Besit die toekoms deur vandag te spaar en belê

Donderdag, Junie 30th, 2016

Ondanks talle inisiatiewe om Suid-Afrikaners aan te moedig om te spaar, versuim verbruikers steeds om gedurende hulle werklewe genoeg te spaar om sodoende hulle lewenspeil ná aftrede te kan handhaaf.

Leon Campher, uitvoerende hoof van die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (ASISA), skryf dit toe aan ‟n onvermoë van Suid-Afrikaners om te onderskei tussen wat hulle móét hê teenoor wat hulle wil hê. Dit lei tot ‟n kultuur van buitensporige, statusgedrewe besteding.

“Suid-Afrikaanse verbruikers sal eerder geld uitgee op nie-noodsaaklik items soos ‟n nuwe motor, die jongste elektroniese toestelle en die jongste modes. Eers nadat hulle kooplus bevredig is, sal hulle begin dink aan noodsaaklike behoeftes soos spaar en belegging om voorsiening te maak vir risiko‟s soos dood en ongeskiktheid.”

Dié tendens word bevestig deur die lae huishoudelike spaarkoers, die buitensporige hoë skuldvlakke van Suid-Afrikaanse huishoudings (volgens die SA Reserwebank staan dit tans op 74.5% van ‟n jaar se inkomste) en ‟n versekeringstekort (die verskil tussen bestaande lewens- en ongeskiktheidsdekking en die werklike versekeringsbehoefte van Suid-Afrikaanse verdieners) wat in 2013 tot ‟n onrusbarende R24 triljoen gegroei het.

Campher sê hoewel die regering in samewerking met die privaat sektor na oplossings kyk om huishoudelike inkomste deur middel van werkskepping te verhoog, sal verbruikers self ook ‟n kultuur van spaar en belegging moet kweek eerder as om hul swaarverdiende geld onoordeelkundig te bestee en duur skuld te maak.

“Versuim om vandag te spaar, het ‟n negatiewe uitwerking op Suid-Afrikaners se vermoë om in die toekoms iets betekenisvol soos ‟n kind se studies of ‟n gerieflike aftrede te finansier.”

Campher sê verbruikers word gewoonlik aangeraai om hulle bestedingspatrone te verander deur ‟n begroting op te stel. Maar in stede van om die begrotingsoefening te gebruik om minder geld te bestee sodat daar geld oor is om skuld af te betaal en dan te spaar, beskou baie verbruikers die begroting as ‟n teiken, voeg Campher by. “Die feit dat jy vir ‟n uitgawe begroot het, maak dit nie noodwendig ‟n noodsaaklikheid nie. ‟n Begroting moet nie ‟n bestedingsteiken raak nie.”

Campher noem verder dat die onmiddellike voordeel van geld spaar, bydra tot jou eie finansiële sekuriteit. Verder sê hy dat „n sterk huishoudelike spaarkoers ook uiters belangrik is vir ‟n sterk ekonomie en werkskepping wat lei tot laer rentekoerse en laer inflasie.

“‟n Spaarplan help verbruikers om toekomstige persoonlike finansiële verpligtinge te befonds sonder dat hulle skuld hoef aan te gaan. Beleggings deur individue is ook „n bron van kapitaal wat deur finansiële instellings na groeigeleenthede soos infrastruktuur- en vervaardigingsontwikkeling gekanaliseer word.”

Om ‟n spaarkultuur te kweek is dus nie net noodsaaklik om Suid-Afrikaners se welstand op lang termyn te verseker nie, maar ook vir die ontwikkeling van die land in sy geheel, sê hy.

Campher sê om dié rede ondersteun ASISA die Suid-Afrikaanse Spaarinstituut (SASI) se inisiatiewe om ‟n groter spaarbewustheid onder Suid-Afrikaners te kweek asook die noodsaaklikheid om te spaar.

“Ons gemeenskaplike doel is om Suid-Afrikaners aan te moedig om vandag te spaar vir môre se finansiële sekuriteit,” benadruk hy.

 

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170