Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry

Vrydag, April 21st, 2017

Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval.

“Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew Schaefer, BD van die nasionale eiendombestuursmaatskappy Trafalgar.

“Huurders moet hiervan bewus wees ─ en omdat daar moontlik ʼn redelik groot bedrag geld in die gedrang is, moet hulle ook weet hoe om te vermy dat hulle gepenaliseer word vir skade wat ander mense aangerig het of wat bloot die gevolg van slytasie is.”

En, sê hy, die belangrikste is ʼn duidelike visuele rekord van hoe die eiendom gelyk het voordat hulle ingetrek het, en die beste manier om dit te doen is om die eiendom saam met die verhuurder of agent te inspekteer terwyl dit nog leeg is en hul eie foto’s met tyd- en datumstempels daarop te neem van elke kamer en van enige bestaande skade wat sigbaar is.

“As jy deur ʼn verhuringsmaatskappy huur, sal die agent waarskynlik in elk geval foto’s neem tydens hierdie voorintrekinspeksie, maar jy moet daarop aandring dat joune ook by die huurkontrak aangeheg en deur die verhuurder onderteken word sodat al die partye ooreenstem vir sover dit die intrektoestand van die eiendom betref.

“Dit sal regtig help om dispute aan die einde van die huurkontrak te voorkom, en dan sal ʼn soortgelyke stel foto’s en video’s wat geneem word soos jy uittrek baie gou wys of die eiendom steeds in dieselfde toestand is en of enige ernstige skade aangerig is waarvoor jy moet betaal.”

Schaefer sê dit is die moeite werd om daarop te let dat die Wet op Huurbehuising huurders spesifiek uitsluit van enige aanspreeklikheid vir billike slytasie, wat omskryf word as deteriorasie of depresiasie in die waarde van ʼn item as gevolg van gewone of redelike gebruik.

“Daar is natuurlik nog altyd die moontlikheid van ʼn meningsverskil as die verhuurder en die huurder nie saamstem oor die verskil tussen skade en slytasie nie, maar oor die algemeen moet verhuurders aanvaar dat matte en gordyne verweer, deure en vloere skuurmerke op kry en verf verbleik ─ en dat hulle nie huurders daarvoor aanspreeklik kan hou nie.

“Aan die ander kant kan huurders hulle kanse om hul deposito gou terug te kry, verbeter deur byvoorbeeld die inisiatief te neem en matte voor die uittrekinspeksie te laat stoomskoonmaak of deur gate in die mure te vul wat veroorsaak is deur die verwydering van kunswerke of ʼn muurgemonteerde TV, en daardie mure in die oorspronklike kleur oor te verf.”

Ander dinge wat huurders kan doen om hul vertrek glad te laat verloop met hul deposito behoue, sê hy, is om ruim betyds skriftelik kennis te gee sodat die verhuurder so vroeg moontlik bewus is van hul voorneme om te trek en die bes moontlike kans het om ʼn nuwe huurder te kry voor hul vertrek. “ʼn Leë eenheid kos die verhuurder geld en hoe meer jy die kanse van leegstaan verminder, hoe beter.”

Daarbenewens moet hulle probeer om tegemoetkomend te wees as die huurder of agent die eenheid aan moontlike nuwe huurders wil wys. “Weer eens, hoe makliker jy dit maak om die eenheid te herverhuur, hoe minder sal jou verhuurder dalk ongeneë voel om jou deposito terug te betaal ─ en hoe beter die kanse dat jy ʼn goeie huurverwysing sal kry.”

Met betrekking tot wanneer die deposito terugbetaal moet word, sê Schaefer, bepaal die reg in Suid-Afrika dat as daar ʼn gesamentlike uittrekinspeksie was en daar geen geld aan die verhuurder vir skade of agterstallige huur verskuldig is nie, die volle deposito binne sewe dae terugbetaal moet word.

Indien ʼn gesamentlike inspeksie plaasgevind het en daar wel ʼn bedrag aan die verhuurder verskuldig is, het die verhuurder 14 dae tyd om kwotasies te kry en vas te stel wat dit sal kos om enige skade te herstel en die balans van die deposito aan die huurder terug te betaal.

“Dit is belangrik dat huurders daarvan bewus moet wees dat indien hulle weier om ʼn gesamentlike inspeksie by te woon, hulle aanspreeklik gehou kan word vir enige en alle skade aan die perseel. In sulke gevalle het die verhuurder 21 dae tyd om die skade te beraam en die balans van die deposito terug te betaal, indien moontlik. Indien daar egter ʼn tekort is, kan die verhuurder ook regstappe doen en die huurder is dan ook vir die regskoste aanspreeklik.”

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170