Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies

Vrydag, Februarie 17th, 2017

Justine Krige

 

Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman te nader.

Dit is belangrik om te weet dat artikel 69(d) bepaal dat “as” ʼn verbruiker al hierdie remedies uitgeput het, hy hom dan kan wend tot ʼn hof met jurisdiksie om die dispuut aan te hoor. Wat is die uitwerking van hierdie bepaling? Beteken dit dat die howe moet weier om sake aan te hoor as verbruikers hulle nader voordat hulle, byvoorbeeld, ʼn klagte by die Kommissie ingedien het? Presies hierdie kwessie het opgeduik in die saak van Joroy 4440 CC v Potgieter and Another NNO 2016 (3) SA 465 (FB).

 

Die Joroy-saak

In hierdie geval wou die applikant terugbetaling hê van die koopprys wat hy die respondent vir ʼn motorvoertuig betaal het. Hy het sy eis by die hooggeregshof in Bloemfontein ingestel en sy lyn van aksie was gebaseer op artikel 55 en artikel 56 van die CPA, wat handel met ʼn verbruiker se reg op goeie gehalte goedere en dienste.

Die respondent het die standpunt ingeneem dat die hof nie die jurisdiksie het om die saak aan te hoor nie weens die feit dat die uitwerking van artikel 69(a), reg vertolk, is dat die applikant nie al die ander remedies uitgeput het waarvoor in artikel 69(a) tot artikel 69(c) voorsiening gemaak word nie. Dit was gemene saak dat die applikant nie hierdie remedies uitgeput het nie. Die debat voor die hooggeregshof het dus gegaan om die regte vertolking van artikel 69(d).

 

Artikel 69 van die CPA bepaal soos volg:

ʼn Persoon bedoel in artikel 4(1) mag poog om enige reg ingevolge hierdie Wet of ooreenkomstig ʼn transaksie of ooreenkoms af te dwing, of andersins enige dispuut met ʼn verskaffer op te los deur:

  1. die saak direk na die Tribunaal te verwys indien sodanige direkte verwysing in die geval van die bepaalde dispuut toegelaat word;
  2. die saak na die toepaslike ombud met jurisdiksie te verwys indien die verskaffer aan die jurisdiksie van enige sodanige ombud onderworpe is;
  3. indien die aangeleentheid nie ʼn verskaffer bedoel in paragraaf (b) aangaan nie:
  • die aangeleentheid te verwys na die toepaslike bedryfsombud wat kragtens artikel 82(6) geakkrediteer is, indien die verskaffer aan enige sodanige ombud onderworpe is;
  • by die verbruikershof van die provinsie met jurisdiksie oor die aangeleentheid aansoek te doen, indien daar sodanige verbruikershof is, onderworpe aan die wet wat daardie verbruikershof tot stand bring of beheer;
  • die aangeleentheid na ʼn ander alternatiewe dispuutoplossingsagens bedoel in artikel 70 te verwys;
  • ʼn klagte ooreenkomstig artikel 71 by die Kommissie in te dien; of
  • ʼn hof met jurisdiksie oor die aangeleentheid te nader indien alle ander remedies wat vir daardie persoon kragtens nasionale wetgewing beskikbaar is uitgeput is.

 

By die beslegting van die aangeleentheid het die hof gelet op die beginsel wat deur die konstitusionele hof verwoord is in Chirwa v Transnet Limited & Others 2008 (4) SA 367 (CC), ten effekte dat indien ʼn gespesialiseerde raamwerk deur die wetgewer vir die oplossing van dispute geskep is, partye as ʼn algemene beginsel hul eise deur sulke raamwerke moet hanteer.

Hierbenewens het die hof gelet op die voor die hand liggende betekenis van die woord “as” soos dit in artikel 69(d) voorkom. Hy het beslis dat wat die artikel beoog, is dat slegs “as” die remedies wat in artikel 69(a) tot artikel 69(c) van die CPA uiteengesit word, uitgeput is (byvoorbeeld die remedies van kla by die Kommissie of die verwysing van ʼn dispuut na die Tribunaal), sal die hof sy diskresie gebruik om ʼn saak aan te hoor waarin regshulp ingevolge die CPA versoek word. Hy het spesiaal verwys na die Ombudsman vir die Motorbedryf , wat kragtens die CPA ingestel is om hierdie tipes dispute te bereg. Die hof het gevolglik die aansoek van die hand gewys.

 

 

Bron: Cliffe Dekker Hofmeyr

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170