Die sewe doodsondes van belegging

Woensdag, Junie 15th, 2016

Barbara Friedberg

 

 

Die beleggingswêreld kan ’n skrikwekkende plek wees, met duisende aandele, effekte en onderlinge fondse wat jou verwar en talle adviseurs wat jou besigheid wil hê – dit kan verlamming en passiwiteit by jou veroorsaak. Maar nog erger, jy kan mislei word en een of meer van die sewe doodsondes van belegging begaan.

Anders as die Bybel se doodsondes maak die beleggingsondes nie jou siel seer nie, net jou bates. Wees waaksaam sodat jy nie een van hierdie finansiële wandade begaan nie.

 

  1. Wellus: Kies die verkeerde finansiële adviseur

Wellus is intense begeerte of behoefte, veral op die teenoorgestelde geslag gemik. Talle talentvolle en aantreklike mans en vroue ding mee om jou beleggingsake te kry. Om die verkeerde finansiële adviseur te kies, kan ’n groot finansiële fout wees.

“Hierdie ‘beleggingsonde’ kan jou jare lank teister, en dit is dus baie belangrik om dit te vermy,” sê Neal Frankle, gesertifiseerde finansiële beplanner van die Wealth Resources Group en redakteur van WealthPilgrim.com. “Die groot probleem ontstaan wanneer beleggers objektiewe finansiële advies nodig het maar praat met mense wat dit glad nie kan verskaf nie – kommissieverkoopsmense. Jy kan hierdie slaggat vermy deur altyd te vra hoe die adviseur betaal word.”

Beleggingsmakelaars en finansiële adviseurs wat op ’n kommissiebasis besoldig word, het ’n ingebore belangebotsing omdat hulle geld verdien slegs wanneer jy sekuriteite koop en verkoop. Hulle kan dalk in die versoeking kom om oormatige verhandeling aan te moedig wanneer hulle meer baat daarby sal vind as die belegger.

 

  1. Gulsigheid: Oormatige verhandeling

Gulsigheid is om oormatig te eet en te drink. Stapels navorsing toon dat oormatige verhandeling tot laer opbrengste lei. Elke verhandeling vereis dat jy twee keer in die kol moet wees – wanneer jy koop en weer wanneer jy verkoop. En met elke verhandeling moet jy kommissie betaal.

“Individue met ’n hoë risikotoleransie toon dikwels te veel selfvertroue, wat tot oorverhandeling, hoër kommissie en laer opbrengste in hulle beleggingsportefeuljes lei,” aldus Victor Ricciardi, assistentprofessor in finansiële bestuur aan Goucher College en mederedakteur van Investor Behavior: The Psychology of Financial Planning and Investing.

 

  1. Hebsug: Koop in borrrels

Hebsug is die oordrewe behoefte om steeds meer en meer te verkry en op te gaar. Beleggers kan deur hierdie sonde verblind word om swak beleggingskeuses te maak.

Laat in die 1990’s was aandeelpryse hemelhoog. Met die ontploffing van die tegnologiebedryf het beleggers se beleggings onvolhoubaar gegroei. As gevolg van die nuwe tegnologieë was die algemene mantra destyds: “Tye is anders.”

Hierdie woorde is dikwels gebruik toe die markte hulle pieke bereik het. Volgens die Wall Street Journal is dit gebruik as regverdiging om aandele teen buitensporig hoë aandelemarkwaardasies te koop.

Hierdie beleggingsonde was nog elke keer verkeerd. Om oorwaardeerde bates te koop, lei nie tot toekomstige wins nie. Die teenmiddel vir die sonde van hebsug by belegging is om ’n verstandige beleggingsplan saam te stel en daarby te hou.

 

  1. Luiheid: Versuim om basiese beginsels te leer voordat jy belê

Die sonde van luiheid is om harde werk en aktiwiteit te vermy. Beleggers wat lui is wat hulle noulettendheidsondersoeke betref en nie oor belegging leer nie, loop ’n risiko om geld te verloor.

“Hierdie sonde kan maklik vermy word,” sê Frankle. “Daar is so baie inligting wat so maklik is om te verteer, dat dit maklik is om die probleem reg te stel. Onderneem om 30 minute per dag te gebruik om geloofwaardige, objektiewe bronne te lees van mense wat nie iets aan jou wil verkoop nie, dan is jy op die regte pad.”

 

  1. Woede: Oormatige aggressie

Die doodsonde van woede is uiterste en wraaksugtige toornigheid. Woede word dikwels geassosieer met ’n gebrek aan impulsbeheer of roekeloosheid. Hierdie eienskappe kan by sommige ooraggressiewe beleggers gesien word.

Ooraggressiewe beleggers word deur risiko gelok en soek selfs daarna. Hulle steur hulle nie aan ‘n verstandige beleggingstrategie wat balans en diversifikasie insluit nie.

Ooraggressiewe beleggers is irrasioneel en belê in ongetoetste marktydberekeningskemas of -strategieë wat buitensporige opbrengskoerse belowe. Hierdie beleggers moet hulle inhou, besin en ’n rasionele beleggingstrategie soos ’n passiewe indeksfondsbenadering kies.

 

  1. Afguns: Die tropmentaliteit

Afguns is ’n begeerte om te hê wat iemand anders het. Tropmentaliteit is die eweknie van afguns in die beleggingswêreld. Hierdie gedragsfinansieskonsep verwys na beleggers wat die skare volg en belê in wat gewild is sonder inagneming van waardasies of hulle eie individuele omstandighede.

“Beleggers is gewoonlik baie sosiale mense, veral ten tyde van ’n borrel op die aandelemark,” sê Ricciardi. “Hierdie individue grond hulle besluite op die eerste brokkie inligting waaraan hulle blootgestel word, soos ’n eerste koopprys van ’n aandeel.”

“Hierdie skaresielkunde bring mee dat die individu verwag dat ’n aandeelprys sal aanhou styg vir ’n onbeperkte tydhorison,” sê hy. “Wanneer die borrel bars, lei dit tot kwaai verliese vir die individuele belegger.”

 

  1. Trots: Laat ego beleggingsbesluite beïnvloed

Die sonde van trots steek sy lelike kop uit wanneer jy dink jy is beter as ander en jy te veel selfagting toon.

Dink jy jy weet beter as ander mense wat belegging betref? Selfs ’n gesoute beleggingsportefeuljebestuurder moet leer en aanvaar dat akademiese bewyse toon dit is moeilik om markopbrengste te klop. Die beste manier hierdie sonde van oormatige selfvertroue by belegging te oorkom, is om ’n goeie begrip van beleggingsnavorsing te kry, soos deur hoog aangeskrewe boeke deur Burton G. Malkiel, Charles D. Ellis, Richard A. Ferri, William J. Bernstein en John C. Bogle te lees.

 

Bron: GoBankingRates

 

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152