Advies om ʼn motor by ʼn privaat koper te koop

Vrydag, Junie 3rd, 2016

Wat kan meer opwindend wees as om ʼn nuwe motor aan te skaf? Al jou dagdrome om met jou nuwe stel wiele op die snelweg te ry, gaan gepaard met ʼn sekere mate van huiwering, veral as jy van ʼn privaat koper koop. Nie net handig jy ʼn groot klomp geld oor vir ʼn motor wat jou vir nog baie jare veilig en betroubaar van A tot B moet kry nie, maar daar is ook veiligheidskwessies wanneer jy by ʼn vreemdeling koop.

Kom ons kyk van naderby na die risiko’s verbonde aan die koop van ʼn motor by ʼn privaat verkoper – en hoe jy hulle kan uitskakel.

 

Die vrae

Na jy ure op die web rondgeswerf het – of deur motortydskrifte geblaai het – het jy ʼn motor gevind waarin jy belangstel. Wat is volgende? Voordat jy reël om dit te toetsbestuur, vra die verkoper die volgende vrae om te verseker die motor is nie ʼn foefie nie:

  • Waarom word die motor verkoop?
  • Waarvoor is dit gebruik?
  • Hoe oud is die motor en hoeveel kilometers het dit afgelê?
  • Was dit in enige ongelukke?
  • Het die motor gereeld troeteldiere en kinders vervoer?
  • Het die motor ʼn volle diensrekord en oorspronklike registrasiedokumente?
  • Het die motor ʼn padwaardigheidsertifikaat nie ouer as 60 dae nie?
  • Sou jy daarteen beswaar hê as die motor geneem word vir ʼn onafhanklike ondersoek?
  • Sou jy beswaar hê as ek nagaan of die motor gesteel is? (Dit kan gedoen word met TransUnion se Voertuig Navraagverslag).

Die verkoper se antwoorde op hierdie vrae sal natuurlik bepaal of jy die motor wil toetsbestuur. Die afwesigheid van registrasiedokumente en ʼn padwaardigheidsertifikaat is bepalende faktore aangesien jy nie die motor in jou naam kan registreer daarsonder nie, so ook besware teen vrae oor onafhanklike ondersoeke of gesteeldevoertuigverslae.

 

Die toetsrit

Indien die motor, en die verkoper, die eerste rondte vrae slaag, is jou volgende stap om die motor vir ʼn toetsrit te neem. Dit is waar jou veiligheid eerste kom. Die volgende veiligheidswenke is ʼn moet:

  • Moenie die toetsrit alleen doen nie – neem altyd iemand saam met jou.
  • Vertel ʼn vriend of familielid waarheen jy gaan, en indien moontlik vra iemand om jou in ʼn ander voertuig te volg.
  • Ontmoet die verkoper by ʼn polisiestasie of ander besige, veilige plek.
  • Moenie die verkoper na jou huis of werkplek nooi nie.
  • Vra die verkoper om sy/haar ID-dokument saam te bring.

Indien die verkoper jou met ʼn slenter probeer vang, sal jou versoeke hom ontmoedig en sal hy waarskynlik met ʼn verskoning kom om jou nie te ontmoet nie. Dit is ʼn teken – beweeg aan!

 

Die aanvanklike inspeksie

Doen ʼn inspeksie van die voertuig as deel van jou toetsrit en kyk vir enige tekens van ongelukskade – byvoorbeeld, ongelyke verfwerk. Maak seker dat jy die bakwerk nagaan vir kollerige of dowwe areas en ‘lemoenskil’ of ‘visoë’ – almal onmiddellike rooi vlae. Laastens, kyk na die seëls om die deure en onder die sye van die enjinkap – hersproeiwerk kan slordig wees morsig en jy kan nie verf maklik van rubber verwyder nie.

Jy moet ook nagaan of die lugversorging, CD-speler, luidsprekers, elektriese vensters en ander skakelaars in werkende toestand is – dit kan alles duur wees om te herstel as die motor eers joune is. Laastens, gaan ook na of die spaarwiel, domkrag en wielsleutel in plek en in ʼn goeie toestand is.

 

Van kop tot tone met DEKRA

As jy na ʼn toetsrit en eerste inspeksie steeds in die motor belangstel, neem dit na ʼn betroubare inspeksiefasiliteit soos DEKRA vir ʼn deeglike ondersoek. Enige sigbare groot foute met die voertuig – insluitend ongelukskade soos ʼn gebuigde onderstel of beskadigde suspensie – sal gedurende die inspeksie opgetel word.

 

Die transaksie

Nadat die motor die inspeksie geslaag het, mag jy gereed voel om die volgende stap te neem om dit te koop. Indien moontlik, voltrek die finansiële transaksie met regsbystand. Vra jou prokureur of iemand met die nodige kennis om jou by te staan in die opstel van dokumente en briewe – en reël vir ʼn betalingsooreenkoms met die verkoper. Vra dat hy jou afskrifte stuur van al sy besonderhede: ID, bestuurderslisensie en selfs bewys van woonadres. Dit sal aan hom toon jy meen besigheid. Onthou, as iets verkeerd loop en jy het net ʼn hy-het-gesê/sy-het-gesê situasie, het jy geen verweer nie, indien enige.

Die belangrikste – moenie vir die motor betaal alvorens jy die sleutel en die spaarsleutel het nie. Die verkoper sal waarskynlik ʼn deposito van een of ander aard verlang, maar om ten volle vir die voertuig te betaal voordat jy dit het, is baie riskant.

Jy mag ook oorweeg om ʼn escrow-diens te gebruik om vir die motor te betaal. Dit beteken dat in plaas daarvan om die verkoper direk te betaal, jy die nodige fondse in ʼn betroubare derde-partyrekening inbetaal. Hierdie fondse word deur die escrow-diens aan die verkoper vrygestel slegs nadat sekere voorwaardes nagekom is, byvoorbeeld nadat jy die motor ontvang en ondersoek het.

 

Die rit

En nou, uiteindelik, kan jy jou nuwe stel wiele vir daardie rit op die snelweg neem, met die vertroue dat jy jou geld wyslik bestee en goed belê het vir die toekoms. Maak net seker die motor is verseker voordat jy agter die wiel inskuif.

 

Bron: AA

 

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161