Karin Muller
Dit is welbekend dat Suid-Afrikaners swak spaarders is. Volgens die SA Reserwebank het ons huishoudelike spaar as ‘n persentasie van ons besteebare inkomste oor die afgelope aantal jare gedaal – en dit sal waarskynlik so voortgaan. Nasionale Tesourie se bekendstelling van belastingvrye spaarrekenings vanaf 1 Maart 2015 is dus wyd verwelkom as 'n manier om Suid-Afrikaners aan te moedig om te spaar. Hoe werk hierdie rekenings? Hoe kan hulle jou help om jou finansiële doelwitte te bereik?
Volgens Karin Muller, hoof van groeimark-oplossings by Sanlam, is die belangrikste voordeel van belastingvrye spaarrekenings dat geen dividend, kapitale winste of inkomstebelasting betaalbaar is nie, solank bydraes binne 'n jaarlikse drumpel-bedrag van R30 000 en 'n leeftydlimiet van R500 000 bly. Individuele beleggers sal ook te enige tyd toegang tot hulle fondse hê.
“Aangesien jy nie enige belasting op die groei van jou belegging sal betaal nie, is 'n belastingvrye spaarrekening 'n effektiewe manier om vir jou doelwitte te spaar. Jou geld sal gouer groei as in 'n gewone belegging of spaarrekening. Dit hang alles af van hoe lank jy geïnvesteer bly, maar – hoe langer jy investeer, hoe meer voordele sal jy ontvang. Alhoewel die belastingvoordele aanvanklik laag sal wees, sal hulle met tyd groei weens die mag van saamgestelde rente, of die verdien van beleggingsopbrengste op beleggingsopbrengste,” sê Muller.
Individue sal in staat wees om veelvoudige belastingvrye rekenings met verskillende onderliggende beleggings te open, solank as wat die jaarlikse limiet en die leeftydlimiet van R500 000 nie oorskry word nie. Die limiet is slegs van toepassing op die geld wat jy werklik belê. Jy sal jou geld te enige tyd kan onttrek, maar dit is belangrik om te onthou dat indien jy besluit om die geld weer te vervang, dit by jou jaarlikse en leeftydlimiete bygereken sal word.
Belastingvrye rekenings of uittree-annuïteite?
Muller sê Sanlam is ernstig oor sy rol om spaar te ondersteun en aan te moedig. “Ons ondersteun ten volle die Nasionale Tesourie se doelwitte met die bekendstelling van belastingvrye spaarrekenings. Dit is egter belangrik dat beleggings in hierdie rekenings deel vorm van 'n holistiese finansiële plan, wat al die individuele belegger se finansiële behoeftes, beide kort- en langtermyn, in ag neem.
“’n Belastingvrye rekening is 'n uitstekende spaar-oplossing vir langer-termyn spaar, soos om te spaar vir kinders se opvoeding. In die meeste gevalle is uittree-annuïteite 'n meer gepaste aftrede-middel. Dit sal egter van jou persoonlike omstandighede afhang,” sê sy.
Alhoewel beide uittree-annuïteite en belastingvrye spaarrekenings belastingvrye beleggingsopbrengste lewer, stel uittree-annuïteite inkomstebelasting na die na-aftredefase uit, terwyl met belastingvrye rekenings inkomstebelasting betaal word voordat elke bydrae gemaak word (aangesien jy die betalings met na-belastinggeld maak).
“Op die lang duur gee uittree-annuïteite dieselfde of beter waarde vergeleke met 'n belastingvrye spaarrekening wanneer gebruik word vir spaar vir aftrede. Dit is nie net 'n geval van syfers optel nie – daar is 'n aantal ander faktore wat oorweeg moet word wanneer besluit word watter spaarproduk om te gebruik, soos beskerming teen krediteure, boedelbelasting, likiditeit en bate-toewysing. Wanneer vir aftrede gespaar word, bly uittree-annuïteite bobaas,” sê sy.
Bron: Sanlam (www.sanlam.co.za)
Oops! We could not locate your form.