is die hoeveelheid krag wat tydens ’n bepaalde tydgleuf verbruik word. Die maksimum aanvraag is aansienlik hoër tussen 16:30 en 20:30 saans, asook soggens tussen 05:00 en 08:30.

 

“As ’n verbruiker se totale kragverbruik oorwegend in hierdie spitstye val – soos ’n gesin s’n – beteken dit die verbruiker se rekening is outomaties op ’n hoër maksimum aanvraag-kerf as ’n verbruiker wie se profiel die omgekeerde daarvan is – soos ’n student, sakepraktyk of enkellopende persoon.”

 

Volgens haar het die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) ’n basiese riglyn vir die verbruik van eenhede tydens spitstye. “Indien die verbruik hierdie perk oorskry, word indiwidue/komplekse dienooreenkomstig gepenaliseer.”

 

Dit is waar die beurtkrag se invloed skadelik raak. “Indien ’n kompleks of indiwidu se krag gedurende spitstye ná beurtkrag aangeskakel word, veroorsaak dit ’n skielike toename in verbruik. Dit plaas die verbruiker dan outomaties op ’n hoër maksimum aanvraagkerf.

 

“Dit bring mee dat die verbruiker ervaar dat, hoewel sy krag byvoorbeeld vyf keer vir ’n gemiddeld van vier uur per slag in ’n gegewe maand af was, sy rekening hoër is as in maande van geen beurtkrag.”

 

Hoe kan jy jou kragverbruik reguleer en die skadelike impak van beurtkrag teenwerk? “Eerstens behoort verbruikers navorsing te doen oor watter toestelle baie krag verbruik. Lugverkoelers, stowe, oonde, geisers, tuimeldroërs, skottelgoedwassers, wasmasjiene en selfs strykysters verbruik almal baie krag.”

 

“Skakel ook jou hoofskakelaar tydens beurtkrag af en hou dit af vir 10 tot 20 minute nadat die toevoer weer aangeskakel is. Dit sal nie net skade aan jou elektriese toestelle voorkom nie, maar ook verhoed dat jy op ’n hoër maksimum aanvraagkerf aangeslaan word.”

 

Volgens Kupfer is die reserwekrag (“standby power”) ook ’n kragvampier. “Reserwekrag na elektriese toestelle soos TV’s en selfoonherlaaiers kan tot 25% tot ’n kragrekening bydra.”

 

Laastens raai sy verbruikers aan om toestelle soos geisers en elektriese stowe juis tydens spitstye af te skakel. “Dit kan ’n wesenlike verskil op jou kragrekening maak. Buite spitstye is die verskil soms klein.”

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170