Belastingfokus in 2016: Wat hou die toekoms in?

Dinsdag, Februarie 23rd, 2016

Betsie Strydom en Karuna Naidoo

 

 

 

Ons kan verwag dat 2016 belastingsgewys ’n interessante jaar gaan wees, met ’n nuwe finansminister wat kom met ’n belofte van ’n fokus op fiskale konsolidasie en verskeie sleutelstukke belastingwetgewing wat in die komende maande verorden gaan word.

 

Die wisselvalligheid van die geldeenheid as gevolg van gebeure wat in Desember 2015 begin het, het ’n verskerpte fokus op staatsfinansies tot gevolg gehad. Op 14 Desember 2015 het Pravin Gordhan, die huidige minister van finansies, ’n verklaring vrygestel waarin hy sê: “Ons sal op die pad van gesonde fiskale bestuur bly. Ons uitgaweplafon is onaantasbaar. Ons kan net ekstra geld uitgee as ons ekstra inkomste kry. Ons sal sonder voorbehoud met ons proses van fiskale konsolidasie voortgaan en ons sal ons skuld op die mediumtermyn konsolideer. Indien nodig, sal ons dit versnel deur óf uitgawes te besnoei óf selektiewe veranderinge aan ons belastingbeleid aan te bring. Insgelyks sal enige inkomsteverkrygende moontlikheid baie sorgvuldig oorweeg word om te verseker dat dit nie groei benadeel of die armes negatief raak nie.”

 

Daar is duidelike druk op die fiskus. As gevolg daarvan sal belastingfokusareas vir 2016 waarskynlik insluit daadwerklike pogings deur die staat om meer belasting in te samel (deur op belastingontduiking en die verbetering van insamelingsmeganismes te fokus); die inwerkingstelling van nuwe inkomstebronne (soos koolstofbelasting); en ’n verhoging van bestaande inkomstebronne (soos BTW).

 

Die Konsepwetsontwerp op Koolstofbelasting sal in fases in werking tree, waarvan die eerste op 1 Januarie 2017 sal begin en tot 1 Januarie 2020 sal duur. Dit sal koolstofbelasting instel, wat ’n omstrede besoedelingbelasting is wat die alreeds swaar belastinglas sal vererger. Koolstofbelasting sal opgelê word om fossielbrandstof by die bron te belas. Dit sal ook op nywerheidsprosesse, produkgebruik en grondstofgebruik van toepassing wees. Koolstofbelasting is deel van die inwerkingstelling van die staatsbeleid rakende klimaatsverandering en, in die woorde van die persvrystelling deur die nasionale tesourie, “wil dit ’n prys op koolstof plaas deur die besoedelaar te dwing om die eksterne koste van koolstofvrystelling te internaliseer”; m.a.w., die besoedelaar betaal. Daar is egter skeptisisme oor of dit emissies afkomstig van fossielbrandstof beduidend sal verminder.

 

In ooreenstemming met die verklarings deur Gordhan, kan 2016 die jaar wees waarin die BTW-koers verhoog word. Omdat hierdie belasting oor ’n breë basis gehef word, kan dit ’n beduidende bykomende tot die staatsinkomste bydra en ’n aankondiging in hierdie verband kan dus in die loop van die nasionale begrotingsrede gemaak word.

 

Voldoening aan die Algemene Verslagdoeningstandaard (CRS) sal ook vanjaar op die agenda wees. Die CRS is ’n gestandaardiseerde outomatiese uitruilmodel wat die kontroleringsreëls bevat wat finansiële instellings moet volg vir die insameling van en verslagdoening oor die inligting wat die outomatiese uitruil van finansiële inligting ondersteun. Suid-Afrika is daartoe verbind om van 2017 af saam met meer as 90 ander jurisdiksies te begin om inligting outomaties oor ’n breër front uit te ruil. Ten einde die standaard konsekwent en doeltreffend te implementeer, stel die Konsepwysigingswetsontwerp op Belastingadministrasiewette 2015, wysigings voor om seker te maak dat sekere finansiële instellings oor alle rekeninghouers en beherende persone verslag doen ongeag of Suid-Afrika ’n internasionale belastingooreenkoms met hulle residensiële jurisdiksie het of nie en of die regsgebied tans ’n CRS-deelnemende jurisdiksie is.

 

Die Nasionale Vergadering het onlangs die Wysigingswetsontwerp op Belastingwette en die Konsepwysigingswetontwerp op Administrasiewette van 2015 aangeneem. Nie een van hierdie wetsontwerpe is reeds deur die president onderteken nie maar sal waarskynlik in 2016 verorden word. Die Konsepwysigingswetsontwerp op Belastingwette handel oor wesenlike veranderings aan die belastingwette, terwyl die Konsepwysigingswetsontwerp op Administrasiewette oor administratiewe bepalings van belastingwetgewing handel.

 

Ingevolge die Wysigingswetsontwerp op Belasting sal toekomstige aftreespaargeld in voorsorgfondse van 1 Maart 2016 af onderworpe wees aan verpligte annuïtisering (soos pensioenfondsspaargeld reeds is) maar, en dit is belangrik, dit is net van toepassing op toekomstige bydraes (spaargeld) wat van 1 Maart 2016 af gemaak word. Die verpligte annuïtisering is dus nie van toepassing op voorsorgfondsspaargeld tot op daardie datum nie en ook nie op voorsorgfondslede wat op 1 Maart 2016 55 jaar of ouer is nie. Hierbenewens is die annuïtiseringsvereiste nie van toepassing op voorsorg-, pensioen- en aftree-annuïteitsfondse as die fondswaarde op die aftreedatum minder as R247 000 is nie.

 

Volgens ander belastingveranderings moet wysigings wat voorgestel is om oordragprysingsdokumentasie te verbeter en die reëls vir beheerde buitelandse maatskappye en die digitale ekonomie te hersien, ook in 2016 vir kommentaar gereed wees.

 

Bron: Bowman Gilfillian

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170