8 goeie geldgewoontes wat jy vandag kan leer

Vrydag, Februarie 5th, 2016

Wenk 1: Lees oor finansies

Bestee 30 minute een keer per week om oor persoonlike finansies te lees. Lees ʼn boek of aktuele artikel. Deur jouself voortdurend op te voed oor geldsake, sal jy meer kundig wees wanneer jy dit wil bestee.

 

Wenk 2: Skeduleer ʼn weeklikse begrotingsvergadering

Die enigste manier om by ʼn maandelikse begroting te hou is om jou vordering gereeld aan te teken en te volg. Bestee een keer per week 15 minute (miskien ʼn Sondagaand of Maandagoggend) en kontroleer of jou bankbalans ooreenstem met wat dit behoort te wees. Indien nie, kyk waar jy in die komende week kan besnoei.

 

Wenk 3: Identifiseer slegte geldgewoontes

Jy ken jouself. Jy weet waar jou bestedingswakhede lê. ‘n Vinnige verwysing na jou maandelikse bankstaat sal dit ook bevestig. Wees eerlik en maak ʼn lys van jou slegte finansiële gewoontes. Noudat jy weet wat dit is wat jou van finansiële sukses weerhou, kan jy begin om hulle uit te skakel.

 

Wenk 4: Kweek goeie geldgewoontes een op ʼn slag

Daar is baie gawe geldgewoontes wat jou met verloop van tyd finansieel verantwoordelik en stabiel sal maak. Kweek hulle een op ʼn slag. Wag totdat ʼn spesifieke gewoonte tweede natuur is voordat jy die volgende een byvoeg.

 

Wenk 5: Pak ʼn kosblik en kook slim

Om ʼn kosblik vir die werk te pak en slim te kook is nie net gesonder nie maar ook kostedoeltreffend. Dit mag byvoorbeeld dalk nie duur lyk om elke dag ʼn R30-R50 middagete by die kantien of die wegneemete-plek om die hoek te koop nie … maar oor 20 werksdae kan die bedrag R600-R1000 beloop. Deur jou eie middagete tuis voor te berei en maaltye doeltreffend te beplan, kan jy baie geld spaar.

 

Wenk 6: Moenie jou bonus/belastingterugbetaling uitgee nie

Om jou bonus of belastingterugbetaling nolens volens te spandeer is baie aanloklik. Die oordoen van jou slaapkamer … ʼn klomp nuwe uitrustings … ‘n gesinsvakansie … ens. Dis normaal om jouself te wil bederf. ʼn Goeie gewoonte om egter aan te leer is om dit in ʼn spaarrekening te plaas sodra jy dit ontvang en dit later (saam met ander spaargeld) te gebruik vir iets waardevoller, soos jou kinders se opvoeding, aftrede, ens. Alternatiewelik kan jy dit gebruik om skuld af te betaal sodat jy die maandelikse paaiemente wat jy moet betaal, kan verminder. Om nie daardie ekstra fondse onmiddellik te spandeer nie sal ʼn meer geldbewuste gewoonte kweek.

 

Wenk 7: Outomatiseer jou spaargeld

Deur jou spaargeld outomaties oor te plaas in rekenings waartoe jy geen toegang het nie, sal jy daarvan begin vergeet. Dit is maklik om te spaar as jy dit as ʼn “moet spaar” uitgawe sien wat aan die begin van elke maand afgetrek word.

 

Wenk 8: Skaf ʼn kleingeldbottel aan

Plaas jy waarde op geld? Wat van die kleingeld onder in jou handsak, of die muntstukke in jou laai by die werk? Leer om geld te respekteer, selfs in sy eenvoudigste vorm. Maak ʼn kleingeldbottel en gooi al jou los kleingeld daarin. Wanneer dit vol is, neem dit bank toe en plaas die geld in jou spaarrekening. Jy sal verbaas wees om te sien hoeveel dit kan wees.

 

Bron: DebtRescue

Ander Artikels

Kry só die beste agent as jy huis verkoop
Vir baie van ons gaan die verkoop van ’n eiendom gepaard met hoë vlakke van angstigheid en onheil. So, waar kry mens iemand wat jy kan vertrou om jou deur die gevare en slaggate van die verkoopstransaksie te stuur? Volgens die Rawson Eiendomme is daar ’n paar belangrike goed om na op te let.   […]
Inkopies kan terapeuties wees
Dit is al gesê dat om op ʼn inkopie-tog te gaan negatief konnotasies het. Onder andere word materialisme en selfbevrediging voorgehou as redes om nie te koop nie. Om te koop en loerkoop (“window-shopping”) kan egter terapeuties wees, help jou om verandering te hanteer en verbeter jou bui. Moenie inkopie-terapie sommer afmaak as iets ligsinnig […]
Ken jou regte as ʼn deeltiteleienaar
Om in ʼn deeltitelkompleks te bly, het baie voordele. Dit kan egter minder aangenaam wees om te bly in ʼn kompleks wat deur andere bestuur word, veral as die voorsitter van die regspersoon hom of haar verbeel dat hy of sy meer magte as enigeen van die ander inwoners het. Laat ons dit duidelik stel: […]
1 2 3 160