Belastingseisoen 2016: Wenke vir belastingbetalers

Vrydag, September 2nd, 2016

Die 2016 belastingseisoen het op 1 Julie geopen vir belastingbetalers wat opgawes vir die Maart 2015 – Februarie 2016 belastingjaar indien. Die belastingseisoen duur van Julie tot November (voorlopige belastingbetalers wat via eFiling indien, het tot Januarie 2017 om in te dien).

Datums om te onthou:

  • 25 November 2016 – By ʼn SAID-tak (voorlopige en nie-voorlopige belasting)
  • 25 November 2016 – eFiling (nie-voorlopige belasting)
  • 31 Januarie 2017 – Voorlopige belastingbetalers via eFiling

 

Die verskil tussen ʼn voorlopige en nie-voorlopige belastingbetaler

Voorlopige belastingbetalers is mense wat inkomste anders as ʼn salaris/vergoeding verdien of meer as en bokant ʼn salaris/vergoeding uit bronne wat onder andere huurinkomste, rente-inkomste uit beleggings of sake-inkomste (inkomste uit ʼn handelsaak) verdien. Dit is slegs van toepassing as die belastingbetaler jonger as 65 jaar is en belasbare inkomste verdien uit rente, dividende en huur minder as R30 000 vir die belastingjaar, as die belastingbetaler jonger as 65 jaar is en die belasbare inkomste nie R75 000 vir die belastingjaar oorskry nie (huidige belasbare drempel), en as die belastingbetaler ouer as 65 jaar is (maar jonger as 75) en slegs inkomste verdien uit rente, dividende en huur wat minder as R116 150 vir die belastingjaar is. Vir ouderdom 75 jaar en ouer, is die drempel R129 850.

Nie-voorlopige belastingbetalers is diegene wat slegs ʼn salaris/vergoeding verdien.

 

Gebruik van ʼn belastingpraktisyn

Belastingpraktisyns kan beide voorlopige en nie-voorlopige belastingbetalers behulpsaam wees met die indiening van ʼn akkurate opgawe. Hulle kan ook sake-ondernemings help met die formulering van ʼn gepaste en robuuste belastingstrategie in lyn met jou sakestrategie. Dit is ʼn voorskriftelike vereiste vir sake-ondernemings om ʼn ouditeur aan te stel en vir beslote korporasies om ʼn rekenpligtige amptenaar aan te stel.

Die ouditeur sal ʼn oudit uitvoer en ʼn ouditverslag onderteken met betrekking tot die onderneming se finansiële state, terwyl die rekenpligtige amptenaar se pligte onder andere insluit (afhangende van die aanstellingsbrief) om te bepaal of die finansiële state ooreenstem met die rekeningkundige rekords van die korporasie, om die gepastheid na te gaan van die rekeningkundige beleide toegepas in die voorbereiding van die jaarlikse finansiële state, en verslag te doen oor hierdie aangeleenthede.

Alle belastingpraktisyns wat gebruik word, moet geregistreer wees by die SAID en ʼn erkende beheerliggaam (voorskriftelike vereiste). Belastingpraktisyns se registrasienommers kan geverifieer word op die eFiling-webwerf. Dit bly die verantwoordelikheid van die belastingbetaler/sake-eienaar om ʼn eerlike / akkurate indiening te verseker, aangesien die belastingbetaler/sake-eienaar aanspreeklik is vir uitstaande opgawes, betalings aan die SAID en enige boetes wat opgedoen is.

Het jy geweet, nie alle belastingbetalers hoef ʼn inkomstebelastingopgawe in te dien nie?

Indien jou totale jaarlikse salaris verdien tussen 1 Maart 2015 – 29 Februarie 2016 vir die 2015/2016 jaar van aanslag (voor belasting) minder is as R350 000, hoef jy nie ʼn belastingopgawe in te dien nie op voorwaarde dat:

 

  • Jy ʼn inkomste van slegs een werkgewer ontvang;
  • Jy geen ander bronne van inkomste het nie soos huur, belasbare rente of ʼn motorvoertuigtoelaag;
  • Jy nie aftrekkings vir mediese uitgawes, bydraes tot ʼn uittredingsannuïteit of reisonkoste wil eis nie;
  • Jy rente ontvang het uit ʼn bron in Suid-Afrika wat nie die volgende oorskry nie:

◦R23 800 as jy jonger as 65 jaar is;

◦R34 500 as jy 65 jaar of ouer is; en

  • Dividende aan jou betaal is en jy tydens die 2016 jaar van aanslag ʼn nie-inwoner was.

As jy twee werkgewers of inkomstebronne het, insluitend onder andere vennootpensioen-inkomste en huur-inkomste, moet jy ʼn opgawe indien, selfs al is die totale inkomste onder R350 000.

 

Stawende dokumentasie

In die voorbereiding van jou belastingopgawe, moet jy alle stawende dokumentasie bymekaarmaak wat betrekking sal hê op relevante inkomste en inligting oor aftrekkings. Dit sal insluit:

  • Bankrekeningbesonderhede
  • Sertifikate wat jy ontvang het vir plaaslike rente-inkomste verdien
  • Voltooide bevestiging van diagnose van ongeskiktheidsvorm (ITR-DD), indien van toepassing
  • Finansiële state, indien van toepassing
  • IRP5/IT3(a)-sertifikaat/sertifikate van jou werkgewer of pensioenfonds
  • IT3(b) sertifikate vir beleggingsopbrengste
  • Logboek en dokumentasie wat sakereis-uitgawes bevestig
  • Sertifikate en kwitansies van mediesefondsbydraes
  • Sertifikate van uittrede-annuïteitsfondse

Jy moet alle stawende dokumentasie veilig bewaar vir ʼn tydperk van vyf jaar vanaf datum van indiening ingeval die SAID dit in die toekoms vereis. Waar ʼn oudit uitgevoer word of ʼn dispuut bestaan, mag dit nodig wees om dokumente vir langer as vyf jaar te hou.

As jy by ʼn SAID-tak indien, moet jy jou opgawe, alle stawende dokumentasie en oorspronklike bewys van jou identiteit (ID, tydelike ID, paspoort of bestuurderslisensie) saambring.

 

Belasting vir kleinsake-eienaars

 

Tipe onderneming:

Alleeneienaarskap

ʼn Alleeneienaarskap is ʼn sake-entiteit wat deur een individu besit en bedryf word waar daar geen onderskeid bestaan tussen die eienaar en die onderneming nie en alle winste en verliese die eienaar toekom. Die eienaar hoef nie die onderneming by die SAID te registreer nie maar moet die inkomste uit die onderneming in sy/haar belastingopgawe insluit.

 

Vennootskap

ʼn Vennootskap is ook nie ʼn aparte regspersoon of belastingbetaler nie. ʼn Vennootskap is ʼn assosiasie van tussen twee en twintig persone wat kontraktueel aan mekaar verbind is om ʼn gesamentlike, winsgenererende besigheid te bedryf. Elke vennoot dra geld, goedere of dienste tot ʼn fonds by, en stem saam dat enige winste tussen die vennote gedeel sal word soos per hulle kontrak. Elke vennoot word belas op sy of haar aandeel in die vennootskap se winste.

 

Privaat maatskappy

ʼn Privaat maatskappy is ʼn aparte regsentiteit en moet apart as ʼn belastingbetaler geregistreer word. In sekere omstandighede kan aandeelhouers aanspreeklik gehou word. Hierdie moontlike aanspreeklikhede kan betrekking hê op werknemersbelasting, BTW, bykomende belasting, boete of rente waarvoor die maatskappy aanspreeklik is.

 

Belastingregistrasie

Besighede moet by hulle plaaslike SAID-kantoor registreer om ʼn inkomstebelasting-verwysingsnommer te bekom. Jy moet binne 60 dae na jou besigheid ʼn aanvang geneem het, registreer deur ʼn IT77-vorm te voltooi.

ʼn Beslote korporasie of privaat maatskappy moet by die Registrateur van Maatskappy en Beslote Korporasies geregistreer wees om ʼn besigheidsregistrasienommer te bekom; die maatskappy sal dan outomaties as ʼn belastingbetaler geregistreer word.

Afhangende van onder andere omset, betaalstaatbedrae, invoer/uitvoer, kan jy aanspreeklik wees om te registreer vir ander belastings, aksyns, heffings en bydraes soos BTW, LBS, Doeane, Aksynsbelasting, Vaardigheidontwikkelingsheffings en Werkloosheidsversekeringsbydraes.

 

Die belasting wat jou besigheid sal moet betaal

Voorlopige belasting

Voorlopige belasting behels die betaling van twee paaiemente met betrekking tot inkomste ontvang of versamel tydens die relevante belastingjaar en ʼn opsionele derde betaling na afloop van die belastingjaar. Die eerste voorlopige belastingbetaling moet geskied binne ses maande na die aanvang van die belastingjaar en die tweede betaling nie later nie as die laaste dag van die belastingjaar. Die opsionele derde betaling is vrywillig en mag binne ses maande na afloop van die belastingjaar geskied indien jou rekenings op ʼn datum anders as die laaste dag van Februarie afsluit.

Vir ʼn belastingjaar wat op die laaste dag van Februarie eindig, moet die opsionele derde betaling binne sewe maande na die afloop van die belastingjaar geskied.

 

Werknemersbelasting

Werknemersbelasting (LBS) word van werknemers se verdienste afgetrek en op ʼn maandelikse basis aan die SAID oorbetaal. Hierdie belasting dien as ʼn belastingkrediet wat verreken word teen die finale inkomstebelasting-aanspreeklikheid van ʼn werknemer, wat op ʼn jaarlikse basis bepaal word. ’n Besigheid wat salarisse, lone en ander vergoeding aan sy werknemers bokant die belastingdrempel betaal, moet by die SAID registreer vir werknemers se belastingdoeleindes. Dit word gedoen deur die voltooiing van ʼn EMP 101-vorm en by die SAID ingedien. Na registrasie sal die werkgewer ʼn maandelikse opgawe (EMP 201) ontvang, wat voltooi moet word en saam met die betaling van werknemers se belasting ingedien word binne sewe dae van die maand wat volg op die maand waarvoor die belasting afgetrek is.

 

Direkteure se vergoeding

Die vergoeding van direkteure van privaat maatskappy/beslote korporasies is onderworpe aan werknemersbelasting. Vergoeding word dikwels eers laat in die belastingjaar/die volgende jaar bepaal, in welke geval die direkteure hulle lewenskoste uit hulle leningsrekenings finansier totdat hulle vergoeding vasgestel is. Om die probleem op te los dat geen maandelikse vergoeding  betaalbaar word waarvan werknemersbelasting teruggehou kan word nie, word ʼn formule gebruik om ʼn geskatte maandelikse vergoeding te bepaal waarvan die maatskappy werknemersbelasting moet aftrek.

ʼn Direkteur is nie geregtig daarop om ʼn werknemersbelastingsertifikaat (IRP5) te ontvang nie met betrekking tot die bedrag van werknemersbelasting deur die maatskappy betaal op die geskatte vergoeding indien die maatskappy nie die werknemersbelasting van die direkteur verhaal het nie.

 

Bron: Shepstone & Wylie

 

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150