Bespaar elektrisiteit só by die huis

Woensdag, September 23rd, 2015

Deur Solette Swanepoel

Ons is almal bewus van Suid-Afrika se energiekrisis en die invloed daarvan op die verbruiker se sak. Volgens Power Optimal, ’n elektrisiteitsverbruik en –heffingbestuursmaatskappy, het elektrisiteitstariewe van 2008 tot 2015 met 300% gestyg. As elektrisiteitstariewe in 2016 en 2017 ook so skerp styg, beteken dit dat die verbruiker in die bestek van ’n dekade 495% meer sal betaal as in 2007.

Volgens Power Optimal kan ons in die volgende paar jaar verwag dat die vraag na elektrisiteit sal aanhou om groter as die aanbod te wees. Pryse sal ook meer styg as die inflasiekoers. As verbruikers moet ons begin dink aan wat ons kan doen om die vraag na elektrisiteit te verminder.

As jy onder die indruk is dat elektrisiteitsbesparing tuis ’n druppel in die emmer is, dink hieroor: As die hele land se elektriese geisers gelyk afgeskakel word, kan die elektrisiteit wat bespaar word Johannesburg, Durban en Bloemfontein tegelyk van krag voorsien.

’n Paar verandering tuis sal nie net die vraag na elektrisiteit verminder nie, maar sal ook jou rekening beduidend verlaag. Hier is ’n paar gratis of laekoste maniere om elektrisiteit te bespaar:

  1. GEISER
  • Jou geiser kan vir tot 60% van jou elektrisiteitsrekening verantwoordelik wees. Draai die termometer af na 60˚C om te bespaar.
  • Gebruik warm water spaarsamig – stort in plaas van om te bad en was jou hande met koue water.
  • Skakel die geiser af wanneer jy met vakansie gaan.
  • Installeer ’n reguleerder om gebruik tydens spitstye (06:00-08:00 en 17:00-21:00) te vermy.

 

  1. KRAGPROPPE
  • Trek die kragproppe van alle elektriese toebehore uit na gebruik. Toebehore op bystand verbruik tot en met 50% van die hoeveelheid elektrisiteit wat dit gewoonlik sou gebruik.

 

  1. BELIGTING
  • Skakel ligte af wanneer jy ’n vertrek verlaat.
  • Gebruik vroeg soggens natuurlike beligting.
  • Vir slegs R50 kan jy tradisionele gloeilampe met elektrisiteitsbesparende LED-gloeilampe vervang, wat tot 80% minder elektrisiteit gebruik.

 

  1. WASMASJIEN
  • Belê in ’n voorlaaier. Dit gebruik minder water as ’n bo-laaier en dit kos minder om te gebruik.
  • Was ’n hele bondel wasgoed. Wasmasjiene gebruik ewe veel elektrisiteit of jy nou ’n enkele item of ’n hele bondel was.
  • Was jou klere in koue water. Ongeveer 85% van elektrisiteit wat deur ’n wasmasjien verbruik word, word gebruik om die water te verhit.

 

  1. YSKAS EN VRIESKAS
  • Stel jou yskas op 3°C.
  • Moenie die deure onnodig oopmaak nie.
  • Jou yskas en vrieskas moet so ver as moontlik van die stoof staan.
  • Ontvries jou vrieskas ten minste twee keer per jaar sodat dit optimaal kan werk.

 

  1. KOOK
  • Moenie die oond oopmaak voordat die kos gaar is nie.
  • Gebruik die mikrogolfoond om klein hoeveelhede kos warm te maak en die konvensionele oond vir groter maaltye.
  • Kook net soveel water as wat jy nodig het.
  • Skakel die stoof af voor jou kos klaar gekook is. Plate behou hitte goed en jou kos sal vir nog ’n rukkie lank kook.

 

  1. SWEMBAD
  • Verminder die aantal ure wat die swembadpomp aan is na vier tot ses ure ’n dag.
  • Bedek jou swembad. Sodoende sal sand en blare nie daarin val nie en gevolglik sal die pomp minder gebruik hoef te word.

 

Bronne:

Fripp, C. 2015. South Africa’s electricity pricing compared to the rest of the world. htxt.africa, http://www.htxt.co.za/2015/06/26/south-africas-electricity-pricing-compared-to-the-rest-of-the-world/.

Eskom. 2015. Reduce electricity costs at home. http://www.eskom.co.za/sites/idm/Residential/Pages/Residential0602-4556.aspx.

 Good Housekeeping. [s.a].36 slim maniere om elektrisiteit te spaar. http://www.goodhousekeeping.co.za/af/home-organising/36-smart-ways-to-cut-your-electricity-bill/.

Saving electricity. 2015. How to save electricity., http://savingelectricity.org.za/pages/how_to_save.php.

 

Ander Artikels

Kry só die beste agent as jy huis verkoop
Vir baie van ons gaan die verkoop van ’n eiendom gepaard met hoë vlakke van angstigheid en onheil. So, waar kry mens iemand wat jy kan vertrou om jou deur die gevare en slaggate van die verkoopstransaksie te stuur? Volgens die Rawson Eiendomme is daar ’n paar belangrike goed om na op te let.   […]
Inkopies kan terapeuties wees
Dit is al gesê dat om op ʼn inkopie-tog te gaan negatief konnotasies het. Onder andere word materialisme en selfbevrediging voorgehou as redes om nie te koop nie. Om te koop en loerkoop (“window-shopping”) kan egter terapeuties wees, help jou om verandering te hanteer en verbeter jou bui. Moenie inkopie-terapie sommer afmaak as iets ligsinnig […]
Ken jou regte as ʼn deeltiteleienaar
Om in ʼn deeltitelkompleks te bly, het baie voordele. Dit kan egter minder aangenaam wees om te bly in ʼn kompleks wat deur andere bestuur word, veral as die voorsitter van die regspersoon hom of haar verbeel dat hy of sy meer magte as enigeen van die ander inwoners het. Laat ons dit duidelik stel: […]
1 2 3 160