Deur Reon Janse van Rensburg
Dit is met groot opwinding wat jy en jou verloofde jul groot dag beplan. Dit is opwindend om die perfekte lokaal te kry, julle handgemaakte uitnodigings uit te stuur aan mense van ver en tot in die fynste besonderhede te beplan vir elke moontlike ding wat die fotograaf op die groot dag op sy kamera kan vasvang. Alles is in orde en perfek, nes julle lankal daarvan droom. Daar is egter een ding wat julle nie in berekening gebring het nie – Covid-19 wat oral in sy pad verwoesting saai.
Wat die groot aantal probleme betref wat deur die Covid-19-krisis veroorsaak word, is die impak op komende troues en ander sosiale geleenthede duidelik van minder belang as kommer oor die gesondheid van die land se bevolking. Dit maak nie die uitstel van troues of die kansellasie daarvan minder belangrik of traumaties vir diegene wat maande lank aan 'n geleentheid beplan en nou die uitdaging het om te sien wat hulle volgende moet en kan doen om hul sprokiesdag te kan geniet nie.
Talle troues is sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie byna in die wiele gery. Paartjies wat op trou staan, moes op nommer 99 hul troues se datums aanpas of selfs uitstel weens die pandemie wat dikwels verhoed dat groot groepe mense bymekaar kan kom om die bruilof te vier.
Asof die stres van die groot dag en die beplanning vir die troue nie reeds genoeg is nie, het paartjies wat op trou staan ook nog te kampe met die moontlike finansiële impak indien die troue dalk uitgestel moet word weens Covid-19.
Is daar 'n oplossing wat die skade kan beperk en julle troudag kan red?
Die antwoord op die probleem is eenvoudig – troueversekering!
Jy het moontlik nie eers geweet dat troueversekering bestaan nie. Dit is maklik om te dink dat dit 'n geldmaakskema is wat net jou swaarverdiende geld uit jou sak wil neem, maar met die Covid-19-pandemie wat tot gevolg het dat jy nie jou hele lys van gaste kan nooi nie en die hoeveelheid geld wat 'n mens aan jou groot dag spandeer, is dit tog die moeite werd om van hierdie tipe versekering gebruik te maak. Behalwe dat julle verantwoordelik wil optree deur nie een van julle gaste aan Covid-19 bloot te stel nie, is dit ook die beste manier om vir die onverwagte voorsiening te maak.
Die meeste ondernemings wat op jul groot dag hul dienste of produkte beskikbaar stel, vra gewoonlik 'n deposito wat nie terugbetaalbaar is nie, maar wat gebeur as hulle nie hul dienste of produkte kan lewer soos wat hulle belowe het nie? Wat as die lokaal die aand voor jou troue afgebrand het? Wat as jy die oggend van jou groot dag wakker word en te siek voel om uit die bed te kom? Stel jy net jou troue af of bestee jy nog 'n hele hoop geld op die herbespreking van julle groot dag?
Die voordeel daaraan verbonde om jou troue te verseker, is juis om jou groot dag teen onverwagse gebeure te beskerm. Dit is die moeite werd om gemoedsrus te verkry.
Met min sekerheid oor wanneer dit veilig sal wees om weer byeenkomste te hou, moet trouebeplanners en verloofde paartjies 'n aantal moeilike besluite neem. Diegene wie se groot dae om die draai is, sukkel dalk om 'n ander manier te vind om dit te vier, want dit kan te laat wees om kontrakte te kanselleer.
Die finansiële gevolge van 'n troue wat uitgestel of afgestel moet word, kan deur kansellasieversekering verminder word, afhangende van die betrokke polis. Daar is egter nog baie werk vir beplanners en paartjies wat 'n nuwe plan wil opstel. Hier volg 'n paar aanbevole stappe om te oorweeg:
Herlees die kontrakte van elke diensverskaffer sodat julle weet wat die voorwaardes vir kansellasie is en of julle in so 'n geval enige van julle deposito’s kan terugverwag. Kontak dan al die verskaffers so gou as moontlik om die beskikbaarheid van toekomstige datums te bepaal. Omdat Covid-19 almal in die gasvryheid- en vermaakbedryf beïnvloed, kan verskaffers moontlik nou meer buigsaamheid hê om te herskeduleer.
Praat met jou verskaffers oor die verwagtinge vir die toekomstige geleentheid. Is daar 'n uitstelkoste as jou nuwe datum nie in dieselfde jaar is nie? Moet jou verskaffers die werk vir die nuwe geleentheid herhaal, en is daar ekstra kostes hiervoor?
Sommige deposito’s is nie terugbetaalbaar nie. Ander is, en onder normale omstandighede is baie diensverskaffers tegemoetkomend en bereid om dit terug te stuur. Gegewe die ekonomiese terugslae wat die meeste ondernemings tydens die pandemie ondervind, kan verskaffers dit egter moontlik nie doen nie. As julle die troue herskeduleer, vra hulle eerder of hulle die deposito as 'n krediet sal beskou vir die toekomstige datum. As julle troueversekering het, moet julle 'n lys hê van nie-terugbetaalbare deposito’s en ander nie-vergoedbare uitgawes vir julle eis.
As julle versekering vir julle troue het, praat met julle agent om te sien of die huidige omstandighede gedek is. Sommige polisse dek kansellasies weens Covid-19, maar ander nie. Dit sal belangrik wees om te weet watter finansiële verligting julle kan verwag, aangesien dit 'n invloed kan hê op die besluit of julle die geleentheid wil herskeduleer of net gaan probeer om die beste van die situasie te maak.
Praat met julle belangrikste verskaffers – die lokaal, spysenier, fotograaf en vermaak – om datums te koördineer wat vir al die belangrike rolspelers kan werk. In hierdie stadium kan hul skedule reeds vol wees, dus moet julle daarop voorbereid wees om na datums te kyk wat nie noodwendig julle eerste keuse sou wees nie.
Jou uitnodigings is reeds uitgestuur. Stuur 'n fisiese of digitale kennisgewing aan julle familie en vriende om hulle te laat weet van die planne wat verander het. Gaste kom van ver af en moet genoegsame tyd hê om hulle planne aan te pas.
Indien julle versekering 'n kansellasiebeleid vir geleenthede het wat die Covid-19-pandemie dek, dien julle eis in. Teen hierdie tyd sal julle weet watter terugbetalings julle kan verwag en watter verlore sal gaan. Julle benodig hierdie inligting om die finansiële impak te beperk en om te sien watter ekstra uitgawes nou ter sprake is.
Bronne:
Why wedding insurance is important and who to get it in South Africa – https://www.thenutfarm.co.za/weddings/wedding-insurance/
What to do when COVID-19 ruins your wedding plans – https://www.markelinsurance.com/resources/special-event/professional/cancelled-wedding-covid19
Oops! We could not locate your form.