Bestuur só jou geiser se kragverbruik

Vrydag, Oktober 21st, 2016

Geisers is verantwoordelik vir tussen 30% en 50% van jou elektrisiteitsrekening. Eskom beveel aan dat jy jou geiser tussen 6 vm en 9 vm afskakel om elektrisiteit te bespaar en die las op die nasionale netwerk gedurende hierdie spitstye te verlig.

Die voorgestelde temperatuur vir ’n huishoudelike geiser is 60 ºC. Deur jou geiser se temperatuur te verlaag, kan jy jou huis se elektrisiteitsverbruik verminder en geld spaar! As jy ook jou geiser vir 15 uur per dag afskakel, kan jy ’n 3 kW-geiser van 150 L se kW-verbruik van 360 kWh tot 238 kWh verminder.  Hierdie syfers is net ’n riglyn, want die hoeveelheid elektrisiteit wat jy spaar, sal afhang van die omringende temperatuur, die temperatuur waarop die termostaat gestel is, hoe lank die geiser gedurende die dag aan en af is, en ook jou totale huishoudelike verbruik.

 

Interessante feite

  • Minder energie is nodig om die water weer tot die gestelde temperatuur te verhit as om die water by die gestelde temperatuur te hou.  As jy jou geiser afskakel, daal die temperatuur oor 24 uur gewoonlik met net 10 ºC, en jy behoort dus aan die einde van die dag nog warm water te hê om te stort of te bad.
  • Dit neem ’n 3 kW-geiser van 150 liter ongeveer 2 uur om die water van 20 ºC tot 65 ºC te verhit. Die termostaat of die geiser sal nie beskadig word deur die geiser aan en af te skakel nie. Termostate werk deur aan en af te skakel, en die styging en daling van temperatuur binne die normale perke sal nie die geiser laat bars nie.
  • Isolering van jou geiser en die waterpype na en van die geiser kan die geiser se doeltreffendheid verbeter. Geiserkomberse vertraag die afkoeltempo van ’n geiser met tot 20% wanneer dit afgeskakel is, wat lei tot warmer water in die geiser wanneer dit weer aangeskakel word. Die warmer water in die geiser sal minder elektrisiteit benodig om tot die gestelde temperatuur verhit te word wanneer die geiser weer aangeskakel word. ’n Algemene reël is om 1.5 m van die warmwaterpyp uit die geiser en 1 m van die kouewaterpyp na die geiser ook te isoleer. Toetse toon dat, as die korrekte materiaal gebruik en dit behoorlik geïnstalleer word, daar nie ’n groter risiko van brand of oorverhitting met ’n geiserkombers is nie, net ’n besparing van elektrisiteit en geld!
  • As dit moontlik is, plaas die geiser naby die kombuis en badkamers, waar die warm water nodig is. Hoe korter die afstand tussen die geiser en die krane, hoe minder warmte gaan verlore terwyl die water na die kraan beweeg. Jy spaar ook water omdat die water nie so lank hoef te loop voordat die warm water by die kraan kom nie.

    Wenke om die verbruik van water en elektrisiteit te bestuur
  • Was jou hande met koue water as warm water nie nodig is nie.
  • Neem ’n kort stort eerder as ’n vol bad.
  • Installeer ’n waterdoeltreffende stortkop.
  • Moenie skottelgoed onder lopende water afspoel nie. Hou water in ’n wasbak en spoel dit daarin af.
  • As jou klere nie besonder vuil is nie, slaan jou wasmasjien se voorwassiklus oor.
  • Gebruik altyd ’n volle lading in jou wasmasjien en was items teen 40 ºC – 60 ºC.
  • Gebruik die skottelgoedwasser net as dit vol gelaai is en skakel voor die droogmaaksiklus af. Die skottelgoed kan dan met ’n doek afgedroog word of gelaat word om self droog te word met die masjien oop.

Bron: National Letting  

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152