Dawie Roodt: ‘Spaar, spaar, spaar’

Maandag, Mei 25th, 2015

Therien Roodt

 

Is jy altyd besig om die bitter pil van finansiële probleme te sluk?

In die samelewing van vandag is geld altyd ’n groot bekommernis. Inflasiekoerse, petrolpryse, kospryse en dies meer is besig om die wêreld te verower. Dit maak dat ‘n mens net nie kan byhou nie.

Die ekonoom Dawie Roodt gee die volgende advies oor geldvrae:

Is spaar werklik die beste keuse vir my en my gesin?

Mense is geneig om daardie geld wat in hul beursies brand, uit te gee – soms op onnodige onbenullighede. Volgens Roodt is die beste opsie spaar, spaar, spaar – maak nie saak hoe groot die versoeking is om daardie mooi rooi rok te koop nie.

Hy gebruik die volgende voorbeeld om sy argument te staaf: “Gestel jy oes vandag 100 sakke mielies en jy gebruik nie dadelik alles nie. Jy bêre 10 sakke in die stoor om in die toekoms te gebruik. Die teenoorgestelde van spaar is wanneer jy jou eie 100 sakke gebruik én nog 10 by die buurman leen om dadelik te gebruik. Met ander woorde, jy gebruik in die toekoms in.”

Spaar word dikwels gesien as ’n manier om kapitaal op te bou. Daar kan op baie maniere gespaar word.

Omdat die lewe vandag so duur is, is talle mense onseker of dit beter sal wees om ’n huis te huur of te koop. Roodt lê klem daarop dat verskeie faktore in ag geneem moet word voordat daar ’n finale besluit geneem kan word. Jy moet in elk geval êrens bly, dit is dus nie ’n slegte idee om ’n huis te koop in plaas van te huur nie. Rentekoerse moet egter ook in ag geneem word deur daarop te let of die rentekoerse hoog of laag is.

Volgens Roodt geld dieselfde vir huispryse: Is dit hoog of laag? Besluit of jy vir ’n lang of ’n kort tydperk in die huis gaan bly. Oordrag- en registrasiekoste is baie hoog. As jy dus gou weer gaan verhuis, maak dit nie sin om te koop nie.

Wat is die beste manier om skuld af te betaal?

Skuld word menigmaal gesien as ‘n euwel. Dawie sê dat jy dadelik moet ophou om in die toekoms in te gebruik. Raak ontslae van onmiddellike bevrediging.

Fokus daarop om geld te bestee wat jy nou moet uitgee, maar wees bereid om op die langtermyn geld weg te bêre.

Wanneer jy van skuld ontslae wil raak, is dit noodsaaklik dat jy ’n finansiële plan moet hê. Jy moet ’n doelwit hê waarna jy strewe en ’n duidelike plan om daarby uit te kom.

Om jou finansiële portefeulje in stand te hou, word daar aanbeveel dat jy ’n finansiële adviseur raadpleeg.

Wanneer jy met ’n finansiële adviseur oor jou finansiële portefeulje praat, moet jy ’n oorsig gee van jou geldsake, soos die inkomste wat jy verdien en die uitgawes wat jy moet aangaan.

Hoekom is ’n finansiële adviseur belangrik?

Alhoewel geen persoon al die moontlike finansiële kennis het nie, is ‘n finansiële adviseur ‘n aanwins vir enige persoon omdat nie almal weet hoe om finansiële aangeleenthede te behartig nie. Al het jy self goeie kennis en agtergrond van finansies is dit nodig dat jy ’n deskundige op die gebied raadpleeg.

Geldprobleme kan in ’n japtrap opgelos word as die regte advies en riglyne gevolg word.

Ander Artikels

Kry só die beste agent as jy huis verkoop
Vir baie van ons gaan die verkoop van ’n eiendom gepaard met hoë vlakke van angstigheid en onheil. So, waar kry mens iemand wat jy kan vertrou om jou deur die gevare en slaggate van die verkoopstransaksie te stuur? Volgens die Rawson Eiendomme is daar ’n paar belangrike goed om na op te let.   […]
Inkopies kan terapeuties wees
Dit is al gesê dat om op ʼn inkopie-tog te gaan negatief konnotasies het. Onder andere word materialisme en selfbevrediging voorgehou as redes om nie te koop nie. Om te koop en loerkoop (“window-shopping”) kan egter terapeuties wees, help jou om verandering te hanteer en verbeter jou bui. Moenie inkopie-terapie sommer afmaak as iets ligsinnig […]
Ken jou regte as ʼn deeltiteleienaar
Om in ʼn deeltitelkompleks te bly, het baie voordele. Dit kan egter minder aangenaam wees om te bly in ʼn kompleks wat deur andere bestuur word, veral as die voorsitter van die regspersoon hom of haar verbeel dat hy of sy meer magte as enigeen van die ander inwoners het. Laat ons dit duidelik stel: […]
1 2 3 160