Deeltitel: Als wat jy oor heffingverhogings moet weet

Maandag, Junie 6th, 2016

Anton Kelly

 

 

ʼn Algemene klagte in deeltitelskemas is dat die trustees die heffing met XYZ belaglike persentasie verhoog het. Maar is dit werklik die geval? Hoe word die onvermydelike heffingverhoging uitgewerk en deur wie?

 

Die voorgestelde begroting

Die proses begin wanneer die trustees – of die besturende agent namens of volgens die trustees – die begroting vir die komende finansiële jaar voorberei. Beide die Wet op Deeltitels en die voorgeskrewe reëls is heeltemal spesifiek oor hoe dit gedoen moet word en die tipes uitgawes wat oorweeg moet word. Die Wet noem herstelwerk, instandhouding, munisipale tariewe, elektrisiteit, water, versekeringspremies en ander uitgawes. Die relevante reël spesifiseer ʼn beraming per item van verwagte inkomste en uitgawes.

Dit bring die eerste belangrike punt oor heffingverhogings te berde: Die begroting moet gespesifiseerd wees. Die trustees, met of sonder die besturende agent se bystand, moet beraam watter bedrag nodig is vir die bestuur van die skema en die onderhoud van die algemene eiendom en hulle moet hierdie items in die begroting insluit. Hulle moet so na as moontlik beraam wat elk van hierdie items gaan kos. Hulle moet kwotasies verkry vir soveel van hierdie items as moontlik: versekering, tuindienste, sekuriteitsdienste ens. ʼn Paar van die lyn-items mag onseker wees: water- en elektrisiteitverhogings en die rimpeleffek van brandstofverhogings, byvoorbeeld, maar hierdie uitgawes moet so akkuraat as moontlik beraam word.

 

Die verhoging moet nie op ʼn vaste persentasie gegrond wees nie

Dis nie goed om ʼn persentasie uit die duim te suig of dit op die nuutste Verbruikersprysindeks te grond nie. Dit is amper onvermydelik dat daar ʼn verhoging gaan wees en natuurlik kan daardie verhoging uitgedruk word as ʼn persentasie van die vorige heffing, maar ʼn persentasie is nie die basis waarop die heffing verhoog moet word nie. Die gespesifiseerde benadering hierbo verduidelik, is die wyse waarop die hele begroting bereken moet word; ʼn persentasieverhoging moet nie net eenvoudig voorgestel word nie. Om bloot voor te stel dat die heffing met ʼn sekere persentasie verhoog word sonder om elke lyn-item te beraam, mag lei tot ʼn tekort aan die einde van die komende finansiële jaar.

 

Eienaars keur die begroting goed waarna heffings verhoog word

Die voorgestelde begroting word uitgestuur saam met die kennisgewing van die Algemene Jaarvergadering sodat eienaars dit kan bestudeer en enige vrae of kommentaar wat hulle mag hê, kan voorberei. By die AJV word die begroting oorweeg en deur die eienaars goedgekeur. Dit kan in sy oorspronklike vorm goedgekeur word of in ʼn gewysigde vorm, wat die volgende belangrike punt te berde bring: Die eienaars het die geleentheid om die begroting te verander – hulle is in beheer!

 

Trustee-besluit is nodig vir regsaanspreeklikheid

Die res van die proses is eintlik outomaties: Die trustees moet vergader en die heffing verhoog en hulle doen dit deur ʼn formele trustee-besluit te neem. Dit is ʼn uiters belangrike deel van die proses want om die trustee-besluit te neem is die aksie wat eienaars regsaanspreeklik maak om die heffing te betaal. Die trustees moet dan die deelnamekwotas [of artikel 32(4) reël as daar een is] toepas op die totale begrotingsbedrag vereis vir die nuwe finansiële jaar om die bedrag te bepaal wat elke eienaar moet betaal, en in watter paaiemente, en dan elke eienaar skriftelik in kennis stel van hulle heffingsverpligtinge. Hierdie proses moet binne veertien dae na die AJV voltooi word. Dit is ook die tyd waarin die trustees die rentekoers moet bepaal op agterstallige heffings indien hulle dit nie al gedoen het nie.

 

Slot

In ʼn skema wat behoorlik bestuur word, is dit die eienaars wat die besluit neem wat die heffing verhoog wat hulle moet betaal deur die goedkeuring van die begroting op die AJV. Eienaars moet hierdie proses verstaan sodat hulle kan besef hoe belangrik dit is om die AJV by te woon en deel te wees van die besluitneming wat hulle sakke direk raak!

 

 

Bron: Paddocks

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170