Beskerm jou identiteit teen gesiglose individue

Vrydag, Oktober 21st, 2016

Al ooit ʼn e-pos van die Verenigde Nasies ontvang wat jou surplusfondse aanbied? Of het J. Edgar Hoover, hoof van die FBI (wat in 1972 oorlede is) jou verwittig dat hy geld opgespoor het wat aan jou behoort? Is jy al ooit ingelig dat jy die Britse lotery gewen het alhoewel jy nooit ʼn kaartjie gekoop het nie? Dit is net ʼn paar voorbeelde van strikroof (“phishing”), en hoe belaglik dit ook mag voorkom, het baie mense al in hierdie strik geval.

Strikrowers is op soek na een ding – jou identiteit en finansiële inligting om jou van jou geld te beroof deur direkte toegang tot jou bankrekening, of erger, deur jou identiteit te steel en jou met ongekende skuld te laat wat nie omgekeer kan word nie.

Dit word beraam dat meer as 100 miljard “spam” e-posse elke dag gestuur word, en meer as die helfte van alle Internet-gebruikers ontvang ten minste een strikroof e-pos per dag. Die beraamde koste van strikroof aan besighede wêreldwyd is ongeveer 98 Amerikaanse dollar per jaar.

Daar is twee tipes strikrowery – spies-strikrowery (“spear-phishing”) en massa-strikrowery (“mass phishing”). Met massa-strikrowery word e-posse aan miljoene ontvangers gestuur. Ongeveer 3% daarvan word oopgemaak. ʼn Slagoffer van massa-strikrowery laat ʼn strikrower gemiddeld R18 000 ontvang. Spies-strikrowery teiken ʼn bate met hoë waarde en sal ʼn strikrower ongeveer R630 000 in die sak bring. Hierdie bedrae kan verskil afhangende van die sofistikasie van die strikroofslenter.

 

Hoe behaal strikroofslenters sukses?

Strikrowers maak gebruik van twee hooftegnieke wat op twee menslike reaksies staat maak: gierigheid en vrees.

As dit te goed klink om waar te wees, dan is dit heel moontlik. Strikrowers sal jou lok met ʼn belofte van geld of ander finansiële gewin. Die strik: voorsien jou persoonlike en bankrekeningbesonderhede en die geld of prys is joune. Hierdie een vang enigiemand wat toelaat dat gierigheid gesonde verstand oorheers.

Die ander strategie wat strikrowers gebruik, is vrees. Al ooit ʼn e-pos van ʼn bank of handelaar ontvang wat jou inlig dat as jy nie onmiddellik reageer nie, jou rekening opgeskort sal word tensy jy jou persoonlike en finansiële inligting summier verskaf, hetsy binne die e-pos of deur op ʼn skakel te klik wat jou na ʼn ander webwerf neem? Die pos mag eg lyk, maar geen bank of finansiële diensverskaffer kan hierdie inligting via e-pos aanvra nie, veral wagwoorde of pin-nommers.

As daar ʼn probleem met jou rekening is, sal ʼn bank jou persoonlik kontak en jou sekerheidsvrae vra. Dring altyd aan op die naam van die diensagent, hulle lynbestuurder en ʼn verwysingsnommer. Vra ook vir ʼn kontaknommer – ʼn direkte nommer sowel as vir die relevante departement. As jy ongemaklik voel oor die oproep, sê eerder jy sal hulle terugskakel om te verifieer dat dit eg is.

Sedert die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum (FICA) in werking getree het, mag geen veranderings op finansiële rekenings aangebring word sonder dat korrekte prosedures gevolg is nie. As dit lyk of dit gepypkan word, wees agterdogtig. Onthou, geen werknemer van enige bank mag wagwoorde van jou aanlyn-profiele of jou pin-nommer vra nie – as iemand voorgee dat hulle vir ʼn bank werk en enige van die twee vra, lui af!

Moenie eers e-posse oopmaak van mense of adresse wat jy nie herken nie. Om “spam”-pos oop te maak, mag wanware (“malware”) op jou rekenaar laai, wat persoonlike inligting en wagwoorde kan opspoor. Vee eerder verdagte e-posse dadelik uit. Maak gebruik van anti-virussagteware wat jou bank aanbied om jou stelsel so bes moontlik te beskerm.

Net soos jy nooit jou ID-dokument, bestuurderslisensie, kredietkaarte of bankkaarte (met PIN-nommers) vir ʼn vreemdeling sal gee en hulle toelaat om daarmee weg te loop nie, waarom sou jy hierdie items per e-pos aan ʼn gesiglose individu verskaf?

 

Bron: FNB

 

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150