5 geheime om kruideniersware se raklewe te verdubbel

Vrydag, Januarie 8th, 2016

Jennifer Calonia

 

In ‘n onlangse studie oor voedselvermorsing het die National Resources Defense Council (NRDC) in die VSA ontdek dat 40 persent van die voedsel in daardie land nie geëet word nie, wat gelyk is aan 20 pond of ongeveer 9 kg vermorste kos per persoon elke maand.

Die vermorsing van kos en geld kan egter vermy word met die regte voedselbergingsplan.

 

1. Vries brood

Die vrieskas is die grootste voordeel van moderne voedselberging. Om kos te vries, is ‘n uitstekende manier om ‘n item se raklewe van ‘n paar dae tot maande of in sommige gevalle selfs jare te verleng. Een van die algemeenste foute met voedselberging is om oortollige brood in die koelkas te berg pleks van in die vrieskas.

Dit lyk heeltemal natuurlik om ‘n ekstra brood in die koelkas te hou totdat jy gereed is om dit te gebruik, maar die vrieskas is ‘n beter opsie as skimmel ‘n probleem is. Volgens Bread.com sê die Britse bakkersfederasie die gemiddelde temperatuur in ‘n koelkas is 41 °F (5 °C), wat ‘n temperatuur is wat brood gou laat oud word.

Daarteenoor behou ‘n vrieskas brood se varsheid vir tot drie maande. Dit is maklik om snye brood teen kamertemperatuur of in ‘n roosteroond te ontvries wanneer dit gebruik gaan word. ‘n Hele brood kan ook by kamertemperatuur ontvries word, maar dit kan ook in foelie toegedraai en in die oond geplaas word om die proses te versnel.

 

2. Berg piesangs afsonderlik

Sekere vrugte en groente gee gasse af wat teenproduktief is vir die langtermynberging van voedsel. Een so ‘n gas is etileen, wat natuurlik deur vrugte soos piesangs afgegee word as deel van die rypwordproses. As piesangs langs ander vrugte en groente geplaas word wat vir etileengas sensitief is, kan die piesangs die rypwordtyd van die ander produkte verkort.

Dit is nuttig om onryp vrugte te laat ryp word (ek gebruik dikwels piesangs om avokado’s vinniger te laat ryp word deur albei in ‘n papiersak te plaas), maar dit kan ook vrugte en groente vinniger laat bederf as wat jy dit kan verbruik.

Appels en tamaties word ook deur etileengas geaffekteer.

 

3. Hou eiers weg van die yskasdeur

Nuwe koelkaste het futuristiese ontwerpe om soveel kruideniersware as moontlik te akkommodeer. Een item wat egter nadelig is vir goeie voedselberging, is ingeboude eierhouers in koelkasdeure.

Dit lyk sinvol om eiers in daardie houers te plaas, want dit is mos waarvoor dit gemaak is – maar eiers word gouer sleg wanneer dit in die deur geberg word. Eiers moet te alle tye ‘n gelykmatige en lae temperatuur hê, maar die gedurige oop- en toemaak van die deur skep ‘n temperatuurwanbalans wat die lewe van ‘n goeie eier verkort.

Volgens tipiese voedselbergingsriglyne moet eiers in hulle oorspronklike kartonhouers gehou word en verkieslik onder en agter in die koelkas gehou word vir die koudste omgewing.

 

4. Verkoel kos onmiddellik

Van temperatuur gepraat, wanneer kos sleg word, is hoë temperature dikwels die skuldige. Ouer lede van my familie het al baie vir my gesê as jy warm kos van die oond onmiddellik in die koelkas sit, sal dit vinniger sleg word en boonop ook ander items in die koelkas laat sleg word.

Die Departement van Gesondheid van die deelstaat Washington verduidelik egter dat jy eintlik meer kwaad as goed doen deur gekookte kos op die kombuistafel te laat afkoel voordat jy dit in die koelkas plaas. As sulke warm kos per abuis langer as twee uur op die tafel gelaat word, kan dit ‘n teelaarde vir bakterieë word en moet dit weggegooi word. Die Departement waarsku ook dat voedsel wat in temperature van 90 °F (32 °C) of meer gelaat word, binne ‘n uur weggegooi moet word.

Groot stukke gaar kos moet altyd in kleiner dele verdeel word sodat die temperatuur daarvan gelykmatig kan stabiliseer in die koelkas.

 

5. Weet hoe om vervaldatums te lees

Die frase “vervaldatum” word algemeen erken as die datum wanneer voedsel en drank as onveilig beskou word om ingeneem te word. Daar is egter drie verskillende tipes datums op verpakte voedsel, insluitende “beste voor”-datum en “verkoop teen”-datum. Die NRDC merk op dat “beste teen”-datums nie op nasionale vlak gereguleer word nie en dus die vervaardiger se manier is om jou in te lig oor die item se piekgehaltedatum.

 

  • Verkoop teen: Hierdie datum is die laaste datum waarop winkels die produk op hulle rakke mag uitstal vir verkoop. Jy word aangemoedig om items met “verkoop teen”-datums voor daardie datum te koop.
  • Beste indien gebruik teen (of voor): Vir die beste geur of gehalte gebruik vervaardigers ‘n “beste indien gebruik teen”-datum sodat klante die beste ondervinding van hulle produkte kan kry. Die USDA (US Department of Agriculture) beklemtoon dat dit nie ‘n koop- of veiligheidsdatum is nie.
  • Gebruik teen: Weer eens toon die “gebruik teen”-datum net piekgehaltetyd van ‘n produk. Dit word net deur vervaardigers bepaal, maar die FDA (Food and Drug Administration) beveel aan dat items wat verby hulle “gebruik teen”-datum is, weggegooi moet word – met ander woorde, as jy twyfel, gooi dit weg.
  • Geslote of gekodeerde datums: Hierdie datums is die vervaardigers se verpakkingsnommers en is net vir hulle gebruik bedoel.

 

Bron: GoBankingRates

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161