7 swak geldgewoontes wat jy jou kinders dalk leer

Vrydag, Junie 19th, 2015

Die meeste mense wil graag hê dat hulle kinders met goeie finansiële gewoontes groot word.

 

As ouer leer jy jou kinders dat geld nie aan bome groei nie. Jy leer hulle om te spaar en hulle sakgeld goed te beheer. Kinders leer egter deur dop te hou – weerspreek jy onbewustelik jou goedbedoelde raad deur ʼn swak voorbeeld te stel? Danelle van Heerde, hoof van adviesprosesse by Sanlam Persoonlike Finansies, sit sewe swak geldgewoontes uiteen wat jy moontlik vir jou kinders aangee:

 

  1. Jy is nie in beheer van jou maandelikse begroting nie. Om nie jou onkoste elke maand behoorlik te beplan nie, mag daartoe lei dat jy aan die begin van elke maand luukshede koop en gevolglik aan die einde van die maand nie genoeg geld oor het vir noodsaaklikhede nie  – soos om vir jou kind se beloofde skooluitstappie te betaal. Hierdie tipe bestedingspatroon mag in jou kinders se eie lewens wortel skiet namate hulle grootword.

 

  1. Jy praat nie openlik oor geld nie. Jy hoef nie in besonderhede, byvoorbeeld wat jy verdien, in te gaan nie, maar kinders moet leer hoe julle as gesin julle finansies hanteer. Gaan dit daaroor om die gaafste dinge moontlik te besit, of gaan dit ook daaroor om geld weg te sit vir moeilike tye? Indien jy en jou gade verskillende bestedingsgewoontes het, is dit belangrik dat julle albei kompromieë aangaan en op ʼn begroting vir sekere dinge ooreenkom. Om uitgawes vir jou gade weg te steek – soos daardie duur nuwe skoene wat jy gekoop het – stel ʼn baie swak voorbeeld vir jou kinders.

 

  1. Jy spaar nie. Om hier ʼn voorbeeld te stel is moeilik, aangesien jou kinders nie werklik kan sien hoe jy geld spaar nie. Dit is egter ʼn goeie idee om hulle te vertel dat jy dit doen en waarom – byvoorbeeld, vir julle seevakansie aan die einde van die jaar. Moedig hulle aan om van jongs af te spaar – 5 is nie te jonk nie – deur aan hulle klein bedraggies te gee wat hulle vir kort tydperke moet spaar. Om hulle verder te motiveer kan jy ooreenkom om die bedrag wat hulle spaar te ewenaar.

 

  1. Jy gebruik kredietkaarte onverantwoordelik. Deesdae dink kinders dikwels geld is afkomstig uit die plastiekkaarte in jou beursie. Verduidelik die verskil tussen ʼn debiet- en kredietkaart, sowel as die verskil tussen die rente wat jy verdien en die rente wat jy betaal. Dit is ʼn goeie idee om nou en dan in jou kinders se teenwoordigheid met kontant te betaal.

 

  1. Jy is wisselvallig in jou weiering om aan eise toe te gee. Wanneer inkopies gedoen word, is dit maklik om by die kasregister aan kinders se geneul toe te gee. Moedig hulle aan om hulle eie sakgeld te gebruik of dit te spaar vir iets wat hulle wil aanskaf.

 

  1. Jy verwar begeerte met behoefte. Jou kinders moet leer dat mens nie alles wat jy in die lewe wil hê kan kry nie en dat elke gesin se finansiële omstandighede verskil. Dikwels gee ouers hulle kinders al die dinge wat hulle nooit as kinders gehad het nie, maar die gevolg is ʼn gebrek aan begrip oor die waarde van geld. Kinders moet leer om kompromieë aan te gaan, en dat hulle slegs dit kan kry wat die gesin kan bekostig.

 

  1. Jy probeer ander ouers oortref. Kinders hoef nie die duurste verjaarsdagpartytjie, matriekafskeidrok of buitemuurse aktiwiteite te kry nie. Jy hoef byvoorbeeld nie die mees uitspattige partytjie in die buurt te hou sodat jou kinders pret kan hê nie. Gegrond op jou begroting kan jy hulle voor keuses stel – verkies hulle ʼn springkasteel of ʼn nar? Hulle moet kan onderskei wat belangrik is – om die tyd saam met hulle vriende te geniet, nie om die meeste geld uit te gee nie.

 

“Om jou kinders goeie geldgewoontes te leer begin by jouself. Wat jy doen is net so belangrik, indien nie belangriker nie, as wat jy vir jou kinders sê. Jou voorbeeld kan die basis vorm van lewenslange gewoontes – maak dus seker jy voeg die daad by die woord in jou eie finansiële gewoontes op ʼn daaglikse basis,” sluit Van Heerde af.

 

Bron: Sanlam (www.sanlam.co.za)

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161