4 goed wat jy nié moet doen as jy jou huis verkoop

Dinsdag, September 20th, 2016

Wanneer potensiële kopers by jou huis aankom, is hulle vol hoop. Hulle sien hulself bak in die kombuis en kinders wat in die tuin speel. Die meeste van hulle dink:”Kan dit my huis word?” Hulle het reeds navorsing oor jou omgewing gedoen en weet wat jou prys is. Nou kom hulle net kyk of jou huis die “ditsem”-faktor het, teenoor die “jeg!”-faktor.

Dan kyk hulle van naderby. Hulle sien ʼn gemors in die oprit en verf wat afpeul by die fassieborde. Baie gou vra hulle die agent om aan te hou ry ─ en hou aan kyk.

So, wat doen die meeste verkopers verkeerd? Elaine Chetty, lisensiehouer van Seeff Richards Bay, beskryf die vier grootste foute wat jy moet vermy as jy jou huis wil verkoop.

 

1. Moenie voorkoms van buite ignoreer nie

Hoe jou huis van die sypaadjie af lyk, is baie belangrik. Dit is die spreekwoordelike eerste indruk. As jou huis van buite af aanloklik lyk ─ ʼn werf wat in stand gehou is, versorgde tuin en vars verf ─ sal potensiële kopers daarin belangstel. Indien nie, dink hulle dalk die binnekant is net so verwaarloos ─ en hulle beweeg aan.

 

2. Moenie die koper lastig val nie

Maak jouself skaars as jy jou huis skou. As jy toevallig by die huis is, groet die potensiële kopers en laat hulle ongesteurd saam met die agent deur die huis loop. Gee hulle ʼn kans om hulle hul rusbanke in die gesinskamer of hul eetstel in die eetkamer voor te stel. Gee hulle ruimte om te bespreek wat hulle sien. Sommige verkopers oorval die koper omdat hulle dink dat enige nuweling al die besonderhede van elke renovasie en elke hoekie sal wil weet. Moenie dit doen nie. Los die koper uit.

 

3. Vermy daardie “ons leef hier”-voorkoms

Voornemende kopers wil nie jou warboel sien nie. Dit trek die aandag af en dit maak dit moeilik vir hulle om hulself in jou huis voor te stel. ʼn Gemors kan dikwels aspekte van die huis verberg wat iemand anders sou oorreed om te koop. Hou die huis netjies as jy verkoop en bêre alle familiefoto’s en memorabilia. Probeer om soveel oop, skoon ruimtes te skep as wat jy kan. Maak toonbanke en ander oppervlakke skoon. Selfs die broodrooster en versapper moet uit die oog wees as jy jou huis skou. Dit sal ideaal wees as jy die tyd het om al die vertrekke ʼn vars laag verf te gee. Dit is nie nodig om ʼn binnenshuise versierder te huur nie, maar gaan jou huis deur met ʼn onbevooroordeelde oog. Is dit warm en aanloklik en sag op die oog?

 

4. Moenie reuke laat rondhang nie

As jy rook of troeteldiere het, sal jou huis waarskynlik ʼn reuk hê. Hoewel jy dalk daaraan gewoond is, sal ander mense dalk nie daarvan hou nie. Om die reuk van troeteldier-urien uit matte te haal, is moeilik; jy sal waarskynlik spesiale oplossings of ʼn stoomskoonmaker nodig hê. Vir sover dit los matte betref, sal jy waarskynlik nuwes moet koop. As daar ʼn katsandboks is, vervang dit elke dag solank jy die huis skou.

As jy rook, probeer soveel moontlik buite rook. Die meeste nierokers is sensitief vir die reuk van rook. Nie alleen sal hulle wil loop nie, maar hulle vind dalk ook die vooruitsig om die rookreuk uit die huis te kry ontmoedigend. As daar ʼn swaar reuk in die huis is van jare se binnenshuise rook, probeer deur die mure te was en moenie vergeet van die gordyne, lampskerms en alles waarop teer en harpuis van die rook kan aanpak nie.

Probeer koeksoda vir ongewenste reuke. Sprinkel dit oral in die huis op die meubels en op die matte. Los dit vir ʼn dag sodat die korrels die reuke kan absorbeer en stofsuig dit dan. Jy sal dit dalk ʼn paar keer moet doen.

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170