Beleggings: Oorweeg gerus verhuureiendom

Maandag, September 30th, 2013

Deur Appie Pienaar 

Eiendom word deurlopend as een van die belangrikste bateklasse onder beleggers beskou. Soos aandele met dividende, is eiendom een van die min bates wat met inflasie groei én steeds ʼn gereelde kontantuitbetaling oplewer. Volgens Absa se huisprysindeks het middelslaghuise in die 30 jaar sedert 1982 met gemiddeld 10,3% per jaar gegroei, terwyl die algemene inflasiekoers oor dieselfde tydperk sowat 9,9% was.

Beleggings soos vaste deposito’s verskaf wel kontantvloei in die vorm van rente, maar die bate verloor mettertyd sy koopkrag vanweë inflasie en die tydwaarde van geld. Ander beleggings soos goeie kuns of goudmunte behou hul kapitaalwaarde maar verskaf nie noodwendig ʼn deurlopende kontantvloei aan die belegger nie.

Tussen 2000 en 2006 het Suid-Afrika ʼn bloeityd beleef met huispryse wat gemiddeld 20% per jaar gestyg het. Dit het gelei tot ʼn oorwaardasie van die mark. Vanaf 2008 het daar stagnasie in die mark ingetree, en het eiendomspryse konstant gebly en in sommige jare selfs gedaal. Tans is die huismark besig om weer sy kop op te tel. In 2012 het huispryse gemiddeld met 9,5% gestyg, en die aanduiding is dat dieselfde groei in 2013 verwag kan word.

Eiendom het een baie belangrike voordeel bo ander bateklasse – die moontlikheid van hefboomfinansiering. Dit beteken dat ʼn belegger wat genoeg vir ʼn deposito gespaar het, ʼn bate van vyf of 10 keer soveel kan bekostig omdat die eiendom as sekuriteit vir ʼn lening by ʼn bank kan dien. Dit verander die opbrengsprentjie nogal drasties indien mens die opbrengs op die oorspronklike deposito bereken in stede van op die waarde van die eiendom as sodanig.

Kom ons neem as voorbeeld ʼn belegging in ʼn woonstel met ʼn kosprys van R600 000. Oordragkoste sal waarskynlik so R25 000 beloop. Teen ʼn bruto huuropbrengs van 9% per jaar behoort die maandelikse huur R4 500 te beloop, terwyl heffings waarskynlik nie meer as R800 per maand sal wees nie. Ons veronderstel verder ʼn gemiddelde inflasiekoers van 6,5% per jaar, ʼn uitleenkoers van 7,5% per jaar en ʼn persoonlike belastingkoers van 40%. ʼn Belegger met ʼn beskikbare beleggingsbedrag van R145 000 (20% deposito plus oordragkoste) wat die eiendom vir 10 jaar uitverhuur en dan verkoop, sal waarskynlik ʼn gemiddelde na-belaste opbrengs op sy R145 000 van so 17,7% per jaar oor die tydperk kan realiseer. Dit is nadat die uitstaande verband afgelos is en die nodige kapitaalwinsbelasting betaal is. In ʼn hoër inflasie-omgewing lyk die prentjie ewe goed. Met ʼn gemiddelde rentekoers van 13% en inflasie van 12%, styg die opbrengs na 23,6%.

Natuurlik is verhuring nie sonder probleme nie. Daar is altyd die risiko dat ʼn geskikte huurder nie gevind word nie, of dat die huurder weier om te betaal. Verder kan instandhouding, veral in die geval van ʼn huis, tyd en geld van die eienaar verg. Dit bly nietemin die moeite werd om die mark dop te hou en in te klim indien ʼn winskopie raakgeloop word. 

Risiko’s met verhuring

  • Wanbetaling
  • Skielike styging in rentekoers
  • Instandhouding
  • Belegging moeilik realiseerbaar

Kommentaar is gesluit.

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150