• Teken in
  • Verskeie statistieke en menings bestaan oor aftrede en hoe om te spaar sodat jy eendag onafhanklik kan aftree. Die een ding wat al hierdie syfers en menings gemeen het, is dat die oorgrootte meerderheid (ongeveer 95%) van Suid-Afrikaners nie onafhanklik kan aftree nie en dat bitter min van ons genoeg (en lank genoeg) vir aftrede spaar. Dit beteken slegs 5% van ons hoef nie eendag in ’n lang ry te gaan staan vir ’n staatspensioen nie, hoef nie vir familie of vriende vir geld te vra nie, hoef nie ons bates te verkoop om ’n inkomste te kry nie en sal nie na aftrede sukkel om ’n bestaan te voer nie. Dit is ’n bitter klein gedeelte van die bevolking.

    Die finansiële omgewing rakende aftrede is baie kompleks. Voor aftrede is daar verskeie maniere om daarvoor voorsiening te maak, verskeie belastingimplikasies op jou bydraes en onttrekkings, en verskillende maatskappye met produkte wat kompleks voorkom. By aftrede is daar ook ’n klomp opsies beskikbaar en die implikasies van elkeen moet deeglik oorweeg word. Na aftrede is inkomstevolhoubaarheid en -groei en inflasionêre risiko’s alles faktore wat ’n rol speel en in ag geneem moet word. Om die aftree-omgewing nog meer kompleks te maak, moet veranderinge in die regulatoriese omgewing en selfs in die wette (Wet op Pensioenfondse, Inkomstebelastingwet) in ag geneem word.

    Duidelik moet daar voor, tydens en ná aftrede besluite geneem word wat die verskil tussen ’n gemaklike aftrede en ’n aftrede gekenmerk deur kommer en sukkel kan beteken. Ongeag in watter lewensfase jy op die oomblik is, is dit noodsaaklik om by kundiges uit te vind of jy op die regte pad is wat aftreevoorsiening betref. Dit is ook belangrik dat die kundiges met wie jy gesels jou huidige situasie aan die hand van illustrasies kan verduidelik.

    Moenie bang wees om vrae oor jou aftrede te vra nie. Moet veral ook nie bang wees vir die antwoorde wat jy dalk gaan kry nie. Vind so gou as moontlik uit of jy nog op die regte spoor is en wat die moontlike implikasies is van die besluite wat jy moet neem. Gesels met ’n betroubare finansiële adviseur, of kontak Solidariteit Finansiële Dienste om meer oor voorsiening vir aftrede uit te vind.

     

    Aftree Sakrekenaar
    Top

    Registreer / Register

    Maak toe / Close