Deeltitel-komplekse: Die voor- en nadele

Donderdag, September 15th, 2016

Deeltitel-eiendomme soos meenthuise bied ʼn wye reeks voordele, soos bekostigbaarheid en sekuriteit, maar kopers moet ook bewus wees van die verwante nadele.

Adrian Goslett, streekdirekteur en HUB van RE/MAX van Suider-Afrika, sê ʼn trekpleister na hierdie soort eiendomme is dat hulle dikwels meer bekostigbaar is as voltitel-eiendomme, wat hulle die ideale transaksie vir eerste kopers maak.

“Daar is verskeie voordele verbonde aan die koop van ʼn deeltitel-eenheid, soos die feit dat hulle ʼn meer gemeenskaplike leefstyl bied en oor die algemeen minder onderhoud van die eienaar vereis. Hierdie soort eiendom is sedert die aanbieding daarvan bewys baie gesog te wees en verkope steek dikwels ander tipes eiendomme verby in baie areas regoor die land,” sê Goslett.

Hy wys daarop dat nog ʼn aspek wat kopers na deeltitel-eenhede lok, is die feit dat die koste van basiese dienste soos water en elektrisiteit gedeel word – wat die dienste goedkoper maak as dié van losstaande eiendomme.

Volgens Goslett is nog ʼn beduidende aspek wat kopers na deeltitel-wonings aantrek die laer onderhoudskoste weens die feit dat die eienaars slegs hulle eenheid se binnekant hoef te onderhou, terwyl buite-onderhoud deur die kompleks se beheerliggaam uitgevoer word. “Daarbenewens behoort enige heffings wat deur die eienaars betaal word enige onderhoud en opgraderings te dek wat die kompleks in die toekoms sal benodig. Dit sal bydra om te verseker dat die eiendomme binne die ontwikkeling met verloop van tyd appresieer,” sê Goslett.

Uitdagings kan egter opduik en voordele vervaag indien die huiseienaar nie ten volle bewus is van die reëls en regulasies wat deur die beheerliggaam gestipuleer word alvorens hulle koop nie. “Dit is uiters belangrik dat ʼn koper eers ʼn afskrif van die reëls wat die skema beheer, bekom en sorgvuldig deurlees voordat hulle ʼn deeltitelwoning koop. Dit is omdat die beheerliggaamreëls spesifiseer wat die huidige huiseienaars binne die skema as aanvaarbaar beskou.”

Hy wys daarop dat die reëls bepaal wat huiseienaars mag en nie mag doen nie binne die grense van die kompleks. Hulle voorsien bestaande huiseienaars sowel as nuwe huiseienaars met riglyne en basiese reëls met betrekking tot huiseienaarskap binne die kompleks.

“Terwyl reëls wat ander huiseienaars stipuleer nie te ernstig mag lyk nie, is die beheerliggaam se reëls in der waarheid by die aktekantoor geregistreer om die afdwingbaarheid daarvan te waarborg. Dit is daarom uiters belangrik dat kopers al die reëls waartoe hulle instem deur die eiendom te koop ten volle verstaan. As enigiets vir die koper onduidelik is, moet hulle die trustees kontak om ʼn meer gedetailleerde verduideliking te kry,” raai Goslett aan.

Volgens hom is ʼn kwessie wat dikwels opduik die beheerliggaam se reëls aangaande troeteldiere. “Dit is oor die algemeen beter om geskrewe toestemming van die trustees te verkry wat jou troeteldiere in die kompleks toelaat, om enige onaangenaamheid op ʼn later stadium te vermy,” sê Goslett.

Nog ʼn belangrike aspek waaraan kopers van ʼn deeltitel-eiendom aandag behoort te gee, is die finansiële status van die skema. Goslett sê dat potensiële huiskopers daarop geregtig is om te versoek om die beheerliggaam se finansiële state te besigtig om te verseker dat die skema nie teen ʼn verlies bedryf word nie. “Deur na die finansiële state te kyk kan ʼn koper bepaal of daar genoeg geld is om die bedryfskoste van die kompleks te dek, sowel as enige toekomstige uitgawes wat mag opduik,”  gaan hy voort. “Buiten die finansiële state, sal die notule van die laaste algemene jaarvergadering ook insig bied aangaande enige voorgestelde spesiale heffings of moontlike kwessies wat die trustees in die laaste jaar moes hanteer.”

Goslett raai potensiële kopers aan om die grondplan van die kompleks ook na te gaan om te verseker dat alle geboue op die perseel deur die vereiste organisasies en die munisipaliteit goedgekeur is. Hy waarsku dat die rede waarom dit belangrik is, is dat alle huidige huiseienaars binne die skema verantwoordelik sal wees vir enige uitgawes aangegaan om die kwessie reg te stel en die skema by die aktekantoor te herregistreer.

 

 

 

 

 

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170