Die krag van saamgestelde groei

Vrydag, Mei 8th, 2015

Appie Pienaar

Saamgestelde groei as die sogenaamde ‘agtste wonder’ van die wêreld word soms (verkeerdelik, natuurlik!) as een van Einstein se wyshede aangehaal. Of Einstein dit kwytgeraak het of nie, is seker nie baie belangrik nie. Wat wel belangrik is, is dat elke belegger en potensiële belegger wel deeglik kennis moet neem van die krag van saamgestelde groei.

Saamgestelde groei beteken gewoon dat mens rente (of ander vorme van groei) op sowel die aanvanklike beleggingsbedrag verdien as op die rente reeds ontvang – dus rente op rente of groei op groei. In hierdie artikel verwys ons nie graag na “rente” nie omdat ons van mening is dat fondse wat rente verdien, nie goeie beleggings is nie, veral nie vir ‘n jongmens nie. Dit is wel risikovry, maar klop kwalik inflasie – veilig, maar vervelig. Dan kies mens maar liewer aandele of eiendom.

In hierdie artikel wil ons die klem op een spesifieke aspek van saamgestelde groei laat val: die groot verskil wat ‘n addisionele persentasiepunt of drie se groei aan die eindwaarde van ‘n belegging kan maak.

Belê die vyfde kwart!

Skaapboere verwys gewoonlik na die vel en die afval van ‘n karkas as die vyfde kwart – daardie ekstra inkomste waaroor die boer en die slagplaas van tyd tot tyd stry kry, maar waarop die boer nie juis reken nie. In die geval van aandele kan die jaarlikse dividend wat uitbetaal word, as die vyfde kwart beskou word. Dividendopbrengse op genoteerde aandele is gewoonlik maar laag – sê gemiddeld so tussen 2% en 3% per jaar. Sommige beleggers is geneig om hierdie inkomste te spandeer in plaas van om dit te herbelê.

Neem die voorbeeld van twee broers, Piet en Jan. Piet en Jan erf elkeen een miljoen Rand se aandele van ‘n familielid. Beide se aandele presteer goed en groei teen 12% per jaar. Die aandele betaal ook jaarlikse dividende teen 3% per jaar uit. Piet kies om alle dividende te herbelê, en sy effektiewe groei is dus 15% per jaar. Jan besluit om sy dividende uit te gee, aangesien hy tevrede is met ‘n groeikoers van 12%.

Aangesien 12% en 15% nie veel verskil nie, sou mens verwag dat daar nie so ‘n groot verskil in die eindwaarde van die broers se beleggings sou wees nie – miskien ‘n verskil van 20% of so. Tog sien ons dat Piet se belegging na 25 jaar R32,9 miljoen werd is, terwyl Jan se belegging slegs R17,0 miljoen beloop – kwalik die helfte van Piet s’n!

Om seker te maak dat mens daardie ekstra 1% of 2% op jou belegging verdien, kan mens ‘n paar stappe neem: eerstens, herbelê jou beleggingsinkomste, hetsy dividend, rente of huur, met groot selfdissipline. Tweedens, bly weg van fondsbestuurders wat te duur is. ‘n Fondsbestuurder of makelaar wat 2% of 3% bestuursfooi per jaar neem, kan letterlik helfte van jou belegging uitwis oor ‘n tydperk van 25 of 30 jaar.

 

Pienaar is Solidariteit se finansiële hoof.

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161