Belê hierin om nóg meer krag (en geld) te bespaar

Donderdag, Februarie 18th, 2016

Solette Swanepoel

 

Beurtkrag en stygende elektrisiteitspryse is hier om te bly. Volgens Power Optimal, ’n maatskappy wat elektrisiteitsverbruik en –heffing bestuur, dwing hierdie vooruitsig ons om aan maniere te dink om minder afhanklik van Eskom se energie te wees.

In die vorige artikel het ons gefokus op lae koste en gratis maniere om jou elektrisiteitsverbruik by die huis te verminder. In hierdie artikel kyk ons na “duurder” maniere om elektrisiteit te bespaar. Hierdie alternatiewe sal jou aanvanklik iets uit die sak jaag, maar op die langtermyn sal jy geld spaar.

 

Warm water

 

  • Belê in ’n sonkrag-geiser om jou elektrisiteitsrekening met 25% tot 50% te verminder. ’n Huishouding van vier sal binne 15-20 jaar ongeveer R50 000 op elektrisiteit bespaar. Jy sal ook warm water hê wanneer daar beurtkrag is. ’n Sonkrag-geiser kos tussen R10 000 en R35 000, afhangende van die grootte en die kwaliteit.
  • As jou huis nie geskik vir ’n sonkrag-geiser is nie weens te min direkte sonlig of ’n ongeskikte dak, is dit ’n goeie idee om ’n hittepomp te oorweeg. ’n Hittepomp verminder elektrisiteitskostes en verwarm water goed.
  • Isoleer die waterpype en geiser om te keer dat hitte verlore gaan. ’n Geiser-kombers kos R200-R400 en isolasie kan vir minder as R100 gekoop word.

 

Beligting

 

  • Belê in bewegingsgevoelige ligte vir die buitekant van jou huis. Jy sal nie net elektrisiteit bespaar nie, maar dit sal ook kwaaddoeners verras.
  • Gebruik LED’s. LED’s is klein, energiebesparende gloeilampies wat tot 50 000 uur kan hou.

 

Verwarming en verkoeling

  • Isoleer die plafon om dit tot 10°C koeler in die somer en tot 5°C warmer in die winter te maak.
  • Belê in ’n moderne kaggel. Die hitte van ou, oop kaggels verdwyn meestal in die skoorsteen terwyl moderne, toe kaggels die lugvloei beheer.
  • Gebruik eerder ’n dakwaaier as lugverkoeling. ’n Dakwaaier is baie goedkoper as lugverkoeling en gebruik omtrent 90% minder elektrisiteit. Waaiers verkoel nie die lug nie, maar die vel van mense in die vertrek, so skakel dit af wanneer daar niemand in die vertrek is nie.
  • Installeer afdakke en sonskerms om skaduwee oor vensters te gooi.

 

Toebehore

 

  • Belê in energie-doeltreffende toebehore soos ’n voorlaaierwasmasjien, ’n tuimeldroër wat outomaties afskakel wanneer klere droog is, ’n skottelgoedwasser wat nie hitte gebruik om die skottelgoed droog te maak nie, en ’n strykyster met ’n verstelbare termostaat.
  • Met ’n induksiestofie kan jy tot 30% elektrisiteit bespaar. ’n Stofie met een plaat kos ongeveer R1 000.
  • Belê in ’n gasstoof. Gas verskaf onmiddellike hitte en sy koolstofvoetspoor is die helfte minder is as dié van elektrisiteit.

 

Bronne:

Fripp, C. 2015. “South Africa’s electricity pricing compared to the rest of the world”, htxt.africa, http://www.htxt.co.za/2015/06/26/south-africas-electricity-pricing-compared-to-the-rest-of-the-world/

 

Saving electricity. 2015. “How to save electricity”. http://savingelectricity.org.za/pages/how_to_save.php.

 

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152