Die regsimplikasies van die voetstootsklousule

Dinsdag, November 29th, 2016

Wanneer jy iets koop, is daar ’n geïmpliseerde waarborg dat die merx (die ding wat verkoop word) vry van enige gebreke is. Dit is egter moontlik om by hierdie geïmpliseerde waarborg verby te kom deur ’n vrystellingsklousule in die kontrak in te voeg wat sê die verkoop is voetstoots.

Die term voetstoots is ’n Nederlandse woord en word gebruik om ’n verkoop sonder waarborge te beskryf waar die merx verkoop word “soos dit is” met al sy tekortkominge.

Voetstootsklousules is baie algemeen in skriftelike koopooreenkomste en word dikwels met agterdog bejeën. Baie mense is van mening dat sulke klousules ’n kontrakterende party met ’n sterker bedingingsposisie in staat stel om die ander swakker kontrakterende party uit te buit en te misbruik. Omdat die merx gekoop word “soos dit is”, dink baie mense die verkoper kan nie vir enige gebreke wat later aan die lig kom, aanspreeklik gehou word nie. Hierdie siening is verkeerd en is ’n wanvertolking van die reg.

 

Die gemeenregtelike posisie

Ingevolge die gemenereg kan ’n koper beswaar aanteken waar die merx gebrekkig was ten tyde van die verkoop en waar die verkoper bewus was van die gebrek maar versuim het om dit aan die koper bekend te maak, wel wetende dat as die koper daarvan geweet het, hy óf nie met die koop sou voortgaan nie óf ‘n gunstiger koopprys sou beding het. In so ’n geval is die onus op die koper om die wanvoorstelling aan die kant van die verkoper te bewys.

Gevolglik sal aanspreeklikheid aan die kant van die verkoper ontstaan as ’n gebrek verborge is en nie sigbaar is nie.

Verborge gebreke is tekortkominge wat nie met die blote oog sigbaar is nie en verskuil is, byvoorbeeld ’n lekkende geiser of foutiewe bedrading. In so ’n geval kon die koper nie voor die verkoping redelikerwys van die gebrekkige kwaliteit van die merx bewus gewees het nie en behoort hy die verkoper vir so ’n gebrek aanspreeklik te kan hou.

Sigbare gebreke is foute wat merkbaar en sigbaar is vir ’n deeglike persoon deur ’n normale inspeksie van die merx, byvoorbeeld ’n stukkende venster of ’n duik in ’n deur. Hier is dit die koper se verantwoordelikheid om die merx deeglik te ondersoek en te inspekteer voordat hy dit koop, en gevolglik is dit hy wat die spit sal moet afbyt indien dit later sou blyk dat daar so ’n gebrek bestaan het.

Die waarborg teen verborge gebreke geld outomaties deur regswerking en maak deel uit van die naturalia (bepalings wat in die reël regtens geld vir elke kontrak van ’n bepaalde klas) van elke verkoopkontrak.

 

Die nuwe posisie – die WVB

Die Wet op Verbruikersbeskerming, No 68 van 2008 (“die Wet”) het ’n beduidende invloed op die gemeenregtelike waarborg teen verborge gebreke. Die Wet is egter nie van toepassing nie op ’n transaksie waar die koper ’n regspersoon is waarvan die batewaarde of jaarlikse omset ten tyde van die transaksie gelyk is aan of meer is as die drempelwaarde van R2 miljoen, soos van tyd tot tyd deur die Minister van Handel en Nywerheid bepaal.

Die Wet sal dus ook nie van toepassing wees nie waar goedere en dienste nie in die gewone loop van sake verskaf word nie. Byvoorbeeld, waar ’n huiseienaar sy huis wil verkoop en dit eenmalig verkoop en nie in die gewone loop van sy besigheid nie, sal die gemeenregtelike posisie soos hierbo bespreek, van toepassing wees. Dus val nie alle koopooreenkomste noodwendig onder die Wet en die beskerming vir die koper teen gebreke nie.

Artikel 55 van die Wet bepaal dat ’n koper ’n reg het om goedere te ontvang wat geskik is vir die doel waarvoor dit gekoop word, en dat dit van goeie gehalte, in werkende toestand en sonder gebrek moet wees.

Dit beteken dat dit nie saak maak of die koper die gebrek kon sien of nie, en of die verkoper die gebrek op bedrieglike wyse verberg het nie. Gebreke moet uitdruklik openbaar gemaak word en ’n algemene klousule dat die koper die eiendom aanvaar “soos dit is”, sal nie aanvaarbaar wees nie (solank die verkoop aan die Wet onderhewig is).

Hierdie bepalings geld egter nie waar die koper uitdruklik ingelig is dat die merx in ‘n spesifieke toestand aangebied word en hy uitdruklik ingestem het om dit in daardie toestand te aanvaar, of bewustelik opgetree het op ’n manier wat ooreenstem met aanvaarding van die merx in daardie toestand. Met ander woorde, as die koper bewus is dat die eiendom verkoop word in die toestand waarin dit staan op die datum van verkoop en waar die koper ’n geleentheid gehad het om die eiendom te inspekteer, sal die voetstootsklousule steeds deel van die ooreenkoms uitmaak.

 

Ten slotte

Dit is baie belangrik dat kopers en verkopers die begrip voetstoots moet verstaan voordat hulle enige koopkontrak aangaan. ’n Mens moet jou vergewis van die nuwe tersaaklike bepalings van die Wet en die regsimplikasies daarvan voordat jy ’n koopooreenkoms aangaan.

Verkopers moet versigtig wees as hulle ’n voetstootsklousule by ’n koopooreenkoms insluit en word aangeraai om regsadvies oor die afdwingbaarheid van sodanige klousule in te win. Insgelyks moet kopers ook regsadvies oor sulke klousules inwin voordat hulle so ’n ooreenkoms aangaan.

 

Bron: VDMA Prokureurs

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150