Die lewensfases van geld in jou 20’s, 30’s, 40’s, 50’s en 60’s

Vrydag, Februarie 26th, 2016

Spaar behoort altyd ʼn prioriteit te wees, maar hoe jy jou spaargeld aanwend, kan gedurende jou loopbaan verander.

 

Jou 20’s

Jou 20’s is die ideale tyd om ʼn spaarplan te begin opbou. Indien jy nog nie met ʼn gesin begin het of ʼn huis gekoop het nie, is dit belangrik dat jy jou besteebare inkomste vir jou laat werk eerder as om dit op vermaak, handelsmerkklere en foefies te vermors.

In hierdie stadium behoort jou prioriteit die begin van ʼn noodfonds te wees. Dit sal jou finansieel beskerm teen toekomstige noodgevalle soos hospitaalrekeninge of bybetalings op ʼn motorongeluk. Mettertyd kan jy hierdie fonds opbou om ten minste drie maande se maandelikse uitgawes te dek sodat dit jou ook kan beskerm indien jy jou werk verloor.

Begin ook met aftreebydraes aangesien jy die voordeel van saamgestelde groei op die lang termyn sal kry. Hoe vroeër jy begin spaar vir aftrede, hoe minder sal jy in werklikheid oor die hele tydperk hoef te spaar. Bonusse en dertiende tjeks is uitstekende maniere om jou spaargeld aan te vul – mik daarna om 15% van sodanige meevallers óf in jou aftree-annuïteit óf in jou maatskappy se pensioenfonds te spaar.

Vestig ʼn spaarplan vir ʼn motor en ʼn huis. Dit is duur bates wat jy sal wil aanskaf. Koop dit eers wanneer jy genoeg gespaar het sodat jy nie buitensporig baie skuld hoef aan te gaan nie.

 

Jou 30’s

Teen die tyd dat jy in jou 30’s is, behoort jy reeds oor werksvaardighede te beskik en het jy hopelik reeds die voordeel van bevorderings gekry – wat beteken dat jy meer geld sal hê.

Gebruik die addisionele inkomste eerder om jou mediumtermynspaargeld aan te vul as om ʼn groter huis te koop of jou motor op te gradeer, veral indien jy beplan om met ʼn gesin te begin. Moenie jou aftreegeld in kontant neem wanneer jy van werk verwissel nie. Indien jy dit reeds gedoen het, verhoog jou bydraes sodat jy kan inhaal.

 

Jou 40’s

Gedurende hierdie dekade sal jy heel waarskynlik as gevolg van werksondervinding ʼn verdere verhoging in jou inkomste beleef, maar jy is ook ten volle verantwoordelik vir jou gesin. Jy sal moet sorg vir huispaaiemente, skoolgeld en moontlik die versorging van ouerwordende ouers.

Indien jy nog nie jou aftreebesparing gemaksimaliseer het nie, begin dadelik aangesien dit nie so ver in die toekoms lê nie. Indien jy ʼn gesin het wat van jou inkomste afhanklik is, behoort jy jou lewensdekking te hersien. Jou kort- en mediumtermynspaargeld moet gefokus wees op skoolgeld. Begin jou ook toespits op die afbetaling van jou skuld.

 

Jou 50’s

Die 50’s is gewoonlik ʼn tyd van finansiële bekommernisse. Die meeste mense begin nou eers na hulle spaargeld vir aftrede kyk en besef dat dit veels te min is. Loopbaangewys neem die risiko’s toe en namate jy nader aan die aftree-ouderdom kom, kan jy eerste op die afleggingslys wees wanneer maatskappye afskaal.

Net soos tydens vorige dekades is ʼn noodfonds baie belangrik. Enige mediumtermynbesparings moet nou fokus op die beplanning van ʼn nuwe loopbaan sodat jy vir ʼn noemenswaardige tyd na aftrede vir jouself kan werk.

 

Jou 60’s

Dit is die dekade van afrekening. Indien jou aftreevoorsiening nie voldoende is nie, moet jy begin om alternatiewe beplanning te doen. Die goeie nuus is dat jy kan oorweeg om te besnoei op lewensdekking indien jou verband afbetaal is en jou afhanklikes aanbeweeg het. Die slegte nuus is dat jy jou mediese dekking sal moet aanvul. Indien jy nog nie jou aftreebefondsing gemaksimaliseer het nie, is dit nou beslis jou laaste kans.

 

Bron: Liberty

 

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161