Die raaisel van die reisiger se rande – opgelos

Maandag, Desember 8th, 2014

Geskryf deur: Paul Joubert

 

ʼn Gewilde storie oor hoe geld funksioneer wat per e-pos rondgestuur word en op talle webwerwe verskyn, veroorsaak heelwat konsternasie..

Die basiese vorm van die storie is dat ʼn besoeker uit die stad by ʼn hotel op ʼn klein dorpie opdaag en R200 kontant aan Jan, die hotelbaas, oorhandig vir verblyf vir die aand. Die reisiger loop met die trappe op tot by sy kamer op die boonste verdieping van die hotel. Jan neem die R200 en gaan betaal gou sy rekening by Sarie, die kruidenier op die dorp. Die kruidenier neem die R200 en gaan betaal blitsig haar rekening by Luigi, die haarkapper. Skaars 20 minute nadat die reisiger oorspronklik die R200 aan Jan oorhandig het, kom Luigi by die hotel aan en betaal sy R200-kroegrekening by Jan af. Net nadat Luigi die R200 aan Jan oorhandig het, kom die reisiger skielik weer by die hotel se trappe af en sê dat hy weens onvoorsiene omstandighede dadelik moet teruggaan stad toe en dat hy dus nie meer in die hotel gaan oornag nie. Jan gee die R200 terug aan die reisiger, wat in sy motor klim en terugry stad toe. Nou is die raaisel: Die reisiger verdwyn met die R200, maar almal se skuld is betaal. Drie van die dorpsbewoners het ʼn inkomste van R200 gekry, maar die R200 is skoonveld! Hoe is dit dan moontlik?

Die rede waarom hierdie storie ʼn mens maklik laat kopkrap, is omdat daar aan die R200 gedink word as ʼn inkomste vir elkeen van die dorpsbewoners. Die manier waarop dit duidelik word dat daar niks vreemd of verkeerd is aan wat hier gebeur het nie, is deur aan die situasie te dink in terme van bates en laste:

Voordat die reisiger aangekom het, het Jan, Sarie en Luigi elkeen R200 se bates en R200 se laste gehad. Nou kan daar gevra word: “Watter bates? Skuld almal nie net geld nie?” Dit is korrek – almal skuld geld, maar waar skuld ʼn las vir die lener is, is dit ʼn bate vir die uitlener. Dink terug aan rekeningkunde op skool, waar “debiteure” aan die batekant van die grootboek ingeskryf is.

Jan skuld R200 aan Sarie en vir hom is dit ʼn las, maar vir Sarie is die feit dat Jan haar R200 skuld, ʼn bate. Sarie het weer ʼn las van R200 teenoor Luigi, maar vir Luigi is dit ʼn bate. Luigi se las van R200 is teenoor Jan, wat dus ook ʼn R200 bate het. Die netto situasie is dus dat elkeen van die drie dorpsbewoners ʼn las van R200 het, maar dat elkeen ook ʼn bate van R200 het. Elkeen se persoonlike “balansstaat” balanseer dus presies. Gesamentlik is al drie se balanse dus ook R0, nog voordat die reisiger gekom en gegaan het en al die skuld afbetaal is. Nadat die reisiger die dorp met sy R200 verlaat het, is elke individu in die dorp se balans steeds R0 en die totale balans natuurlik ook steeds R0. Niks het verander nie. Inderdaad, dit sou juis vreemd gewees het as die reisiger nie sy R200 saamgeneem het nie, want dan sou dit beteken het dat hy R200 betaal het vir geen diens wat gelewer is nie – Jan sou R200 gekry het sonder dat hy waarde toegevoeg het tot die situasie.

Nog ʼn manier om dit duidelik te maak dat hier geen geknoei plaasvind nie, is om te dink wat kon gebeur het as Jan die reisiger toegelaat het om eers in die oggend te betaal vir sy hotelverblyf. Die R200 sou in die reisiger se beursie gebly het en Jan sou dit nooit ontvang het nie.

Gestel nou dat Jan vir Sarie laat weet dat Luigi hom R200 skuld en dat Sarie bereid is om Jan se skuld by haar winkel af te skryf, as Jan haar die reg gee om die R200 wat Luigi aan Jan skuld, in te vorder. Saam stap Sarie en Jan oor die straat na Luigi se haarsalon toe en Jan verduidelik aan Luigi dat Luigi nou die R200 aan Sarie skuld en nie meer aan hom wat Jan is nie. Luigi herinner Sarie egter daaraan dat sy hom nog R200 skuld vir haar modieuse kapsel wat sy ʼn week gelede by sy salon laat doen het. Hulle kom ooreen dat albei die saak sal laat vaar, aangesien hulle mekaar presies dieselfde bedrag skuld – dit sou tog niks help as die een vir die ander een R200 gee, net vir die ander een om dit dadelik terug te gee nie. Nou is al die skuld wat tussen Jan, Sarie en Luigi bestaan het, iets van die verlede, sonder dat enige kontant betrokke was. Jan loop terug na sy hotel toe, waar hy die reisiger aantref wat laat weet dat hy nie in die hotel gaan bly nie. Die reisiger vat die pad, met die R200 nog steeds in sy beursie, soos dit hoort.

Dit maak dus nie eers saak of die reisiger geld aan Jan oorhandig het of nie. Dalk het die reisiger nie eers kontant by hom nie of dalk het hy R20 000 by hom ‒ dit maak geen verskil aan die uitkoms nie. In der waarheid hoef die reisiger nie eers in die storie te wees nie – die uitkoms is dieselfde. Die oënskynlike raaisel verdamp.

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170