Dalende groei in huispryse laagste sedert 2012

Maandag, September 7th, 2015

Eugene Brink

 

In Augustus was die maand-tot-maand groei huispryse laer as 0,2%, wat die laagste is sedert vroeg in 2012.

 

Daar word ook geen verligting in die vooruitsig gestel nie, aangesien verbruikers na verwagting teen die einde van die jaar en in 2016 met groter finansiële laste te kampe kan hê as gevolg van inflasionêre druk en stygende rentekoerse.

 

Jacques du Toit, eiendomsekonoom van Absa, sê dat dit ook tot die afwaartse neiging in die jaar-tot-jaar groei in pryse bydra. Die gemiddelde nominale waarde van ʼn klein woning (80 – 140 m²) in die middelsegment van die mark was in Augustus R869 000; dit was R1,206 miljoen vir ʼn mediumgrootte huis; en R1,917 miljoen vir ʼn groot huis (221 – 400 m²).

 

Volgens Du Toit het die reële groei in huispryse – na aanpassings om vir die uitwerking van verbruikersprysinflasie voorsiening te maak – ook tot in Julie verlangsaam as gevolg van dalende nominale prysgroei en verbruikersprysinflasie wat die afgelope aantal maande geleidelik styg. “Daar was in Julie ʼn duidelike mate van werklike jaar-tot-jaar deflasie in alle kategorieë van middelsegmentbehuising waarneembaar. Die gemiddelde vlak van huispryse in Julie was in reële terme bykans 12% laer as tydens die hoogtepunt in Augustus 2007.”

 

Die gemiddelde groei in huispryse beleef sedert die einde van 2014 ʼn voortdurende daling wat aangedryf word deur toenemend uitdagende ekonomiese toestande soos ekonomiese en indiensnemingsgroei, inflasie en rentekoersneigings, asook tendense rakende huishoudelike finansies, verbruikerskrediet-risikoprofiele en verbruikersvertroue.

 

Volgens Du Toit moet banke se risiko-aptyt en uitleenkriteria hierdie toestande in ag neem, wat die vraag na en bekostigbaarheid van behuising en verbandfinansiering sal beïnvloed. “Na verwagting sal die nominale groei in huispryse in enkelsyfers bly, met ʼn gemiddeld van ongeveer 6% in 2015, en die risiko van verdere dalings in prysgroei tot in aanstaande jaar. Teen die agtergrond van die huidige tendense in en voorspellings vir nominale huisprysgroei, en oorkoepelende verbruikersprysinflasie wat na verwagting vanjaar gemiddeld 4,7% en aanstaande jaar 5,8% sal wees, sal huispryse in reële terme relatief laag en onder afwaartse druk bly.”

  • Juan Olivier

    Huis pryse moet nie stadiger styg nie, dat moet val. Die pryse om ‘n huis te koop of te huur is buitensporig.

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161