5 geldwenke wat ouers hul tieners kan leer

Vrydag, April 29th, 2016

Omdat goeie finansiële gewoontes nie altyd op skool geleer word nie, is dit ouers se plig om seker te maak dat hul tieners toegerus is om die wêreld van geldbestuur die hoof te bied.

“Tieners dink gewoonlik aan baie goed, maar om finansieel slim te wees, is gewoonlik nie een daarvan nie,” sê Eunice Sibiya, hoof van verbruikersopvoeding by FNB. “Dit is belangrik om ons tienerkinders geldvaardighede te leer sodat hulle goeie geldbesluite kan neem wat hulle vir die res van hul lewens kan gebruik.”

 

Stel ’n begroting op om doelwitte te bereik

Sakgeld is gewoonlik die eerste soort geld wat tieners sal bestuur. Gebruik die geleentheid en leer hulle om te begroot.

“Verplig jou tiener om van die begin af te begroot,” stel Sibiya voor. “Hy moet verstaan dat hy ’n beperkte bedrag geld het wat bestuur moet word.”

Begeer hy of sy ’n duur gadget of modebybehore? Maak seker dat hy verstaan wat dit kos en hoe hy sy begroting kan struktureer om dit te kan bekostig.

“Wat jy ook al doen, moenie in die gat trap om hom net ‘uit te help’ deur jou kredietkaart deur te trek of sommer net vir hom die geld te gee nie. Dit stuur die verkeerde boodskap,” sê Sibiya.

 

Dis nie maklik om geld te verdien nie

“Dis nie maklik om geld te verdien nie, so moenie dit maklik laat lyk nie,” sê Sibiya. “Laat jou tiener sy sakgeld verdien deur takies rondom die huis te doen en stel streng reëls in as hy nie die nodige take voltooi nie.”

Ouers kan selfs hul kinders aanmoedig om deeltydse werk te doen om ekstra kontant te verdien. Dit sal hulle ’n sin van verantwoordelikheid gee sowel as begrip vir die tyd en moeite wat nodig is om ’n inkomste te verdien.

 

Jy spandeer nie altyd deur geld te gebruik nie

Maak jou kind bewus van waarna mens alles moet oplet as dit by geld kom. Hy gee geld uit al oorhandig hy nie fisies geld nie.

“Daar is baie maniere om geld uit te gee waarvan jou tiener dalk nie eers bewus is nie,” sê Sibiya. “Gebruik hy ure lank data of praat op sy selfoon maar sien nooit die rekening nie, of verwag hy van jou om hom met jou motor na ’n vriend se huis aan die anderkant van die dorp te neem?”

Alledaagse aktiwiteite soos reis, die gebruik van water, elektrisiteit of data en selfoongebruik laat rekeninge oploop wat hy nooit sal sien nie.

“Maak hom bewus daarvan dat dit alles uitgawes is vir jou, die ouer. Indien nodig, wys vir hom die rekeninge wat aan die einde van die maand inkom,” stel Sibiya voor.

 

Spaar sal jou altyd in ’n goeie posisie plaas

Mens moet begin spaar sodra jy toegang tot geld het.

“Leer jou tiener een goue reël – en dit is om minstens 10% weg te sit van alle geld wat hy kry,” sê Sibiya. “Open vir hom ’n spaarrekening en moedig hom aan om sy geld, ook sakgeld, enige verjaarsdaggeld en geld wat met deeltydse werk verdien is, in hierdie rekening te deponeer.”

Kies ’n rekening met gunstige rentekoerse en gee hom van tyd tot tyd toegang daartoe, maar hoogstens een maal per kwartaal. Dit sal hom die dissipline van spaar leer en hom help om te besluit wanneer en waarvoor hy toegang tot die geld wil hê en dit wil spandeer. Die geld sal ook geleidelik meer word tot ’n redelike bedrag wat enige tiener sal beïndruk.

“Dit sal demonstreer hoe mens op die lang duur voordeel trek uit saamgestelde rente en spaar en die dissipline van spaar inskerp,” sê Sibiya.

 

Krediet waar dit verskuldig is

Krediet in die een of ander vorm is deel van almal se lewe en hoe gouer jou tiener die voordele en slaggate van krediet verstaan, hoe beter.

“Gaan sit by jou tiener en vra hom uit oor wat hy onder krediet verstaan,” sê Sibiya. “Dit is belangrik om hom te wys op al die verskillende soorte krediet waarmee hy te doen sal kry.”

Die maklikste manier om dit te doen, is om ’n lys te maak van die verskillende soorte krediet wat jy gebruik, sowel as die rentekoerse op, byvoorbeeld, jou huislening, klererekenings en ander lenings.

“Om jou tiener toe rus met vaardighede om geld te bestuur en verstaan, sal hom vir die res van sy lewe op die regte pad plaas,” sluit Sibiya af.

 

Bron: FNB

 

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170