Die 2 soorte verkeersboetes

Vrydag, Januarie 13th, 2017

Sanette Viljoen

 

 

 

Dit is belangrik om te verstaan dat daar twee tipes verkeersboetes bestaan en ook om te weet wat is elkeen se risiko.

 

  1. Artikel 341-boete

Hierdie boete word uitgereik wanneer dit nie duidelik is wie die bestuurder van die motor is nie. Voorbeelde van hierdie boetes is ‘n parkeerkaartjie of wanneer ‘n kamera jou vang. Dit word gewoonlik per pos gestuur of onder die motor se ruitveër gelos. As die boete nie betaal word nie, volg die dagvaarding met die hofdatum.

 

  1. Artikel 56-boete

Hierdie boete word uitgereik wanneer die motoris self deur die verkeersbeampte afgetrek word en sy identiteit dus bekend is. Wanneer hierdie boete uitgereik word en nie teen die sperdatum betaal word nie, moet die motoris outomaties in die hof verskyn. ‘n Tweede kennisgewing word nie vir hierdie boete uitgereik nie.

Voordat ‘n persoon in hegtenis geneem kan word vir die niebetaling van ‘n verkeersboete, moet daar eers ‘n dagvaarding aan hom/haar beteken word en ‘n lasbrief deur ‘n landdros uitgereik word.

In die geval van ‘n artikel 341-boete is ‘n kennisgewing wat per pos gestuur is, nie ‘n geldige dagvaarding nie. Vir ‘n dagvaarding om geldig en bindend te wees, moet dit aan die persoon self beteken word by sy of haar woning of werkplek. In laasgenoemde geval moet die dagvaarding ontvang word deur ‘n persoon 16 jaar of ouer. Die dagvaarding moet die spesifieke hof en datum van verskyning aandui.

In die geval van ‘n artikel 56-boete moet daarop gelet word dat wanneer ‘n verkeersbeampte ‘n boete uitreik, daar gewoonlik reeds ‘n verhoordatum toegeken is en die boete dan ook as dagvaarding geld. ‘n Opvolgkennisgewing word nie vir hierdie boete gestuur nie. Indien die boete nie betaal word nie en die motoris op die dag van verhoor nie opdaag nie, reik die landdros ‘n lasbrief vir die motoris se inhegtenisname uit. Wanneer die motoris dan by ‘n padblokkade gestop word, loop hy/sy die risiko om in hegtenis geneem te word en selfs tyd in aanhouding deur te bring. Dit sal plaasvind slegs indien daar reeds ‘n lasbrief uitgereik is.

‘n Persoon kan met betrekking tot vorige verkeersoortredings in hegtenis geneem word slegs wanneer daar reeds ‘n lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik is deur ‘n landdros. So ‘n lasbrief word tipies uitgereik wanneer iemand ‘n dagvaarding verontagsaam. ‘n Persoon kan nie in hegtenis geneem word slegs omdat hy “uitstaande verkeersboetes” het nie.

Ten tyde van inhegtenisname kan die persoon op ‘n afskrif van die lasbrief aandring. Indien die beampte wat die inhegtenisname wil uitvoer op versoek nie die afskrif van die lasbrief kan of wil oorhandig nie, is die inhegtenisname en daaropvolgende aanhouding onregmatig, selfs in die geval waar daar wel ‘n geldige lasbrief was.

 

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170