Jacques Myburgh
Dis weer sulke tyd. Jou bloedjies moet teruggaan skool toe. Jy sit met jou hande in die hare want hulle het al hulle skryfbehoeftes die vorige jaar verloor en jy moet weer opdok vir nuwe handboeke. Om sake te vererger het die Desembervakansie ’n lelike duik in jou bankrekening gemaak.
Volgens Fin24 moet ouers begroot vir die volgende skooljaar. “Teen die einde van die jaar word enige iets wat met skool te doen het opsy gestoot tot die volgende jaar. Die meeste ouers bekommer hulle ’n dag of twee voor die skool begin oor dié kostes; dit is dan wanneer skoolgoedere se kostes verhoog en ouers se geld min is,” sê Kirsten Reynolds van MyBucks.
Afgesien van hoë skoolfooie, meen Reynolds die koste van skoolboeke, skryfbehoeftes en vervoer word ook gereeld deur huishoudings onderskat.
Reynolds het vier wenke opgestel vir ouers voor die nuwe skooljaar afskop:
1. Beplan
Kyk na jou kind se lys van boeke en skryfbehoeftes en bepaal of daar items van die vorige jaar is wat weer gebruik kan word. Indien jy ouer kinders het, kyk of jy hulle skryfbehoeftes of boeke weer kan gebruik vir jou jonger kinders – dieselfde geld vir skooluniforms.
2. Koop die nodige so gou as moontlik
Dit is altyd ’n goeie idee om goedere te koop voor paniek in die winkels toesak. Gaan dus voor die naweek aanbreek.
3. Wees kreatief
Die meeste kinders hou van die nuutste animasieflieks. Daar is ’n groot verskeidenheid van skryfbehoeftes wat deur die nuutste fliek- of animasiekarakter geïnspireer is.
4. Koop aanlyn:
Die meeste handelaars het aanlynwinkels. Jy kan só kostes vergelyk in die gemak van jou eie huis. Wees ook op die uitkyk vir twee-vir-die-prys-van-een-uitverkopings. Party handelaars bied ook afslag aan sekere skole – kyk of jou kind se skool daarvoor kwalifiseer.
Foto krediet:
Oops! We could not locate your form.